Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD

’n JW-satellietkanaal bereik plekke waar daar nie Internet is nie

’n JW-satellietkanaal bereik plekke waar daar nie Internet is nie

1 APRIL 2021

 Ons kan nie wag dat die geestelike programme en video’s elke maand op JW Broadcasting vrygestel word nie. Maar baie van ons broers in Afrika het nie Internettoegang om na hierdie programme te kyk nie. Hoekom nie?

 Groot dele van Afrika het amper geen Internettoegang nie. En waar daar wel toegang is, is dit dikwels stadig en baie duur. Byvoorbeeld, ’n kringopsiener in Madagaskar het eenkeer net een van die maandelikse JW Broadcasting-programme by ’n Internetkafee afgelaai. Dit het hom R236,64 gekos – meer as wat party mense in ’n week verdien!

 Ten spyte van al hierdie probleme kan miljoene in Afrika nou na JW Broadcasting kyk sonder om die Internet te gebruik. Hoe?

 Van 2017 af is JW Broadcasting deur middel van ’n satelliet-televisiekanaal beskikbaar gestel aan mense in Afrika suid van die Sahara. Hierdie kanaal word 24 uur ’n dag, 7 dae van die week, gratis in 16 tale uitgesaai.

Broers in Mosambiek verstel ’n ontvanger vir die JW-satellietkanaal by hulle Koninkryksaal, 2018

 Om dit te kan doen, betaal Jehovah se Getuies ’n televisie-uitsaaidiens om programme deur ’n satellietverbinding beskikbaar te stel. Die satelliet wat gebruik word, dek omtrent 35 lande in Afrika suid van die Sahara. Die kontrak kos meer as R177 477,60 per maand. Van tyd tot tyd word nog ’n bedrag betaal om gebeurtenisse regstreeks op ’n ander kanaal uit te saai. Dit gee duisende die geleentheid om streekbyeenkomste of spesiale programme tydens besoeke aan takkantore te geniet.

’n Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie-groep in Malawi kyk na die JW-satellietkanaal, 2018

 Baie mense, selfs mense wat nie Getuies is nie, kyk na die JW-satellietkanaal op ’n televisie by die huis. Maar baie van ons broers kan nie die toerusting bekostig wat hulle nodig het om na die satellietkanaal te kyk nie. Om hulle te help is satelliet-opvangtoerusting by meer as 3 670 Koninkryksale geïnstalleer sodat broers en susters JW Broadcasting daar kan kyk. As die Koninkryksaal reeds ’n televisie of ’n projektor het, kos die toerusting en die aflewering daarvan omtrent R1 035,29. Andersins kan die nodige toerusting tot R7 838,59 kos.

 Ons broers en susters is baie dankbaar vir die kanaal. ’n Ouerman in Kameroen sê: “Dit is soos manna in die middel van ’n woestyn vir ons gesin.” Odebode, ’n broer in Nigerië, sê: “Ons gesin kyk drie keer ’n week saam na die kanaal. My kinders sien altyd daarna uit. Hulle vra selfs ander kere dat ons moet oorskakel na die JW-kanaal.” Rose, wat ook in Nigerië woon, sê: “Ek is bly om te sê dat ek nou nie meer aan die nuuskanaal verslaaf is nie, want ek kyk nou na die JW-satellietkanaal. Wanneer ek na die nuus gekyk het, het ek maklik geïrriteerd geraak met wat ek gesien het en dan het my bloeddruk gestyg. Maar JW Broadcasting is so opbouend en rustig! Dit is my gunstelingkanaal. Dit is ’n groot seën van Jehovah.”

’n Gesin in Malawi kyk na ’n video vir kinders op ons satellietkanaal

 ’n Kringopsiener in Mosambiek sê dat die Koninkryksale in sy kring die toerusting gekry het om na die satellietkanaal te kan kyk. Broers in hierdie gemeentes kom ’n uur of meer voor die vergadering om só na JW Broadcasting te kyk.

’n Gemeente in Etiopië het na die maandelikse JW Broadcasting-program gekyk sonder om die Internet te gebruik, 2018

 Die kanaal is ook gedurende die internasionale streekbyeenkoms van 2019 in Johannesburg, Suid-Afrika, gebruik om hooftoesprake, onder andere dié wat deur ’n lid van die Bestuursliggaam gehou is, aan nege ander plekke beskikbaar te stel. Sphumelele, van die plaaslike Broadcasting-afdeling by die Suid-Afrikaanse takkantoor, sê: “In die verlede sou ons die Internet daarvoor moes gebruik. Maar dan het ’n mens goeie Internet nodig en moet jy ook vir die data betaal. Die JW-satellietkanaal was baie goedkoper en meer betroubaar.”

 Danksy julle vrygewige donasies aan die wêreldwye werk kan baie van ons broers en susters in Afrika deur middel van satellietverbinding na JW Broadcasting kyk. Ons is baie dankbaar vir die donasies wat julle op die verskillende maniere deur donate.pr418.com maak.