HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
Suksesvolle bouprojekte voor die pandemie
1 NOVEMBER 2020
Omdat honderde duisende mense elke jaar gedoop word, het ons al hoe meer teokratiese geboue nodig. Vir hierdie rede het Plaaslike Kantore vir Ontwerp en Konstruksie regoor die wêreld beplan om gedurende die 2020-diensjaar meer as 2 700 plekke van aanbidding te bou of op te knap. a
Ongelukkig is hierdie planne deur die COVID-19-pandemie omvergegooi. Om ons broers en susters te beskerm en aan regerings se regulasies te voldoen, het die Uitgewerskomitee van die Bestuursliggaam die meeste bouprojekte regoor die wêreld tydelik gestop. Maar gedurende die 2020-diensjaar is meer as 1 700 plekke van aanbidding gebou en opgeknap voordat die pandemie uitgebreek het. Meer as 100 groot takkantoor-projekte is ook voltooi. Kyk na hoe twee voltooide bouprojekte ons broers gehelp het.
Takkantoor in Kameroen. Die vorige takkantoor wat in Douala was, was te klein en het baie werk nodig gehad. Die Uitgewerskomitee het dit oorweeg om die takkantoor op te knap, maar dit sou meer gekos het om dit te doen as wat die eiendom eintlik werd was. Hulle het ook na die moontlikheid gekyk om op ’n nuwe eiendom te bou of om ’n bestaande gebou te koop en op te knap, maar hierdie opsies het nie uitgewerk nie.
Intussen het die broers uitgevind dat die plaaslike regering beplan het om ’n pad in die noorde van Douala langs een van ons Byeenkomssale te bou. Die pad bied beter toegang, en dit maak elektrisiteit en watertoevoer na die eiendom moontlik. Dit was presies wat die takkantoor nodig gehad het. Daarom het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat ’n nuwe takkantoor op ’n deel van die Byeenkomssaal se eiendom gebou kan word.
Getuies en gehuurde kontrakteurs het saam aan die projek gewerk. Op hierdie manier het dit tyd en geld gespaar. Om die waarheid te sê, die projek het baie minder gekos as wat hulle verwag het. Hulle het meer as R32 570 000 gespaar! Die Bethel-gesin kon na die nuwe fasiliteite trek kort voordat die COVID-19-pandemie uitgebreek het.
Betheliete in Kameroen het die voordeel van beter lewensomstandighede en werkstoestande, en hulle beskou die nuwe takkantoor as ’n geskenk van Jehovah. Een paartjie sê: “Ons wil net harder werk en wys hoeveel ons hierdie geskenk waardeer.”
Vertaalkantoor vir Tojolabal (RTO), Mexiko. Die vertaalspan vir Tojolabal het jare lank by die takkantoor in Sentraal-Amerika gewerk, wat naby Mexikostad is. Maar die taal Tojolabal word meestal in Altamirano en Las Margaritas gepraat, wat amper 1 000 kilometer daarvandaan is! As gevolg hiervan het die vertalers dit moeilik gevind om by te hou met hoe die taal ontwikkel het. En die takkantoor het gesukkel om gekwalifiseerde broers en susters daar naby te kry om met vertaling en oudio-opnames in Tojolabal te help.
Vir hierdie redes wou die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam die vertaalspan skuif na ’n gebied waar Tojolabal gepraat word. Om dit reg te kry, het die takkantoor besluit om ’n gebou te koop en dit op te knap. Dit was goedkoper om dit te doen as om kantore te bou of te huur.
Een vertaler verduidelik hoe dit hom gehelp het: “In die tien jaar wat ek as ’n vertaler by die takkantoor gewerk het, het ek nie ’n enkele familie daar naby ontmoet wat my taal gepraat het nie. Nou is ons kantoor in die gebied waar Tojolabal gepraat word. Ek het elke dag te doen met mense wat Tojolabal praat. Dit het my woordeskat vergroot en die gehalte van my werk verbeter.”
Projekte vir die 2021-diensjaar
Vir die 2021-diensjaar is daar planne om aan 75 RTO’s en Bybelskoolfasiliteite te werk, as omstandighede dit toelaat. Die werk aan agt groot takkantoor-projekte sal voortgaan. Dit sluit die nuwe projek in by die wêreldhoofkwartier in Ramapo, New York, sowel as die verskuiwing van die takkantoor in Argentinië en Italië. Meer as 1 000 nuwe Koninkryksale is nodig. Dan is daar meer as 6 000 vergaderplekke wat op die oomblik nie geskik is vir gebruik nie en wat vervang moet word en nog 4 000 Koninkryksale wat opgeknap moet word.
Waar kom die geld vir al hierdie konstruksie en opknappingswerk vandaan? Broer Lázaro González, ’n lid van die Takkomitee in Sentraal-Amerika, het hierdie vraag beantwoord terwyl hy die Vertaalkantoor-projek vir Tojolabal bespreek het. “In ons takkantoor se gebied het ons beperkte middele. So sonder die ondersteuning van die broers en susters regoor die wêreld sou dit nie moontlik wees om vertaalkantore vir ons plaaslike medegelowiges te bou nie. Die donasies wat deur broers en susters regoor die wêreld gegee word, maak dit moontlik vir vertalers om in die gebiede te werk waar hulle taal gepraat word. Ons is regtig dankbaar teenoor ons wêreldwye broederskap vir hulle vrygewige ondersteuning.” Ja, hierdie bouprojekte is moontlik danksy julle donasies aan die wêreldwye werk, waarvan baie deur middel van donate.pr418.com gemaak word.
a Plaaslike Kantore vir Ontwerp en Konstruksie beplan en doen die konstruksie van Koninkryksale in hulle takkantoor se gebied. Die Wêreldkantoor vir Ontwerp en Konstruksie, wat by die wêreldhoofkwartier is, besluit watter bouprojekte eerste gedoen moet word en organiseer hierdie projekte regoor die wêreld.