DAVID MAZA | LEWENSVERHAAL
’n Gelukkige gesin – Verwoes en herbou
Omdat ek die Bybel begin studeer het en die beginsels daarin toegepas het, het ek uiteindelik ’n gelukkige gesinslewe gehad, iets wat ek nie gedink het moontlik was nie. Ek en my vrou het saam met ons drie kinders Jehovah verenig en heelhartig gedien.
Niks kon ons voorberei vir die verskriklike tragedie wat op 24 April 2004 gebeur het nie.
Toe my vrou, Kaye, geboorte gegee het aan ons dogter, Lauren, het ek geen idee gehad hoe om ’n goeie pa te wees nie. Toe ons ons tweede kind, ’n seun met die naam Michael, gehad het, het ek nog steeds nie geweet hoe om ’n goeie pa te wees nie. Terwyl ek grootgeword het, het my ouers gedurig baklei en is hulle uiteindelik geskei. Alhoewel ek ’n goeie gesinshoof wou wees, het ek nie geweet hoe nie.
Om dinge erger te maak, het ek as ’n tiener verslaaf geraak aan alkohol en dwelms. As ’n volwassene was my lewe buite beheer. My verslawings, wat dobbelary ingesluit het, het gemaak dat ek ’n hele paar verkeerde besluite geneem het. Dinge het so sleg geraak dat Kaye my verlaat het en ons twee kinders saam met haar gevat het. Ek was verpletter.
Ek het Kaye gevra wat ek moes doen sodat sy sou terugkom. Sy het alreeds die Bybel met Gloria, een van Jehovah se Getuies, bespreek. So haar antwoord was eenvoudig: “Studeer die Bybel.” Ek het nie regtig geweet wat dit beteken nie, maar ek wou hê dat Kaye moes terugkom huis toe. Daarom het ek ingestem om Gloria en haar man, Bill, te ontmoet.
’n Gesprek wat my lewe verander het
Toe Bill en Gloria na ons huis toe gekom het, was ek beïndruk deur die goeie verhouding wat hulle gehad het. Ek het uitgevind dat hulle volwasse kinders, wat omtrent my ouderdom was, hulle lewe op ’n betekenisvolle manier gebruik het. Vir die eerste keer het ek begin dink dat die Bybel die sleutel tot ’n gelukkige gesin kan wees.
Gedurende daardie besoek het Bill en Gloria met my oor my probleme gepraat. Hulle het vir my gewys wat die Bybel sê in Galasiërs 6:7: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes.” Ek het gedink: ‘As ek daardie beginsel in my lewe toegepas het, kon ek baie hartseer vermy het!’
Mettertyd het ek gevind dat om Bybelbeginsels toe te pas, my lewe baie verbeter het. Ek en Kaye het opgehou rook, en ek het hulp gekry om los te breek van my ander verslawings. In 1985, toe ons derde kind – ’n seun, David wat ons Davey genoem het – gebore is, het ek uiteindelik gevoel dat ek nou geweet het hoe om ’n goeie pa te wees.
Ons dien Jehovah saam
As ouers het ek en Kaye gevind dat om ons kinders te leer om Jehovah lief te hê, ons ook nader aan hom gebring het. Ons het so baie geleer uit publikasies soos Luister na die Groot Onderwyser! Families in ons gemeente was ook goeie voorbeelde vir ons en ons kinders.
Mettertyd het al ons kinders pionier. Vroeg in 2004 was Lauren in ’n Spaanse gemeente. Michael het Bethel verlaat om te trou, en hy en sy vrou, Diana, sou na Guam toe trek om daar te help met die predikingswerk. Davey, 19, het ook onlangs in die Dominikaanse Republiek begin dien.
Ek en Kaye was trots op ons kinders vir die keuses wat hulle gemaak het. Dit het vir ons gevoel asof die woorde in 3 Johannes 4 waar geword het: “Niks gee my groter vreugde as wanneer ek hoor dat my kinders voortgaan om die weg van die waarheid te volg nie.” Min het ons geweet dat ons lewe met een oproep sou verander.
’n Tragedie wat ons harte gebreek het
Op 24 April 2004 het ek en Kaye saam met twee ander paartjies uitgegaan vir aandete. Omdat die restaurant meer as ’n honderd kilometer daarvandaan was, het al ses van ons met my kar gery. Ná aandete het ek almal by ’n ander restaurant afgelaai vir nagereg en toe parkering gaan soek. My selfoon het gelui. Dit was ’n vriend, en ek kon hoor dat hy baie ontsteld was.
Hy het gesê: “Iets verskrikliks het gebeur. Davey was in ’n ongeluk.”
Al was ek bang vir wat my vriend sou sê, het ek gevra: “Hoe erg is dit?”
Aanvanklik kon hy niks sê nie. Toe het hy my vertel dat Davey gesterf het.
