Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Die goeie nuus volgens Jesus – Agter die skerms

Die goeie nuus volgens Jesus – Agter die skerms

1 OKTOBER 2024

 Een van die dinge waarna Jehovah se Getuies hierdie jaar baie uitgesien het, is om na Episode 1 van Die goeie nuus volgens Jesus te kyk. Miljoene mense het dit alreeds gesien. En dit is net die eerste van 18 episodes! Wat gebeur agter die skerms om hierdie videoreeks moontlik te maak, en hoe het jy hierdie pogings ondersteun?

Hoe daar vir die akteurs en videospan gesorg word

 By die takkantoor van Australasië, waar die grootste deel van die Goeie nuus-reeks verfilm word, is daar omtrent 50 tot 80 mense op die stel terwyl elke toneel geskiet word. a Middagete, aandete en peuselhappies word aan al die akteurs en die videospan bedien. Maaltye word lank vooruit beplan. Ester, wat in die kosafdeling werk, verduidelik: “Ons koop kos van verskillende verskaffers sodat ons bestanddele van ’n goeie gehalte teen die beste prys kan kry. En ons pas die hele tyd ons resepte aan om seker te maak dat ons nie kos mors nie.” Elke dag spandeer ons omtrent R72 per persoon aan kos.

 Ons akteurs en videospan het nie net kos nodig nie, maar ook beskerming. Beskerming teen wat? In Australië is daar baie warm en sonnige dae, maar daar is ook baie gevaarlike ultraviolet lig van die son. Om almal soveel as moontlik teen die son en teen hitte-uitputting te beskerm, rig hardwerkende broers en susters tente en areas op waar mense kan afkoel. Hulle maak ook seker dat daar oorgenoeg sonskermmiddel, sambrele en water is. Kevin, wat met Oudio/video-dienste werk, verduidelik: “Die meeste van die broers en susters wat hierdie werk doen, dien as pendelaars by Bethel. Hulle is nederig en vreugdevol terwyl hulle hierdie en baie ander take doen. Ons sou nie hierdie projek sonder hulle kon doen nie.”

Opnames op ander plekke

 Party tonele sal nie realisties lyk as dit by die takkantoor se geboude stelle of in die ateljee geskiet word nie. Hierdie tonele word dan op ander plekke verfilm. Om eertydse Bybeltonele te skiet waar daar geen kragdrade, geteerde paaie of moderne geboue is nie, moet die akteurs en videospan dikwels na afgeleë plekke reis. Hulle kostuums, toneelitems en toerusting moet opgepak, vervoer en dan veilig gehou word by die plek waar die tonele geskiet word. Voordat verfilming begin, maak die assistent-produksiekoördineerders seker dat daar kragopwekkers, skoon drinkwater en toilette beskikbaar is. Die akteurs en videospan bly by die huise van gasvrye plaaslike Getuies, in karavane, in hotelle of ander tipe akkommodasie.

Om op ander plekke op te neem het unieke uitdagings

 Opnames op ander plekke kan duur wees, ’n lang tyd neem en uitputtend wees vir almal wat aan die projek werk. So, in 2023 het die Bestuursliggaam goedkeuring gegee dat ’n muur met videoskerms wat R44,7 miljoen kos, gekoop moet word. Hierdie videomuur wys video’s in die agtergrond en laat dit lyk asof jy op ’n ander plek is. Die tegnologie gebruik videoskerms waarvan die beeld baie duidelik is en gebruik beligting wat gesinchroniseer is met dit wat op die skerms gewys word. Dit laat dit lyk asof die toneel buite verfilm word. As gevolg hiervan kan ons dit vermy om op ander plekke op te neem wat baie duurder sal wees. Darren, ’n lid van die Takkomitee van Australasië, verduidelik: “Om ’n videomuur te gebruik, help keer dat die akteurs uitgeput raak en laat die videospan toe om sekere tonele soveel keer as wat nodig is, te skiet. Byvoorbeeld, as ons buitekant ’n toneel verfilm, het ons net ’n paar minute om die sonsondergang te skiet voordat dit verdwyn. Maar met ’n videomuur kan ons ’n sonsondergang soveel keer as wat nodig is, herskep totdat ons iets kry waarmee ons tevrede is.”

Die pas geïnstalleerde videomuur word gekalibreer en getoets voordat verfilming begin

“Dit het . . . nie soos ’n opoffering gevoel nie”

 Honderde akteurs en selfs meer videospanlede is nodig vir elke episode van die Goeie nuus-reeks. Hoe voel hulle oor al die werk wat die broers en susters doen om vir hulle te sorg?

 Amber, wat meer as 700 kilometer vanaf haar huis in Melbourne gereis het om aan die projek deel te neem, het geskryf: “Vandat ek by die lughawe aangekom het, het die broers by Bethel so mooi na my gekyk. Baie Betheliete het my oorgenooi vir ’n ete of om ’n koppie tee te drink. Almal op die stel het my gemaklik en geliefd laat voel. My tyd hier was vol seëninge. Dit het glad nie soos ’n opoffering gevoel nie!”

 Derek werk saam met die produksiespan. Hy sê: “So baie afdelings het ons reg van die begin af ondersteun. Ek is dankbaar om broers en susters om my te hê wat hulle tyd, materiële dinge en energie vir hierdie projek opgeoffer het. Hulle is ondersteunend, gewillig en vriendelik. Jehovah het hulle en ons beslis geseën. Ek is oortuig dat hy nie net omgee oor die resultaat van ons werk nie, maar ook oor hoe ons die werk doen.”

 Dankie vir die ondersteuning wat jy aan hierdie videoreeks deur middel van jou donasies gegee het. Dit sluit die donasies in wat deur middel van donate.pr418.com gemaak is.

a Die takkantoor van Australasië hou toesig oor ons werk in baie lande, insluitende Australië en ’n hele paar ander lande in die Stille Suidsee. Die takkantoor is net buite Sydney, Australië, geleë.