ASTER PARKER | LEWENSVERHAAL
Ek wou ’n lewe hê wat heeltemal aan Jehovah toegewy is
Ek is dankbaar dat my dierbare ouers my die waarheid van kleins af geleer het. Hulle het my hart geraak met die prente en verhale in die boek Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys. Ek het dit wat ek geleer het, entoesiasties met die kinders wat langs ons gebly het, gedeel en ook met my oupa wanneer hy kom kuier het. My ouers het ’n goeie geestelike roetine gehad, wat ons gesin gehelp het om aan te pas toe ons van Asmara, Eritrea, na Addis Abeba, Etiopië, getrek het.
Ek was van kleins af lief vir die waarheid. Ek wou myself aan Jehovah toewy en gedoop word. Toe ek 13 jaar oud was, was ek baie bly om hierdie doelwit te bereik. Toe ek 14 was, het broer Helge Linck a my gevra of ek dit al oorweeg het om te pionier. Ek onthou daardie oomblik nog baie goed. Alhoewel my pa en ma as tydelike pioniers (wat nou as hulppioniers bekend staan) gedien het, het ek geen idee gehad wat dit beteken om ’n gewone pionier te wees nie. Broer Linck se vraag het ’n saadjie in my hart geplant – die begeerte om meer in Jehovah se diens te doen.
Voorbereid op vervolging
In 1974 het politieke probleme in Etiopië tot arrestasies, moorde en onrus gelei. Mettertyd kon ons nie van deur tot deur preek nie en kon ons net in klein groepies bymekaarkom. My ouers het begin om ons kinders voor te berei op verdere teenstand. Bybelbeginsels het ons gehelp om te verstaan wat Christelike neutraliteit beteken. Ons het geleer dat Jehovah ons sou help as ons ondervra sou word en dat daar tye sou wees wanneer ons dalk moes stilbly. – Matteus 10:19; 27:12, 14.
Nadat ek klaargemaak het met skool, het ek by Ethiopian Airlines begin werk. Toe ek een oggend by die werk kom, het my kollegas my gelukgewens omdat ek gekies was om ’n optog te lei wat die herdenking van die regering gevier het. Ek het dadelik vir my toesighouer gaan sê dat ek as gevolg van my Christelike neutraliteit nie sou deelneem aan die viering nie.
Die volgende dag, terwyl ek besig was om by die lughawe te werk, het ek in die verte mans met gewere oor hulle skouers gesien wat na die kaartjietoonbank toe loop. Ek het aangeneem dat hulle daar was om iemand te arresteer wat uit die land wou vlug. Maar hulle het eerder na my toe gewys! Ek het gewonder hoekom hulle na my toe gewys het? Wat as ’n gewone werksdag begin het, het gou verander.
Hulp in die tronk
Die soldate het my na ’n kantoor toe gevat waar ek ure lank ondervra was. Hulle wou weet: “Wie betaal Jehovah se Getuies? Werk jy vir Eritrea se Vryheidsfront? Werk jy of jou pa vir die Amerikaanse regering?” Alhoewel dit baie stresvol kon gewees het, het ek kalm gevoel, danksy Jehovah se hulp. – Filippense 4:6, 7.
Ná die ondervraging het die soldate my na ’n huis toe gevat wat in ’n tronk verander is. Hulle het my daar in ’n vertrek van 28 vierkante meter gesit wat oorvol was. Daar was omtrent 15 jong vrouens wat politieke gevangenes was.
Daardie aand, terwyl ek op die harde vloer nog steeds in my lugredery-uniform gelê het, was ek angstig omdat ek geweet het dat my ouers en my broers en susters bekommerd oor my was. Hulle het geweet dat ek gearresteer was, maar hulle het glad nie geweet waar ek is nie. Ek het Jehovah gevra om my gesin te help om uit te vind waar ek is.