Ná die oproep het ek vir Jehovah gebid vir krag. Daarna het ek in die restaurant ingegaan en vir die ander gesê dat ek nie lekker voel nie en dat dit beter sou wees as ons huis toe gaan. Ek wou nie vir Kaye oor Davey vertel totdat ons alleen was nie.
Die rit van 90 minute huis toe was baie moeilik vir my. Ek kon hoor hoe opgewonde Kaye was toe sy die ander vertel het dat Davey binnekort vir ons sou kom kuier. Intussen, selfs voordat Kaye uitgevind het dat ons seun gesterf het, het boodskappe van simpatie aanhoudend op my foon deurgekom.
Nadat ons die ander paartjies afgelaai het, het ons huis toe gegaan. Kaye het na my gekyk en dadelik geweet dat iets baie verkeerd is. Sy het gevra: “Wat het gebeur?” Ek het geweet dat my volgende woorde Kaye se lewe sou verpletter, net soos die oproep twee ure vroeër my lewe verpletter het.
Ons verwerk ons hartseer
Ek en Kaye het al baie uitdagings gehad, en ons het geweet dat Jehovah sy volk vertroos (Jesaja 41:10, 13). Maar hierdie uitdaging was heeltemal anders. Ek kon nie help om te wonder nie: ‘Hoe kon dit met Davey gebeur – iemand wat so baie vir Jehovah gedoen het? Hoekom het Jehovah hom nie beskerm nie?’
Ons ander kinders was ook verpletter. Lauren was soos ’n tweede ma vir Davey, en daarom was dit vir haar baie moeilik om sy dood te verwerk. Michael se hart was ook gebreek. Alhoewel Michael al vyf jaar lank nie meer in die huis gebly het nie, het hy die laaste ruk gesien hoe sy jonger boetie ’n volwasse jong man geword het.
Die gemeente het van die begin af ons bygestaan. Byvoorbeeld, selfs terwyl Kaye nog in skok was oor ons seun se dood, het broers en susters van die gemeente by ons huis opgedaag om ons te vertroos en by te staan (Spreuke 17:17). Ek sal nooit hulle liefde vergeet nie!
Om ons hartseer te verwerk, het ek en Kaye by ons roetine van gebed, Bybelstudie en vergaderingbywoning gebly. Dit het nie ons pyn weggevat nie. Maar ons het geweet dat dit belangrik is dat ons moet aanhou met die dinge wat ons geestelik sterk sou hou. – Filippense 3:16.
Gedurende hierdie tyd het Michael en Diana getrek om nader aan ons te wees, en Lauren het teruggekom na ons Engelse gemeente toe. Om die volgende paar jaar saam te wees, het ons almal gehelp om Davey se dood te begin verwerk. Toe Lauren later getrou het, het haar man, Justin, ons gesin ook baie ondersteun.
’n Moeilike reis
Kort ná Davey se dood was daar nog iets wat ons gedoen het om ons hartseer te verwerk. Alhoewel dit baie moeilik was, het dit ons eintlik gehelp. Kaye sal verder vertel wat gebeur het.
“Toe my man my vertel dat Davey gesterf het, het ek vir ’n baie lang tyd my vreugde in die lewe verloor. Ek was so oorweldig deur hartseer dat dit vir my moeilik was om alledaagse dinge te doen. Ek het die hele tyd gehuil. Om die waarheid te sê, met tye was ek kwaad vir Jehovah en vir almal wat nog gelewe het. Ek het gevoel asof ek heeltemal onredelik geraak het.
“Ek wou na die Dominikaanse Republiek gaan. Ek wou wees waar Davey gebly het en Jehovah gedien het voordat hy gesterf het. Terselfdertyd was ek nog emosioneel baie swak en het ek gevoel dat ek nie so ver sou kon reis nie.
“’n Goeie vriendin het my gehelp deur vir my te sê dat Davey se vriende in die Dominikaanse Republiek ook treur en dat hulle graag Davey se gesin wou ontmoet. Haar ondersteuning het my die krag gegee om op die vliegtuig te klim.
“Die reis was net wat ons gesin nodig gehad het. Ons het uitgevind dat Davey baie gefokus was op Jehovah se diens. Die enigste ouerman in die gemeente waar Davey gedien het, het gesê dat hy altyd op Davey kon staatmaak om sy toewysings uit te voer.
“Terwyl ons in die straat afgeloop het waar Davey gebly het, het mense na ons toe gekom en ons vertel van die goeie dinge wat hy vir hulle gedoen het. Ek het altyd geweet dat hy ’n goeie mens was, maar hierdie ondervinding het my gehelp om te besef hoe hard my seun probeer het om Jesus na te volg.
