Sagaria 14:1-21

  • Ware aanbidding sal oorwin (1-21)

    • Olyfberg sal middeldeur skeur (4)

    • Jehovah sal een wees, en sy naam een (9)

    • Plaag sal Jerusalem se teenstanders tref (12-15)

    • Huttefees gevier (16-19)

    • Elke pot sal vir Jehovah heilig wees (20, 21)

14  “Die dag kom, ’n dag wat aan Jehovah behoort, wanneer jou* besittings wat as oorlogsbuit geneem is, in jou verdeel sal word.  Ek sal al die nasies teen Jerusalem bymekaar laat kom vir die oorlog. Die stad sal ingeneem en die huise gestroop word, en die vrouens sal verkrag word. En die helfte van die stad sal in ballingskap gaan, maar dié wat van die volk oorbly, sal nie uit die stad verwyder word nie.  “Jehovah sal teen daardie nasies gaan oorlog voer+ soos wanneer hy veg op die dag van oorlog.+  In daardie dag sal sy voete op die Olyfberg+ staan, wat oos van Jerusalem is. Die Olyfberg sal middeldeur skeur, van die ooste* na die weste,* en ’n baie groot vallei sal ontstaan. Die helfte van die berg sal na die noorde skuif, en die ander helfte na die suide.  Julle sal na die vallei van my berge vlug, want die vallei van die berge sal tot by Asel strek. Julle sal moet vlug, soos julle gevlug het weens die aardbewing in die dae van koning Ussiʹa van Juda.+ En Jehovah my God sal kom en al die heiliges sal saam met hom wees.+  “In daardie dag sal daar geen kosbare lig wees nie+ – dinge sal gestol* wees.  En daardie dag sal bekend word as Jehovah se dag.+ Dit sal nie dag of nag wees nie, en teen die aand sal daar lig wees.  In daardie dag sal lewende waters+ uit Jerusalem vloei:+ die helfte daarvan na die oostelike see*+ en die ander helfte na die westelike see.*+ Dit sal in die somer en in die winter gebeur.  En Jehovah sal Koning oor die hele aarde wees.+ In daardie dag sal Jehovah een wees,+ en sy naam een.+ 10  “Die hele land sal soos die Aʹraba+ word, van Geba+ af tot by Rimmon,+ suid van Jerusalem. Jerusalem sal verhef word en op haar plek bewoon word,+ van die Benjamin-poort+ af tot by die plek van die Eerste Poort en tot by die Hoekpoort, en van die Hanaʹnel-toring+ af tot by die wynperse van die koning. 11  En mense sal in haar woon, en daar sal nooit weer ’n vloek van vernietiging wees nie.+ Die inwoners van Jerusalem sal in veiligheid woon.+ 12  “En dít is die plaag waarmee Jehovah al die volke sal tref wat teen Jerusalem oorlog voer:+ Hulle vlees sal verrot terwyl hulle op hulle voete staan, hulle oë sal in hulle oogholtes verrot, en hulle tong sal in hulle mond verrot. 13  “In daardie dag sal Jehovah groot verwarring onder hulle veroorsaak. En die een sal die hand van die ander vasgryp en hulle sal mekaar aanval.+ 14  Juda sal ook betrokke wees by die oorlog in Jerusalem. En die rykdom van al die omliggende nasies sal bymekaargemaak word: groot hoeveelhede goud en silwer en klere.+ 15  “So ’n plaag sal ook die perde tref, sowel as die muile, die kamele, die donkies en al die vee wat in daardie kampe is. 16  “Almal wat oorbly van al die nasies wat teen Jerusalem kom, sal elke jaar+ gaan om voor die Koning, Jehovah van die leërmagte,+ neer te buig* en om die Huttefees* te vier.+ 17  Maar as enigiemand uit die families van die aarde nie na Jerusalem gaan om voor die Koning, Jehovah van die leërmagte, neer te buig nie, sal hulle geen reën kry nie.+ 18  En as die mense van Egipte nie kom en die stad binnegaan nie, sal hulle geen reën kry nie. Die plaag wat Jehovah oor die nasies bring wat nie kom om die Huttefees te vier nie, sal oor hulle kom. 19  Dit sal die straf wees vir die sonde van Egipte en die sonde van al die nasies wat nie kom om die Huttefees te vier nie. 20  “In daardie dag sal die woorde ‘Heiligheid behoort aan Jehovah!’+ op die klokkies van die perde geskryf wees. En die kookpotte+ in die huis van Jehovah sal soos die bakke+ voor die altaar wees. 21  En elke kookpot in Jerusalem en in Juda sal heilig wees en aan Jehovah van die leërmagte behoort. En almal wat offerandes bring, sal inkom en van die kookpotte gebruik om daarin te kook. In daardie dag sal daar nie meer ’n Kanaäniet* in die huis van Jehovah van die leërmagte wees nie.”+

Voetnote

D.w.s. die stad waarna daar in vs. 2 verwys word.
Of “die sonsopkoms”.
Lett. “die see”.
Of “bewegingloos”, asof dit styf is weens koue.
Die Middellandse See.
Die Dooie See.
Of “Fees van Tydelike Skuilings”.
Of “om die Koning . . . te aanbid”.
Of moontlik “handelaar”.