Toe ek die volgende oggend wakker word, het ek ’n jong wag herken. Hy het geskok na my gekyk en gevra: “Aster, wat maak jy hier?” Ek het hom gesmeek om na my ouers se huis toe te gaan en hulle te vertel waar ek is. Later daardie dag het ek kos en klere van my ouers af gekry. Die wag het vir hulle vertel waar ek was. Jehovah het my gebede beantwoord! Daardie ondervinding het my die versekering gegee dat ek nie alleen is nie.
Ek was nie toegelaat om ’n Bybel of enige ander publikasies te hê nie, en my familie en vriende was nie toegelaat om my te besoek nie. Maar Jehovah het my aangemoedig deur middel van my mede-gevangenes. Ek het elke dag vir hulle gepreek, en hulle was beïndruk deur die waarheid oor God se Koninkryk. Hulle het baie keer vir my gesê: “Hier veg ons vir ’n menseregering, maar jy veg vir God se regering. Moenie opgee nie, selfs al dreig hulle om jou dood te maak!”
Partykeer het die wagte die gevangenes ondervra en geslaan. Een aand, omtrent elfuur, het hulle my kom haal. Toe ons in die vertrek kom waar hulle mense ondervra het, het hulle baie aantygings gemaak. Hulle het gesê dat ek nie die regering ondersteun nie. En toe ek weier om ’n politieke slagspreuk op te sê, het twee van die wagte my geslaan. Die wagte het my ’n hele paar keer vir sulke ondervragings gevat. Elke keer het ek vurig tot Jehovah gebid, en ek kon voel hoe hy my help.
Ná drie maande het een van die wagte vir my gesê dat ek kon gaan. Alhoewel ek verbaas en opgewonde was, was ek ook ’n bietjie teleurgesteld omdat ek dit geniet het om die Koninkrykshoop met die jong vrouens in die tronk te deel.
’n Paar maande nadat ek vrygelaat is, terwyl ek nie by die huis was nie, het soldate gekom om al die tieners in ons gesin te arresteer! Hulle het twee van my susters en een van my broers gearresteer. Op daardie stadium het ek besluit dat dit vir my beter sou wees om uit die land te vlug. Alhoewel ek baie hartseer was om my gesin weer te verlaat, het my ma my aangemoedig om sterk te wees en op Jehovah te vertrou. Kort daarna het ek op ’n vlug na die Verenigde State geklim. Daardie selfde aand het soldate na ons huis toe gekom om my vir ’n tweede keer te arresteer. Toe hulle my nie daar kry nie, het hulle na die lughawe toe gejaag. Maar teen die tyd wat hulle daar aangekom het, het die vliegtuig waarop ek was, reeds vertrek.
Ek het in Maryland aangekom waar ek deur Haywood en Joan Ward, die sendelinge wat met my ouers gestudeer het, verwelkom is. Vyf maande later het ek my doelwit bereik om ’n pionier te word. Cyndi, die Ward-gesin se dogter, was my pioniermaat, en ons het baie goeie tye saam in die bediening geniet.
Ek gebruik al my tyd om God in Bethel te dien
In die somer van 1979 het ek Bethel in New York besoek en Wesley Parker ontmoet. Ek het gehou van sy goeie eienskappe en dat hy meer vir Jehovah wou doen. Ons is in 1981 getroud, en ek het na Wallkill, New York, getrek om saam met Wesley by Bethel te dien. Ek het Bethelkamers skoongemaak en toe in die droogskoonmaakafdeling gewerk en later saam met die MEPS-span in die rekenaarafdeling. Om by Bethel te dien het my die geleentheid gegee om al my tyd in Jehovah se diens te gebruik en om broers en susters te leer ken wat vandag nog ons vriende is.
Maar terug by die huis in Etiopië het my familie baie swaargekry as gevolg van intense vervolging, en dit het my ontstel. My twee susters en my broer wat gearresteer is, was nog steeds in die tronk. b My ma moes elke dag vir hulle kos maak en dit vir hulle vat omdat die tronk nie vir hulle kos gegee het nie.