“Ons het ook een van Davey se Bybelstudies ontmoet. Die man was bedlêend en het in ’n baie klein huis gebly. Hy was baie arm, maar die broers en susters in die gemeente het ons vertel dat Davey hom altyd met die grootste waardigheid en respek behandel het. Dit het my baie trots op hom gemaak!
“Dit was die moeilikste reis wat ek nog ooit geneem het. Maar dit het ons gesin regtig gehelp om saam met ander wat Davey geken het, te treur en vertroosting te vind. Dit het gevoel asof ons harte nie meer so gebroke was nie.”
Aangemoedig deur Davey se voorbeeld
Die Ontwaak! van 8 Januarie 2005 bevat ’n artikel oor Davey se dood en sy diens in die Dominikaanse Republiek. Op daardie stadium het ons gesin geen idee gehad hoeveel hierdie artikel ander sou help nie. Byvoorbeeld, in Mei 2019 het ’n broer met die naam Nick ons gekontak en vir ons die volgende vertel:
“Teen die einde van 2004 was ek op universiteit en het ek geen geestelike doelwitte gehad nie. Ek was ongelukkig. Ek het vir Jehovah gebid en hom gevra om my te help om my jeug op ’n beter manier te gebruik. Nie lank daarna nie, het ek Davey se ondervinding in ’n Ontwaak! gelees. Dit was die antwoord op my gebed!
“Ek het die universiteit verlaat en begin pionier. Ek het ook vir myself die doelwit gestel om Spaans te leer en na ’n ander land te trek. Mettertyd kon ek in Nicaragua dien en ook die Skool vir Koninkrykspredikers saam met my vrou bywoon. Wanneer mense my vra wat my gemotiveer het om te pionier, vertel ek hulle van Davey se ondervinding.”
Ons het nog ’n verrassing gekry nadat ons ’n suster met die naam Abi ontmoet het. Sy was toegewys na ons hotel toe ons in 2019 afgevaardigdes was by die internasionale byeenkoms in Buenos Aires, Argentinië. Ons het gedink dat sy baie liefdevol en vriendelik was. Sy het vir my en Kaye albei baie aan Davey herinner.
Toe ons terug in ons hotelkamer was, het ons vir Abi die skakel na die Ontwaak!-artikel oor Davey gestuur. ’n Paar minute later het sy gereageer. Sy wou baie graag met ons praat, en daarom het ons haar by ontvangs ontmoet. Abi het begin huil en ons vertel dat dit Davey se ondervinding was wat haar aangemoedig het om in September 2011 te begin pionier en toe in ’n afgesonderde gebied te dien. Sy het gesê: “Wanneer ek uitdagings in my toewysing het, lees ek weer die artikel.” Sy het selfs ’n kopie by haar gehad!
Ondervindinge soos hierdie wys dat ons deel is van ’n wêreldwye familie. Niemand anders in die wêreld is verenig soos Jehovah se volk nie!
Dit vertroos my en Kaye dat Davey se ondervinding soveel mense gemotiveer het. En dit kan gesê word van al ons dierbare jongmense wat hulle beste in Jehovah se diens gee. Alhoewel hulle dit nie besef nie, raak hulle die lewens van ander wat hulle ywer sien. En deur hulle voorbeeld motiveer hulle ander om Jehovah na die beste van hulle vermoë te dien.
“Vir hom lewe hulle almal”
In Lukas 20:37 haal Jesus Jehovah se woorde aan toe Hy homself “die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob” genoem het. Jehovah het nie gesê dat hy hulle God was net terwyl hulle gelewe het nie, maar eerder dat hy nog steeds hulle God is! Hoekom? Jesus verduidelik in vers 38: “Vir hom lewe hulle almal.”
Ja, Jehovah beskou al sy getroue knegte wat gesterf het, asof hulle nog steeds lewe. En dit wys vir ons hoe vasbeslote hy is om hulle op te wek (Job 14:15; Johannes 5:28, 29). Ek is oortuig daarvan dat dit is hoe Jehovah oor Davey en al Sy ander getroue knegte voel, wat gesterf het.
Ek wil baie graag vir Davey weer sien. Maar daar is iets wat ek nog meer begeer, en dit is om te sien hoe Kaye met hom verenig sal word. Ek het nog nooit iemand gesien wat soveel emosionele pyn het nie. Die woorde in Lukas 7:15 is vir my baie spesiaal: “Die dooie man het regop gesit en begin praat, en Jesus het hom aan sy ma gegee.”
In September 2005 het ek saam met Kaye begin pionier. Dit is ’n voorreg om saam met my vrou, my kinders en hulle huweliksmaats, as ’n pionier te dien. As ’n verenigde gesin ondersteun ons mekaar. Ons bly gefokus op ons toekomstige hoop vir ’n nuwe wêreld waar ons weer met ons geliefde Davey verenig sal wees.