HOE JOU DONASIES GEBRUIK WORD
’n Oorvloed vul ’n tekort aan
1 OKTOBER 2020
Jehovah se Getuies doen belangrike werk om mense in meer as 200 lande te help. Maar net omtrent 35 van hierdie lande kry genoeg plaaslike donasies om hulle uitgawes te dek. Hoe word uitgawes gedek in lande waar daar ’n behoefte is?
Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies kyk wat die geestelike behoeftes en bedrywighede van mede-Getuies regoor die wêreld is. ’n Begroting word sorgvuldig opgestel, en die geld word op die regte manier gebruik. As ’n takkantoor meer geld ontvang as wat dit nodig het vir plaaslike bedrywighede, maak hulle die oorvloed beskikbaar aan lande wat dit nodig het. Hierdie reëling volg die voorbeeld van die vroeë Christene wat ander gehelp het deur middel van “’n gelykmaking” (2 Korintiërs 8:14). Hulle het hulle oorvloed gebruik om die tekort van ander Christene wat nie genoeg gehad het nie, aan te vul.
Hoe voel ons broers wat geld van ander takkantore gekry het? Byvoorbeeld, in Tanzanië lewe meer as die helfte van die bevolking van minder as R35 per dag. Die geld wat hulle gekry het, was gebruik om die Mafinga-gemeente se Koninkryksaal op te knap. Die gemeente het geskryf: “Vandat die saal opgeknap is, woon daar baie meer mense ons vergaderinge by! Ons is baie dankbaar teenoor Jehovah se organisasie en die wêreldwye broederskap vir hulle vrygewigheid. Dit het ons gehelp om hierdie pragtige plek van aanbidding te geniet.”
Party van ons broers in Sri Lanka het as gevolg van die COVID-19-pandemie nie genoeg kos gehad nie. Imara Fernando en haar jong seun, Enosh, is ’n voorbeeld hiervan. Maar danksy donasies van ander lande het hulle die hulp gekry wat hulle nodig gehad het. In ’n kaartjie wat met die hand gemaak is, het hulle geskryf: “Ons sê dankie vir die broers vir die liefde wat hulle aan ons bewys het gedurende hierdie moeilike tye. Ons is regtig bly om deel te wees van hierdie familie, en ons hou aan bid dat Jehovah al ons broers gedurende hierdie laaste dae sal help.”
Maak nie saak waar ons broers en susters woon nie, hulle word beweeg om te deel wat hulle het. Enosh het byvoorbeeld ’n klein spaarblikkie vir homself gemaak sodat hy ook donasies kan gee om families wat dit nodig het, te help. Guadalupe Álvarez het dieselfde vrygewige gesindheid. Sy woon in ’n deel van Mexiko waar min mense die minimum inkomste verdien of glad nie ’n gereelde inkomste het nie. Maar sy dra by wat sy kan. Sy skryf: “Ek is dankbaar teenoor Jehovah vir sy goedheid en lojale liefde. Ek weet dat my donasies by ander s’n gevoeg sal word en gebruik sal word vir broers wat dit nodig het.”
Takkantore wat geld stuur na plekke wat dit nodig het, is bly om dit te doen. Anthony Carvalho, wat op die Takkomitee in Brasilië dien, sê: “Vir baie jare het die werk in ons land die finansiële ondersteuning van ander lande nodig gehad. As gevolg van hierdie ondersteuning het ons ongelooflike groei gesien. Ons finansiële situasie het verander, en ons het nou die voorreg om ander te help. Die broers in Brasilië kyk na die predikingswerk regoor die wêreld en sien die rol wat hulle kan speel as Jesus se selfopofferende dissipels.”
Hoe kan Jehovah se Getuies hulle broers en susters wat dit nodig het, op die beste manier ondersteun? Nie deur geld direk na takkantore in ander lande te stuur nie, maar deur by te dra tot die wêreldwye werk. Dit kan gedoen word deur geld in te gooi in die gemeente se bydraebussie wat gemerk is “Wêreldwye werk” of deur middel van donate.pr418.com. Ons is baie dankbaar vir al hierdie donasies.