Gedurende daardie stresvolle tyd was Jehovah my vesting en die Bethel-gesin het my baie vertroos en ondersteun (Markus 10:29, 30). Eendag het broer John Booth vir my gesê: “Ons is so bly jy dien hier by Bethel. Dit sou nie moontlik gewees het as jy nie Jehovah se seën gehad het nie.” c Daardie liefdevolle woorde het my verseker dat Jehovah my besluit om Etiopië te verlaat, geseën het en dat hy vir my familie sou sorg.
Ons dien Jehovah as ’n gesin
In Januarie 1989 het ons uitgevind dat ek swanger is. Ons was eers baie verbaas! Maar ná ’n paar dae het ons opgehou om bekommerd te wees en het ons begin bly voel. Tog het ons gewonder watter tipe ouers ons sou wees, waar ons sou bly en hoe ons vir onsself sou sorg wanneer ons Bethel verlaat.
Op 15 April 1989 het ons ons kar gepak en begin om na Oregon te ry, waar ons beplan het om voort te gaan met ons voltydse diens as pioniers. Maar nie lank nadat ons daar aangekom het nie, het party van ons vriende wat dit goed bedoel het, gesê dat dit nie redelik is vir ons om aan te hou pionier nie. Dit was waar dat ons nie baie materiële besittings gehad het nie, en ons sou binnekort ’n kind hê. Wat sou ons doen? Net op daardie stadium het ons ’n besoek gehad van ons kringopsiener, Guy Pierce, en sy vrou, Penny. d Hulle het ons aangemoedig om by ons doelwitte te bly. So ons het as pioniers begin dien en vertrou dat Jehovah ons sou help (Maleagi 3:10). Ons het aanhou pionier ná die geboorte van ons eerste seun, Lemuel, en ná die geboorte van ons tweede seun, Jadon.
Om saam met ons seuns te pionier, was ’n baie kosbare ondervinding. Pionierdiens het ons baie geleenthede gegee om Bybelwaarhede nie net met ons bure nie, maar ook met ons seuns te deel (Deuteronomium 11:19). Maar ná die geboorte van ons jongste seun, Japheth, moes ons ’n tyd lank ophou pionier. – Miga 6:8.
Ons het ons seuns geleer om Jehovah te dien
Ons het besef dat die belangrikste verantwoordelikheid wat ons as ouers gehad het, was om elkeen van ons seuns te leer dat Jehovah ’n werklikheid is en om hulle te help om hulle eie persoonlike verhouding met hom te ontwikkel. Om dit te doen, het ons gesorg dat gesinsaanbidding iets is waarna hulle uitgesien het. Toe hulle nog baie klein was, het ons publikasies soos Luister na die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhale saam gelees. Ons het selfs party van die verhale opgevoer. Ek was die enigste vrou in die huis, so wanneer ons die verhaal van Isebel opgevoer het, het ek die rol van Isebel gespeel. Die seuns het dit geniet om my van die bank af te stoot en dan voor te gee dat hulle die honde was! Behalwe vir gesinsaanbidding het Wesley ook ’n persoonlike Bybelstudie met elke seun gehad.
Ons was lief vir ons seuns en het vir hulle gesorg. En ons het gebid dat ons gesin na aanmekaar moes bly. Soos hulle ouer geword het, het ons hulle praktiese vaardighede geleer. Hulle het die skottelgoed gewas, hulle kamers skoongemaak en hulle klere gewas. Hulle het ook geleer hoe om kos te maak.
Dit was nie net ons kinders wat lesse geleer het nie, maar ons as ouers het ook. Daar was tye wat ons oorreageer het en dinge vir ons seuns of selfs vir mekaar gesê het wat nie mooi was nie. By sulke geleenthede was ons nederig en het ons om verskoning gevra.
