Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Hoe slagoffers van rampe gehelp word

Hoe slagoffers van rampe gehelp word

1 FEBRUARIE 2021

 Gedurende 2020 was daar ’n hele paar natuurrampe, en die wêreldwye COVID-19-pandemie het ook daardie jaar begin. Hoe het Jehovah se Getuies dié gehelp wat daardeur geraak is?

 Gedurende die 2020-diensjaar a het die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam goedgekeur dat R417 566 240 vir noodleniging gebruik kon word. Dit het die slagoffers van meer as 200 rampe gehelp – onder andere die COVID-19-pandemie, ’n hele paar tropiese siklone, oorstromings in Afrika, voedseltekorte in Venezuela en droogte in Zimbabwe. Die bydraes het gehelp om te betaal vir kos, water, skuiling, klere en mediese sorg, asook basiese voorraad sodat skoonmaak-, herstel- en bouwerk gedoen kon word. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van die hulp wat gegee is.

 COVID-19. Regoor die wêreld het die pandemie ’n fisiese, emosionele en ekonomiese uitwerking op ons broers en susters gehad. Om hulle te help, is daar wêreldwyd meer as 800 Noodlenigingskomitees (DRC’s) op die been gebring. Hierdie komitees het die behoeftes van die broers gemonitor en vinnig verslag gedoen sodat die Koördineerderskomitee kon weet hoe, waar en wanneer hulle noodleniging moes gee.

 Regdeur die jaar het DRC’s gehelp dat baie broers en susters kos, water, sanitasieprodukte en basiese medisyne gekry het. Op party plekke het DRC’s ook saam met die plaaslike ouermanne gewerk om broers en susters te help om regeringshulp te kry.

 Mense wat nie Getuies is nie, het ook ons noodlenigingswerk raakgesien. Byvoorbeeld, Field Simwinga, streekkommissaris van Nakonde, Zambië, het vir ons broers gesê: “Ons is baie dankbaar dat julle die gesinne wat hierdeur geraak is, so gou gehelp het.”

 Voedseltekorte in Angola. As gevolg van die COVID-19-pandemie was daar nie genoeg kos in Angola nie, en dit het pryse baie laat styg. Dit was vir baie van ons broers en susters al hoe moeiliker om kos te koop.

Kospakkies is van Brasilië na Angola gestuur

 Die takkantoor in Brasilië is gevra om te help deur kospakkies na ons broers in Angola te stuur. Om die noodlenigingsfondse op die beste manier moontlik te gebruik, het die broers goeie navorsing gedoen oor die beste opsies om die kos te koop en te vervoer, en die kos is in grootmaat gekoop. Dit het omtrent so R328 per pakkie uitgewerk om dit te koop en te stuur, maar daar was amper 20 kilogram kos in elke pakkie, soos rys, boontjies en kookolie. Tot nou toe is 33 544 pakkies gestuur – altesaam 654 metrieke ton. Saam met plaaslike items het hierdie kospakkies gehelp om meer as 50 000 mense kos te gee!

 Hoe voel ons broers oor hierdie hulp? Alexandre, wat op ’n verafgeleë plek in Angola bly, sê: “Ek sien dit as ’n bewys dat Jehovah my liefhet en dat ek nie alleen is nie. Ek is belangrik vir Jehovah se organisasie!” Mariza, ’n enkelma, sê: “Jehovah het my gebed gehoor. Ek sê dankie vir hom en sy organisasie!”

Broers in Angola is dankbaar vir hulle noodvoorraad

 Droogtehulp vir Zimbabwe. Gedurende die 2020-diensjaar was daar ’n ernstige droogte in Zimbabwe, en miljoene mense het erg honger gely. Duisende Getuies in Zimbabwe het nie genoeg kos gehad nie.

 Vyf DRC’s is gevorm om te help om kos aan ons broers te voorsien. Honderde verkondigers het gehelp deur die kos te pak, voorraad te laai of hulle voertuie beskikbaar te stel. b Gedurende die 2020-diensjaar is R10 313 304,52 gebruik om te help om meer as 22 700 mense van kos te voorsien!

Broers in Zimbabwe kry hulp met kos (voor die pandemie)

 

 In party gevalle was die broers se eie kosvoorraad op teen die tyd dat die kospakkies daar aangekom het. Toe die kos daar aankom, het die broers Jehovah geloof. Party het selfs begin om Koninkryksliedjies te sing.

 In een gebied het twee Getuies wat weduwees is, na ’n vergadering in die gemeenskap gegaan waar ’n nieregeringsorganisasie (NRO) se aanbod om met kos te help, bespreek sou word. Maar die vergadering het al hoe meer soos ’n politieke vergadering geword, en daarom het die susters besluit dat hulle nie kon instem om te doen wat van hulle vereis was om hierdie kos te kry nie. Toe hulle daar weg is, is hulle gespot en is daar vir hulle gesê: “Moenie by ons kom kos soek nie!” Maar skaars twee weke later het ons broers in die gebied aangekom en vir ons susters kos gebring – lank voor die NRO se kos daar aangekom het!

“Jehovah het sy knegte nog nooit in die steek gelaat nie”, sê Prisca

 Noodleniging in Zimbabwe het ook tot ’n goeie getuienis gelei. Kom ons kyk byvoorbeeld na die ondervinding van Prisca wat in ’n klein dorpie bly. Al het die droogte dinge baie moeilik gemaak, het Prisca elke Woensdag en Vrydag in die bediening uitgegaan, selfs gedurende die ploegseisoen. Mense in haar dorpie het haar gespot en gesê: “Jy gaan jou gesin laat sterf van die honger met jou gepreek.” Dan het Prisca geantwoord: “Jehovah het sy knegte nog nooit in die steek gelaat nie.” Nie lank daarna nie, het ons organisasie vir haar noodvoorraad gestuur. Dit het party van Prisca se bure beïndruk, wat vir haar gesê het: “God het jou nog nooit in die steek gelaat nie, en ons wil meer van hom weet.” Sewe van haar bure luister nou na gemeentelike vergaderinge wat oor die radio uitgesaai word.

 Ons sal aanhou om deur rampe getref te word terwyl die einde al hoe nader kom (Matteus 24:3, 7). Julle vrygewige donasies deur middel van die verskillende metodes op donate.pr418.com word baie waardeer. Dit sal goed gebruik word om dié wat swaar kry te help wanneer hulle dit nodig het.

a Die 2020-diensjaar was vanaf September 2019 tot Augustus 2020.

b As gevolg van die beperkings van die COVID-19-pandemie moes ons broers permitte kry om kos af te lewer. Hulle het ook voorsorgmaatreëls getref om seker te maak dat hulle hulleself nie aan die virus blootstel nie.