Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Noodlenigingswerk word gedoen ten spyte van “oorloë en berigte van oorloë”

Noodlenigingswerk word gedoen ten spyte van “oorloë en berigte van oorloë”

27 MEI 2022

 In hierdie laaste dae verwag ons om van “oorloë en berigte van oorloë [te] hoor” (Matteus 24:6). Maar wanneer ons broers probleme het as gevolg van hierdie oorloë, kry hulle die ondersteuning wat hulle nodig het. Die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir 2022 – Nr. 3 het aanmoedigende inligting gegee oor die noodlenigingswerk wat in Oos-Europa gedoen word vir dié wat geraak word deur die oorlog in Oekraïne. Hoe word hierdie noodlenigingswerk gedoen terwyl daar ’n oorlog aan die gang is? Hoe het die noodlenigingswerk ons broers in Oekraïne gehelp?

Wat is nodig? Hoe word dit afgelewer?

 Op 24 Februarie 2022, die dag toe oorlog in Oekraïne uitgebreek het, het die Koördineerderskomitee ’n begroting vir noodlenigingswerk goedgekeur om ons broers in Oekraïne te help. Die takkantoor in Oekraïne het dadelik begin om items plaaslik te koop en te versprei deur middel van die 27 noodlenigingskomitees wat dit aangestel het.

 Om hierdie werk te ondersteun, het die broers by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dadelik begin dink aan hoe hulle die takkantoor in Oekraïne op ’n praktiese manier kan help. Die Koördineerders- en Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam het die Wêreldwye Aankope-afdeling gevra om saam met verteenwoordigers van die takkantore in Oekraïne en Pole te werk om met ’n plan van aksie vorendag te kom. Broers van die Aankope-, Versendings- en Regsafdelings van elke takkantoor, ’n lid van die Takkomitee in Oekraïne en lede van die Wêreldwye Aankope-afdeling het elke dag bymekaargekom om die werk te koördineer.

Noodlenigingspakkies bevat kos, items vir persoonlike sorg en handgemaakte kaartjies van aanmoediging

 Jay Swinney van die Wêreldwye Aankope-afdeling sê: “Ons moes eers vasstel wat nodig was. Ons wou kos en items vir persoonlike sorg gee wat die plaaslike broers gebruik. Maar om vas te stel wat nodig was, was net een deel van die probleem. Ons moes ook vasstel hoe om hierdie dinge op die veiligste en vinnigste manier moontlik in Oekraïne gedurende die oorlog af te lewer.”

 Teen 9 Maart 2022 het die broers geweet watter dinge ons broers en susters in Oekraïne nodig het. Bokse met basiese kositems, soos blikkies vleis en vis, graanprodukte, rys en boontjies, sou gegee word saam met items vir persoonlike sorg, soos seep en toiletpapier. Op daardie stadium was dit geskat dat voorraad van hierdie dinge wat een persoon vier weke sou hou, omtrent R1 000 sou kos. Omdat duisende van ons broers en susters heel moontlik hierdie dinge nodig sou hê, het die Koördineerderskomitee ’n baie groot begroting goedgekeur om hierdie hulp te voorsien. Maar hoe kon hierdie items afgelewer word sonder dat ons broers se lewens onnodig in gevaar gestel word?

 Op 13 Maart het twee broers van Pole ’n toetslopie gedoen en items van die takkantoor in Pole gevat na ’n plek naby Lviv, Oekraïne. In die dae voordat hulle vertrek het, het broers en susters by die takkantore in Pole en Oekraïne die twee vrywilligers gehelp om vir hulle reis voor te berei. Die takkantoor het die nodige vorms en dokumente ingevul sodat hulle oor die grens kon gaan om noodlenigingshulp te gee. Hulle het seker gemaak dat die broers se voertuie duidelike tekens gehad het om te wys dat hulle hulp voorsien. Hulle het ook saam met plaaslike broers in Oekraïne gewerk om vas te stel wat die vinnigste pad is wanneer die broers die grens oorgesteek het. Met hierdie voorbereiding en Jehovah se seën was die noodlenigingsvoorraad binne 24 uur nadat dit in Lviv afgelewer is, vir die noodlenigingskomitees gegee, en ons broers het veilig na Pole teruggekeer.