Ons het gereeld broers en susters in die gemeente na ons huis toe genooi, asook besoekende Betheliete, sendelinge, reisende opsieners en ander broers en susters wat gedien het waar daar hulp nodig was (Romeine 12:13). Wanneer ons gaste gehad het, het ons nie die kinders in ’n ander kamer laat speel nie. Hulle het by ons gesit en die geselskap en ondervindinge geniet. Die kinders het baie keer meer van die gesprekke onthou as ek en Wesley.
Ek en Wesley het hard daaraan gewerk om ons lewe in Jehovah se diens vreugdevol te maak. Byvoorbeeld, ons het vooruit beplan en geld en vakansietyd gespaar sodat ons na verskillende lande kon reis. Met elke reis het ons die takkantoor besoek, vergaderinge bygewoon en in die bediening uitgegaan. Dit het gemaak dat ons Jehovah se wêreldwye organisasie werklik waardeer, en ons het as ’n gesin nader aan mekaar gekom.
Ons bly ten volle toegewyd in ons diens
Ons het opgelet dat baie mense in ons gebied Spaans praat, maar daar was niemand wat gereeld vir hulle gepreek het nie. Terwyl ons seuns nog jonk was, het ons broer Pierce gevra wat hy daarvan gedink het as ons gesin na ’n gemeente toe gaan wat Spaans is. Hy het met ’n breë glimlag geantwoord: “As jy ’n visserman is, dan gaan jy na waar die visse is.” Met daardie aanmoediging het ons na die Spaanse gemeente in Woodburn, Oregon, getrek. Ons het die vreugde ervaar om ’n hele paar progressiewe Bybelstudies te hou, om party mense te help om tot doop te vorder en om te sien hoe ’n klein Spaanse groepie ’n gemeente geword het.
Op een stadium het Wesley sy werk verloor en moes ons na Kalifornië toe trek vir sy nuwe werk. Twee jaar later het ek, Lemuel en Jadon besluit om te begin pionier. In 2007 was ek baie bly om die Pionierdiensskool saam met hulle by te woon. Kort ná die pionierskool het ons opgemerk dat daar baie mense in ons gebied was wat Arabies praat. So ná 13 jaar in die Spaanse veld het ons gesin besluit om na ’n Arabiese gemeente te gaan. Ons het dit geniet om plaaslik die waarheid met Arabiese immigrante te deel en ook oorsee gedurende spesiale predikingskampanjes. Ons dien nog steeds as pioniers in die Arabiese veld in San Diego, Kalifornië.
Wesley is ’n baie goeie man en gesinshoof. Hy het diep respek vir Jehovah se organisasie. Hy het nog nooit enige iets negatiefs oor Bethel of gemeentelike reëlings gesê nie. Hy vind eerder altyd iets positiefs om te sê. Hy bid vir my en ook saam met my, en wanneer ons deur stresvolle situasies gegaan het, het sy gebede my vertroos en my gehelp om kalm te bly.
Wanneer ek terugkyk, dink ek aan hoeveel ons dit geniet het om in voltydse diens te wees, om ’n gesin groot te maak en om in gemeentes te dien waar daar hulp nodig was. Ons het gesien hoe Jehovah diegene seën wat hom eerste stel, en ons het nog nooit ’n gebrek aan enige iets gehad nie (Psalm 37:25). Ek is daarvan oortuig dat die beste keuse wat ek ooit kon gemaak het, was om ’n lewe te kies wat heeltemal aan Jehovah toegewy is. – Psalm 84:10.
a Broer Linck het by die takkantoor in Kenia gedien, wat toesig gehou het oor die werk in Etiopië.
b My twee susters en my broer is ná vier jaar uit die tronk vrygelaat.
c Broer Booth het as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien totdat hy sy aardse loopbaan in 1996 voltooi het.
d Broer Pierce het later as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien totdat hy sy aardse loopbaan in 2014 voltooi het.