Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Byeenkomsprogramme wat “gehoor en gesien” word

Byeenkomsprogramme wat “gehoor en gesien” word

1 JULIE 2024

 Hedendaagse Getuies van Jehovah kom al meer as 130 jaar lank by jaarlikse streekbyeenkomste bymekaar. Hierdie programme sluit nou meer as 40 verskillende toesprake in asook musiek, onderhoude en video’s. As die program mense moet bevoordeel en motiveer, moet dit duidelik “gehoor en gesien” word (Lukas 2:20). Hoe word jou donasies gebruik om seker te maak dat almal by hierdie streekbyeenkomste kan baat vind, maak nie saak waar hulle bly nie?

Oudio/Video-stelsels aangepas vir elke plek waar streekbyeenkomste gehou word

 Baie moderne stadions en sale in Westerse lande het alreeds oudio/video-stelsels. Hoekom installeer ons dan dikwels ons eie toerusting wanneer ons so ’n plek vir ’n streekbyeenkoms huur? David, wat saam met die Wêreldhoofkwartier se Uitsaai-afdeling werk, verduidelik: “Baie min fasiliteite wat ons huur, is ontwerp om ’n gehoor te hê wat meer as ses ure aandagtig na ’n program moet luister wat hoofsaaklik uit mense bestaan wat praat. Byvoorbeeld, sportstadions gebruik meestal openbare klankstelsels om kort aankondigings te maak en om kort stukkies musiek te speel. Hulle videoskerms wys die telling, advertensies en dele van die wedstryd wat teruggespeel word. Maar ons wil hê dat die gehoor na langer video’s moet kyk en elke woord wat van die platform af kom, duidelik moet hoor en verstaan.”

 Al die plekke waar die streekbyeenkomste gehou word, is uniek, en daarom moet elke oudio/video-stelsel aangepas word. Sodra die plek gekies is waar ’n streekbyeenkoms gehou gaan word, besluit die Uitsaai-afdeling by ons takkantore waar mense wat dit gaan bywoon, gaan sit en hoeveel mense daar sal inpas. Die broers bepaal dan waar die luidsprekers en videoskerms geïnstalleer moet word en besluit hoe hulle gekoppel moet word. Hulle maak dan ’n lys van al die toerusting wat hulle nodig gaan hê om seker te maak dat almal die program kan sien en hoor.

Broers van die Plaaslike Uitsaai-afdeling (LBD) volg ’n plan wat goed ontwerp is

 Oudio/video-stelsels raak selfs meer ingewikkeld by streekbyeenkomste waar die program in meer as een taal aangebied word. As die program in ’n ander taal getolk moet word, moet die tolk die program kan sien en hoor. Dan word die vertaling oor ’n aparte radiokanaal uitgesaai aan dié wat die taal verstaan. Te danke aan spesiale mediaspelers kan video’s gesinchroniseer word vir almal wat die program bywoon, selfs as die oudio in agt verskillende tale uitgesaai word. David sê: “Hierdie stelsels is baie ingewikkeld, en die vrywilligers wat daarmee werk, het baie opleiding nodig.”

 Die meeste takkantore het oudio/video-toerusting wat elke jaar gebruik word. Waar dit die geval is, reël die broers dat elke deel van die toerusting van een streekbyeenkoms na die volgende een geneem word. Die takkantoor in die Verenigde State spandeer elke jaar meer as R2 696 000 om streekbyeenkomstoerusting te vervoer. Maar dit is nog steeds goedkoper as om ekstra toerusting aan te koop en in stand te hou. Steven, wat gehelp het om toesig te hou oor die oudio/video by ’n streekbyeenkoms in Kanada, het gesê: Ons oudio/video-span doen hulle bes om seker te maak dat elke liewe deeltjie daar is, nagesien is, veilig weggepak is en gereed is vir die volgende program.”

Om toerusting te kry en in stand te hou

 Om oudio/video-toerusting te huur, is verskriklik duur, en die toerusting is dikwels van swak gehalte of in ’n slegte toestand. Daarom koop ons gewoonlik die toerusting wat ons nodig het. Op die oomblik kos ’n binnenshuise LED-videoskerm van vyf by drie meter ongeveer R443 000, en selfs ’n mikrofoonkabel van 15 meter kos omtrent R370. So die Uitsaai-afdeling werk saam met die Aankope-afdeling om die ‘koste te bereken’ voordat enige toerusting aangekoop word (Lukas 14:28). Byvoorbeeld, hulle vra vrae soos: Hoeveel mense sal by die toerusting baat vind? Is die aankoop van toerusting die beste manier om in die behoefte te voorsien? Het ons voldoende plek om die toerusting te stoor en het ons die nodige gereedskap en opgeleide vrywilligers om dit in stand te hou?

 Ons doen gereeld elektroniese en meganiese herstelwerk om die oudio/video-toerusting langer te laat hou en op hierdie manier bydraes te spaar. Ons gebruik ook sterk houers om die toerusting te vervoer en skade te beperk. En hierdie houers word ook gereeld herstel wanneer dit nodig is.

Om oudio/video-toerusting in stand te hou en te herstel, verleng die lewensduur daarvan

’n Goeie getuienis en ’n duidelike program

 Mense wat nie Getuies is nie, is beïndruk deur die gehalte van die oudio/video by ons streekbyeenkomste. Byvoorbeeld, by ’n streekbyeenkoms het ’n werknemer van een van die wêreld se grootste uitsaaiers gepraat oor die gehalte van ons inhoud en produksie. Jonathan, wat help met die opstel van oudio/video-toerusting by die streekbyeenkomste en ook daarmee werk, het gesê: “Hy was verbaas om uit te vind dat die lede van ons span almal vrywilligers is en nie professionele mense is nie. Hy het gesê dat dit sy maatskappy vyf dae sou vat om die toerusting te installeer wat ons in ’n dag en ’n half geïnstalleer het.” By ’n ander streekbyeenkoms het die fasiliteitsbestuurder gesê: “Hier was al baie professionele mense in die musiek- en videobedryf, maar ek het nog nooit mense gesien wat so professioneel is en weet wat hulle doen soos julle nie!”

Broers en susters geniet die program

 Hoe het jy al by die oudio/video-stelsels by die streekbyeenkoms baat gevind? Miskien voel jy soos David, wat in Engeland bly. Hy sê: “Ek is 88 jaar oud en het al my hele lewe lank streekbyeenkomste bygewoon. Maar nou is dit makliker as ooit tevore om heeltemal op die program te fokus. Danksy die pragtige video’s voel dit asof die hele program vinniger verbygaan en is die boodskap duideliker en bly dit dieselfde.” Micheal, wat in Nigerië bly, sê: “Omdat ons broers nie meer sukkel om die spreker te hoor of die video’s te sien nie, is dit vir hulle makliker om te konsentreer en verloor hulle nie belangstelling gedurende die program nie.”

 Terwyl jy hierdie jaar die ‘Maak die goeie nuus bekend!’-streekbyeenkoms bywoon, neem die tyd om na te dink aan al die werk wat gedoen is om jou te help om die program te sien en te hoor. Ons is baie bly dat julle donasies, insluitende dié wat deur middel van donate.pr418.com gemaak word, gehelp het om dit moontlik te maak. Baie dankie.