Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

Nuus wat betroubaar is en ons geloof versterk

Nuus wat betroubaar is en ons geloof versterk

1 DESEMBER 2021

 Jehovah se Getuies gee baie om vir hulle broers en susters (1 Petrus 2:17). Baie van ons voel dieselfde as wat Tannis, ’n suster in Kenia, voel. Sy sê: “Ek hou daarvan om te weet wat met my broers en susters regoor die wêreld gebeur.” Hoe weet Tannis en miljoene ander Getuies wat gebeur? Vanaf 2013 weet ons wat aangaan deur middel van die Nuusdeel van ons webwerf, jw.org.

 Die Nuusdeel bevat betroubare berigte oor Jehovah se Getuies oor onderwerpe soos Bybelvrystellings, noodlenigingswerk, konstruksieprojekte en ander belangrike gebeure. Dit vertel ons oor ons broers en susters wat in die tronk is as gevolg van hulle geloof. Die Nuusdeel bevat ook aanmoedigende ondervindinge oor predikingskampanjes en die Gedenkmaal. Wie doen navorsing oor hierdie nuusartikels, en hoe word dit voorberei?

Hoe nuusberigte geïdentifiseer en geskryf word

 Die Nuusdeel word beheer deur die Kantoor vir Openbare Inligting. Hierdie afdeling is by die wêreldhoofkwartier en werk onder die leiding van die Koördineerderskomitee van die Bestuursliggaam. Die Kantoor vir Openbare Inligting bestaan uit meer as 100 broers en susters – waarvan baie afstandsvrywilligers is – insluitende skrywers, navorsers, kunstenaars van beeldmateriaal en vertalers. Ander kommunikeer met regeringsamptenare, professors en onderwysers en die media. Die Kantoor vir Openbare Inligting word gehelp deur meer as 80 Openbare Inligtingsafdelings by takkantore regoor die wêreld.

 Die Kantoor vir Openbare Inligting werk ten nouste saam met die Openbare Inligtingsafdelings om ’n nuusitem voor te berei. Wanneer ons broers ’n storie identifiseer wat ’n goeie nuusberig kan wees, doen hulle navorsing oor die onderwerp en maak hulle betroubare inligting bymekaar. Dit kan insluit dat hulle onderhoude hou en met kenners praat. Nadat hulle die feite bymekaargemaak het, word die nuusartikel geskryf, geredigeer, geproeflees, met foto’s geïllustreer en na die Koördineerderskomitee gestuur vir goedkeuring.

Woorde van waardering

 Hoe voel ons broers en susters oor die Nuusdeel op jw.org? Cheryl, ’n suster in die Filippyne, sê: “Ek hou baie daarvan om my dag te begin deur nuus oor Jehovah se organisasie en sy knegte te lees.”

 Baie lesers sê dat hulle ’n verskil sien tussen die nuus op jw.org en die nuus in die wêreld. Tatiana, in Kazakstan, sê: “Ek waardeer die feit dat ek die nuus op jw.org kan vertrou. Dit is betroubaar en het al die feite.” ’n Suster in Mexiko met die naam Alma sê: “Die nuus op jw.org is baie aanmoedigend in vergelyking met die slegte dinge wat ons op die nuus in die wêreld sien.”

 Die Nuusdeel op jw.org is nie net betroubaar nie – dit versterk ook ons geloof. Bernard, in Kenia, sê: “Die Nuusdeel het my gehelp om die broers en susters regoor die wêreld as my familie te sien, maak nie saak waar hulle is nie. Ek kan hulle name en spesifieke omstandighede in my gebede insluit.” ’n Suster met die naam Bybron, wat ook in Kenia is, sê: “Ek raak altyd opgewonde wanneer ek ’n artikel sien oor ’n Bybelvrystelling in ’n ander taal! Hierdie artikels herinner my daaraan dat Jehovah onpartydig is.”

Die nuus op jw.org help ons om spesifiek te wees wanneer ons bid oor die uitdagings waardeur ons broers en susters regoor die wêreld gaan

 Selfs nuusberigte oor broers wat vervolg word, kan ’n positiewe uitwerking hê. Jackline, in Kenia, sê: “Dit het my geloof regtig versterk toe ek nadink aan hoe moedig hulle is. Ek kyk altyd na wat hulle help om hulle situasie te verduur. Ek het geleer hoe ‘eenvoudige’ dinge – soos gebed, Bybellees en selfs om te sing – ons broers help om sterk te bly.”

 ’n Suster in Costa Rica met die naam Beatriz waardeer die nuusberigte oor natuurrampe. Sy sê: “Die nuus op jw.org help my om te sien hoe ons organisasie in die behoeftes van ons broers voorsien op ’n vinnige, doeltreffende en liefdevolle manier. Dit oortuig my dat dit regtig Jehovah se organisasie is.”

 Ons is baie dankbaar dat ons die jongste nuus oor ons broers en susters regoor die wêreld kry! Dit sou nie moontlik wees sonder julle donasies aan die wêreldwye werk nie, waarvan baie deur middel van donate.pr418.com gemaak word. Dankie vir julle vrygewige bydraes.