Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Fasiliteite wat eer op ons Groot Onderrigter bring

Fasiliteite wat eer op ons Groot Onderrigter bring

1 JULIE 2023

 Jehovah hou daarvan om sy volk op te lei. Daarom het sy organisasie ’n paar skole begin om studente op te lei om hulle toewysings uit te voer. Een van daardie skole is die Skool vir Koninkrykspredikers (SKE). In onlangse jare het God se organisasie nie net aandag gegee aan die kurrikulum nie, maar ook aan die fasiliteite waar die teokratiese skole gehou word. Die hoofdoel is om dit makliker te maak vir die instrukteurs om opleiding te gee en die studente om te leer. Hoe help julle bydraes ons om hierdie doel te bereik?

Meer studente in ’n beter omgewing

 Teokratiese skole is jare lank by Koninkryksale en Byeenkomssale gehou. Hoekom het ons dan onlangs nog ’n paar fasiliteite gebou of opgeknap wat nou net gebruik word vir teokratiese skole? Kyk na drie redes.

 Groter behoeftes. Christopher Mavor, ’n helper van die Dienskomitee van die Bestuursliggaam, sê: “Takkantore het vir ons gesê dat hulle meer broers en susters nodig het om te help. Byvoorbeeld, in 2019 het die takkantoor in Brasilië geskat dat daar omtrent nog 7 600 SKE-gegradueerdes nodig is om te sorg vir die behoeftes van die takkantoor se gebied.” Die takkantoor in die Verenigde State het gesê dat daar ’n groot behoefte is vir gekwalifiseerde pioniers om ander op te lei in spesiale metro-getuieniswerk en getuieniswerk by hawens en in tronke. Daar is ook ’n behoefte aan broers om te dien in die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie en op die Hospitaalskakelkomitees. Gegradueerdes van SKE kan help met hierdie behoeftes.

 ’n Groter aantal studente. Baie takkantore het meer aansoeke van studente ontvang as wat hulle op die oomblik kan aanvaar. Byvoorbeeld, in Brasilië het die takkantoor omtrent 2 500 SKE-aansoeke in net een jaar ontvang. Maar omdat daar nie genoeg plekke was om die skool aan te bied nie, kon die takkantoor net 950 studente aanvaar.

 Gepaste akkommodasie. Wanneer studente die skool by ’n Koninkryksaal of ’n Byeenkomssaal bywoon, bly hulle gewoonlik in die huise van plaaslike broers en susters. Hierdie reëling werk goed in lande waar daar nie elke jaar baie klasse is nie. Maar waar daar ’n hele paar klasse is, is dit dalk nie vir die plaaslike verkondigers moontlik om blyplek vir ’n paar maande in die jaar aan die studente te voorsien nie. So fasiliteite is voorsien wat naby aan die klaskamer is en wat spesifiek ontwerp is vir die studente.

 ’n Fasiliteit met een klaskamer, sowel as behuising vir instrukteurs en omtrent 30 studente asook plek vir ondersteunende dienste, kan ’n hele paar miljoen rand kos, afhangende van die area en ander faktore.

Kenmerke van ’n skoolfasiliteit

 Skole word gewoonlik opgerig in ’n stil gebied buite ’n groot stad, maar wat naby openbare vervoer is. Daar word voorkeur gegee aan gebiede met ’n groot aantal verkondigers wat kan help met die werking van die skool en die instandhouding van die geboue en toerusting.

 Die fasiliteite het biblioteke, plekke om te studeer, rekenaars, drukkers en ander toerusting. Baie keer is daar ’n eetkamer waar studente en instrukteurs saam kan eet. Daar is ook genoeg plek vir hulle om te oefen en te ontspan.

 Die klaskamer word ook goed beplan. Troy, wat saam met die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie werk by Warwick, New York, sê: “Ons het die Teokratiese Skole-afdeling gevra om ons te help om klaskamers te ontwerp wat dit vir die studente makliker sal maak om te leer. Hulle het verduidelik hoe groot die klaskamers moet wees, hoe dit ontwerp moet word, sowel as watter tipe beligting en oudio-video-toerusting hulle nodig sal hê.” Zoltán, ’n SKE-instrukteur in Hongarye, sê oor die installering van die oudio-toerusting: “Aan die begin het ons nie mikrofone gehad nie, so ons moes dikwels die studente herinner om harder te praat. Maar nou dat daar ’n mikrofoon op elke lessenaar is, is die probleem opgelos!”

“Spesiale gaste van Jehovah”

 Watter uitwerking het die verbeterde fasiliteite op die instrukteurs en die studente gehad? Angela, wat die SKE in Palm Coast, Florida, VSA, bygewoon het, sê: “Dis ’n baie rustige omgewing. Alles is baie goed beplan, insluitende die klaskamer en ons kamers, sodat ons kan fokus op ons studies en om te leer.” Csaba, ’n instrukteur in Hongarye, waardeer die geleentheid om maaltye saam met die studente te eet. Hy sê dat by sulke geleenthede “die studente gewoonlik vir ons meer oor hulleself en die dinge wat met hulle gebeur het, vertel. Op hierdie manier leer ken ons die studente beter. As gevolg hiervan kan ons die kurrikulum beter aanpas by hulle behoeftes.”

 Studente en instrukteurs sien die verbeterde skoolfasiliteite as ’n seën van ons “Groot Onderrigter”, Jehovah (Jesaja 30:20, 21). ’n Suster in die Filippyne wat die SKE bygewoon het by ’n fasiliteit wat in ’n skool omskep is, sê: “Die skoolomgewing het ons herinner dat ons nie net studente is nie, maar spesiale gaste van Jehovah. Hy wil hê dat ons onsself moet geniet terwyl ons sy Woord deeglik studeer.”

 Skoolfasiliteite kan gebou, opgeknap en in stand gehou word as gevolg van julle bydraes, waarvan baie deur middel van donate.pr418.com gemaak word. Baie dankie vir julle vrygewigheid.

Ingang by ’n fasiliteit in Palm Coast, Florida, VSA

’n Voorbeeld van die tempel in Jesus se dag by ontvangs in Palm Coast, Florida, VSA

Studente kom aan by die Skool vir Koninkrykspredikers, Brasilië

’n Klas word aangebied, Brasilië

Studente kom aan by die Skool vir Koninkrykspredikers, Filippyne

Almal geniet middagete saam in die skool se eetkamer, Filippyne