 Al was die eerste toetslopie suksesvol, het die broers minder as een ton noodlenigingsvoorraad afgelewer. Daar was omtrent nog 200 ton voorraad nodig! Hoe kon so ’n groot hoeveelheid so gou as moontlik vervoer en versprei word?

“U volk sal hulle gewillig aanbied”

 Nadat party op jw.org gelees het van hoe ons broers en susters swaarkry as gevolg van die oorlog in Oekraïne, wou mense regoor die wêreld hulle help. Baie mense wat ver daarvandaan bly, het geld aan die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies bygedra omdat hulle weet dat die geld op die beste manier moontlik gebruik sou word. Ander wat in aangrensende lande woon, kon van hulle tyd, energie en persoonlike middele gee om te help. Hier is ’n paar voorbeelde.

 In Pole het vrywilligers tienduisende pakkies met verskillende items bymekaargemaak, en kinders het kaartjies gemaak. Bartosz Kościelniak, ’n lid van die Aankope-afdeling van die takkantoor in Pole, sê: “Ek het al baie die vers in Psalm 110:3 gelees waar dit sê dat Jehovah se ‘volk hulle gewillig sal aanbied’. Maar nou het ek self gesien hoe die broers en susters mekaar ondersteun. Ek het gesien dat honderde vrywilligers bereid is om dadelik te kom en reg is om te werk. Dit het vir my gewys dat hierdie woorde regtig waar is.”

 Een van Jehovah se Getuies wat ’n internasionale maatskappy besit, het die gebruik van sy trokke sowel as die brandstof aangebied. Hy sê: “Dit is vir my ’n geleentheid om my liefde vir my broers en vir Jehovah te wys. Ek is so bly ek het aangebied om te help.” Daar word geskat dat meer as 7 700 liter brandstof geskenk is. Broers het ook hulle tyd en energie gebruik om amper 48 000 kilometer te ry om hierdie aflewerings te doen!

 Danksy die gewillige en liefdevolle werk van ons broers en susters is 100 ton kos, items vir persoonlike sorg en mediese voorraad in Oekraïne teen 28 Maart afgelewer. Dit is net 15 dae ná die eerste toetslopie! En as gevolg van die vrygewige donasies van goedere van broers en susters en verskaffers, was baie minder geld gespandeer aan hierdie noodlenigingsvoorraad. Tot nou toe het Jehovah se Getuies meer as 190 ton noodlenigingsvoorraad na Oekraïne gestuur. Hoe het dit ons broers gehelp?

‘Dit het ook julle liefde bevat!’

 Nadat hierdie voorraad in Lviv aangekom het, het noodlenigingskomitees dit regdeur Oekraïne versprei aan dié wat dit nodig gehad het. Noodlenigingsvoorraad is in verskillende stede afgelewer, party meer as 1 300 kilometer van Lviv af. Hoewel hierdie werk so effektief as moontlik gedoen is, het dit nog steeds tyd gevat. a

 Markus Reinhardt, ’n lid van die Takkomitee in Oekraïne, sê: “Gedurende hierdie krisis het baie broers eerstehands Jehovah se liefde ondervind. Hulle het ook gesien dat dit baie belangrik is om ten volle gehoorsaam te wees aan die riglyne van Jehovah se organisasie, selfs voordat ’n ramp gebeur. Byvoorbeeld, almal is aangemoedig om ’n paar weke se voorraad van kos en water in hulle huis te hou. ’n Ouerman met die naam Anton wat in Kijif dien, het oor die riglyne gesê: ‘Jehovah se organisasie het ons vir moeilike situasies voorberei, en ons is dankbaar daarvoor. Om ’n voorraad van kos en water sowel as ’n radio te hê, het letterlik ons lewens gered.’ Ons is so dankbaar dat die broers gehoorsaam was aan hierdie riglyne, want dit het die takkantoor tyd gegee om die nodige noodlenigingswerk te organiseer.”

