HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Noodlenigingswerk in 2021 – Ons het nie van ons broers en susters vergeet nie
1 JANUARIE 2022
Gedurende die 2021-diensjaar a het die wêreld nog steeds swaargekry as gevolg van die COVID-19-pandemie. Soos ons in die artikel “Wêreldwye noodleniging vir ’n wêreldwye pandemie” verduidelik het, het ons miljoene rande aan noodlenigingswerk gespandeer as gevolg van die pandemie en meer as 950 Noodlenigingskomitees gevorm.
Die pandemie het beslis baie swaarkry veroorsaak, maar ons broers en susters regoor die wêreld is ook deur ander natuur- en mensgemaakte rampe geraak. In reaksie op meer as 200 sulke rampe het die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam goedkeuring gegee dat meer as R124 070 000 gespandeer word, bo en behalwe die geld wat vir COVID-19 voorsien is. Kyk na hoe julle donasies gebruik is om mense te help wat deur twee onlangse rampe geraak is.
Uitbarsting van die berg Nyiragongo
Op 22 Mei 2021 het die berg Nyiragongo, ’n vulkaan in die Demokratiese Republiek van die Kongo, begin uitbars. Die lawa wat gevloei het, het huise, skole en ’n wateropvangdam vernietig. Maar die lawa was nie die enigste gevaar nie. Ná die uitbarsting het giftige vulkaanstof dae lank op die stad Goma geval, en ’n hele paar klein aardbewings is opgeteken. Meer as die helfte van die mense in die stad is beveel om die stad te verlaat. Honderde duisende mense het gevlug, en party het na Rwanda gegaan.
Omtrent 5 000 Getuies van Jehovah was onder die mense wat hulle huise moes verlaat. Party het hulle huise verloor as gevolg van die uitbarsting, en ander se huise is beroof nadat hulle gevlug het. Die noodlenigingskomitees in Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo het die noodlenigingswerk georganiseer. Die takkantoor in die Kongo (Kinshasa) het die volgende oor een noodlenigingskomitee gesê: “Al was die situasie in die stad chaoties en selfs voordat die bevel gegee is dat mense die stad moes verlaat, het die komitee kos, water, beddegoed en klere begin versprei.” In een dorp waar meer as 2 000 van ons broers en susters bymekaargekom het, het ’n noodlenigingskomitee tente opgeslaan en maskers uitgedeel. Hulle het ook verduidelik hoe om die gevaar te verminder om COVID-19 en cholera te kry.
Binne drie maande ná die ramp het ons broers ses ton rys, ses ton mieliemeel, drie ton kookolie en drie ton water versprei. Om geld te spaar, het die takkantoor gereël om kos plaaslik in grootmaat te koop eerder as om duur kos van oorsee te bestel.
Een suster wie se nuwe huis deur die uitbarsting vernietig is, sê: “Ons was baie mismoedig en hartseer.” Maar toe het haar gesin materiële en geestelike hulp gekry. Sy sê nou: “Met Jehovah se hulp het ons nog steeds wat ons nodig het. Ons het gesien dat Jehovah ons las dra en dat hy dit vir ons makliker maak om ons probleme te hanteer.”
Venezuela se ekonomiese ineenstorting
Venezuela het al jare lank ernstige ekonomiese probleme. Ons broers en susters daar lewe onder moeilike omstandighede, en daar is voedseltekorte en al hoe meer misdaad. Maar Jehovah se organisasie het nie van hulle vergeet nie.
Gedurende die afgelope diensjaar is meer as R23 263 000 gespandeer om kos en seep te koop en te vervoer na gesinne wat hulp nodig gehad het. Die takkantoor in Venezuela het laat weet: “Dit is glad nie maklik om elke maand 130 ton kos regoor die land te vervoer en dan seker te maak dat dit by ons broers en susters uitkom wat die kos regtig nodig het nie.” Om seker te maak dat die kos nie vrot word nie, stuur die broers baie keer kos wat langer kan hou. Die takkantoor sê ook: “Ons koop meeste van die kos in grootmaat en in seisoen, sowel as wanneer pryse laer is. Dan kies ons die vervoermetode wat die goedkoopste sal uitwerk.”
Leonel, ’n lid van ’n Noodlenigingskomitee in Venezuela, hou baie van sy toewysing. Hy sê: “Noodlenigingswerk is spesiaal. Hierdie voorreg het my regtig aangemoedig nadat my liewe vrou as gevolg van COVID-19 gesterf het. Ek bly besig, en ek kan die broers en susters wat dit nodig het, help. Ek het persoonlik ondervind hoe Jehovah sy belofte hou om nie van sy volk te vergeet nie.”
’n Broer wat deur noodlenigingswerk gehelp is, het self in die verlede op ’n noodlenigingskomitee gedien. Hy sê: “Dit was nou my beurt om gehelp te word. Ons is nie net op ’n materiële manier gehelp nie. Die broers het ook vir my en my vrou gehelp om kalm te bly. Hulle het na ons omgesien, ons vertroos en ons aangemoedig.”
Party rampe gebeur met min of geen waarskuwing. Maar Jehovah se organisasie kan dikwels vinnig noodlenigingsvoorraad kry en aflewer, danksy julle donasies aan die wêreldwye werk. Party van die metodes om by te dra, word op donate.pr418.com beskryf. Ons waardeer julle vrygewigheid.
a Die 2021-diensjaar het op 1 September 2020 begin en op 31 Augustus 2021 geëindig.