 Hoe het ons broers gevoel nadat hierdie voorraad gekom het? Mikola en Zinaida, wat in Charkif bly, het die volgende gesê: “Ons is diep geraak deur julle besorgdheid. Baie dankie vir die kos en medisyne. Ons kan duidelik Jehovah se hand hierin sien.” Walentina woon in dieselfde gebied. Sy het gesê: “Vandat die oorlog begin het, moes mense in lang toue staan om kos te koop. Dit was nie altyd moontlik om te koop wat ’n mens nodig gehad het nie. Maar Jehovah het geweet dat ons hierdie probleem het. Hy het broers aangestel om noodlenigingsvoorraad by ons huise af te lewer, en die pakkies het presies bevat wat ons nodig gehad het! In sulke moeilike omstandighede, wanneer die situasie hopeloos lyk, kan ’n mens voel dat Jehovah en sy organisasie vir ons op ’n spesiale manier omgee. . . . Dit is wonderlik om sy hulp en ondersteuning te voel, wat so nodig was en op die regte tyd gekom het.”

 Jefhen, Irina en Mikita, wat van Marioepol gevlug het, het gesê: “Ons is baie dankbaar dat julle vir ons gesin omgee en ons ondersteun. Julle kan ons glo as ons sê dat dit net op die regte tyd gekom het. Jy weet aan die begin het ons gedink dat daar net produkte in hierdie bokse is, maar toe ons dit oopmaak, het ons besef dat dit ook julle liefde bevat het!”

Jefhen, Irina en Mikita

 ’n Mens kan sonder twyfel sien dat Jehovah sy gees gebruik het om sy volk te lei sodat hulle hierdie liefdevolle noodlenigingswerk kon doen ten spyte van “oorloë en berigte van oorloë”. Julle liefdevolle donasies aan die wêreldwye werk, waarvan baie deur middel van donate.pr418.com gemaak word, het ook ’n belangrike rol hierin gespeel. Julle vrygewigheid word baie waardeer!

Noodlenigingswerk word so vinnig en so veilig as moontlik gedoen

  1. 24 Februarie 2022: Koördineerderskomitee keur ’n begroting goed vir noodlenigingswerk in Oekraïne, wat die takkantoor in staat stel om te help

  2. 24 Februarie – 8 Maart 2022: Die takkantoor in Oekraïne koop items plaaslik en begin om dit deur middel van noodlenigingskomitees te versprei. Die takkantoor berei ook voor om items van Pole te ontvang en te versprei

  3. 9 Maart 2022: Koördineerderskomitee keur die aflewering van noodlenigingsvoorraad aan Oekraïne goed

  4. 10–12 Maart 2022: Planne word gemaak vir ’n toetslopie sodat kos en voorraad van Pole in Lviv, Oekraïne, afgelewer word

  5. 13 Maart 2022: Toetslopie word gedoen om kos en voorraad van Pole na Lviv, Oekraïne, te stuur

  6. 14–16 Maart 2022: By ’n Byeenkomssaal naby Poznan, Pole, is vrywilligers van die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie georganiseer om noodlenigingspakkies met kos en items vir persoonlike sorg te pak

  7. 17 Maart 2022: Vier dae ná die suksesvolle toetslopie word 13 ton noodlenigingsvoorraad na die grens van Oekraïne vervoer

  8. 21–27 Maart 2022: Die oorblywende noodlenigingspakkies word in Pole bymekaargemaak en na Oekraïne gestuur, en dan word dit binne 24 uur in die gebiede wat dit nodig het, versprei

  9. 28 Maart 2022: Binne 20 dae nadat goedkeuring gegee is, is 100 ton kos, items vir persoonlike sorg en mediese voorraad in Oekraïne afgelewer

 Tot nou toe het Jehovah se Getuies meer as 190 ton noodlenigingsvoorraad na Oekraïne gestuur.

a Om meer uit te vind oor hoe hierdie noodlenigingsvoorraad afgelewer is, lees asseblief die artikel “Moedige broers lewer noodlenigingsvoorraad af, red ander in oorlogsgebied in Oekraïne”.