Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IRMA BENTIVOGLI | LEWENSVERHAAL

Ek dien die Gewer van “elke goeie gawe”

Ek dien die Gewer van “elke goeie gawe”

 Ons kon die waarskuwing van ’n bomaanval hoor. My ma het met my klein boetie in haar arms vir my na ’n vrugteboord daar naby gevat om onder die bome weg te kruip. Ek was net ses jaar oud.

 Toe die bomaanval ophou, het ek saam met my ma na haar beste vriendin gaan soek. Ons was baie hartseer toe ons hoor dat sy in die aanval gesterf het. ’n Paar dae later met die volgende bomaanval het my pa my voor op sy fiets gesit en so vinnig as wat hy kon, van die stad af weggery.

 Die Tweede Wêreldoorlog het groot vernietiging en baie swaarkry regoor Italië veroorsaak. Ek onthou daardie tyd nog baie goed. Maar iets wat die grootste invloed op my lewe gehad het, is dat ek van my kinderdae af altyd mense om my gehad het wat Jehovah geken het en wat baie lief was vir hom.

Die geskenk van die waarheid

 In die winter van 1936, ’n paar maande voordat ek gebore is, het my pa saam met ’n man met die naam Vincenzo Artusi by die spoorweg gewerk. Vincenzo was toe nog nie ’n gedoopte Getuie nie, maar hy het ’n diep liefde vir Bybelwaarheid gehad. Terwyl hulle die sneeu van die spoorlyne met ’n graaf weggeskep het, het hy my pa vertel van die dinge wat hy geleer het.

 My pa het dadelik besef dat wat Vincenzo hom vertel het, die waarheid is. Hy en ’n paar ander mense van ons dorp, Faenza, wou meer leer. In daardie dae, gedurende die Fascistiese vervolging, kon die Getuies nie openbare vergaderinge hou nie, en ’n mens kon gearresteer word as jy Bybelpublikasies gehad het. Party Getuies was in die tronk. Daarom het my pa en sy vriende in afgesonderde huise in die platteland bymekaargekom om die Bybel te lees en die publikasies wat hulle gehad het, te studeer. My pa het ook elke week ons gesin bymekaargebring vir ’n aand van Bybelstudie.

Die geskenk van goeie voorbeelde

 In 1943 is die meeste Getuies wat weens hulle godsdiensbedrywighede in die tronk was, vrygelaat. Een van hulle was ’n ongetroude suster, Maria Pizzato. Op pad terug na haar huis in die noorde van Italië het sy een aand by ons oorgeslaap. Sy het ’n belangrike rol gespeel om die Getuies te help om publikasies te kry en om in kontak met die takkantoor in Switserland te bly. Hulle het op daardie stadium toesig gehou oor die werk in Italië. Al het Maria swak gelyk, was sy ’n sterk, moedige vrou. Ná die oorlog het sy af en toe Faenza besoek, en ons was altyd opgewonde om haar te sien.

 ’n Ander suster wat ek goed onthou is Albina Cuminetti. Toe ek ’n tiener was, het hierdie bejaarde weduwee in die gebou gebly waar ons ons vergaderinge gehou het. Sy was ’n kolporteur (voltydse evangelieprediker) in Italië in die vroeë 1920’s. Albina het vir my baie wonderlike stories oor daardie vroeë jare vertel!

 Albina het ’n versameling van ons publikasies asook ander geskiedkundige items gehad. Eendag het ek ’n kruis-en-kroon-kenteken gesien wat die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies toe bekend gestaan het) gedra het. Ek was verbaas en het senuweeagtig gegiggel omdat ek geweet het dat die kruis van heidense oorsprong is. Albina het toe iets gesê wat ek nooit vergeet het nie. Sy het Sagaria 4:10 aangehaal en gesê: “Moenie die dag van ’n klein begin as onbelangrik beskou nie!”

Toe ek 14 was

 Daardie woorde het my ’n kragtige les geleer. Al het die vroeë Bybelstudente nie die waarheid ten volle verstaan nie, het hulle my respek verdien. En omdat nie al die publikasies in Italiaans beskikbaar was nie, het dit tyd geneem vir party van die broers om aan te pas by die nuwe verduidelikings. Maar Jehovah het hulle pogings waardeer, en ek moes ook.

 Al was ek baie jonger as Albina, het ek dit geniet om met haar te gesels. Sy, Maria en ook ander ywerige susters wat Jehovah ten spyte van groot uitdagings getrou gedien het, was goeie voorbeelde vir my. Ek is dankbaar vir die geleenthede wat ek gehad het om met hulle te assosieer.

Die geskenk van Betheldiens

 In die somer van 1955 het ek ná Rome gegaan om die “Triomfantelike Koninkryk”-byeenkoms by te woon. By daardie geleentheid het ek Bethel saam met ander afgevaardigdes uit verskillende lande besoek. Ek het gedink: ‘Hoe wonderlik sou dit wees om hier te dien!’

 Ek is op 18 Desember 1955 gedoop. Ek was nog op skool, maar ek was vasbeslote om in voltydse diens te wees. In 1956, by ’n byeenkoms in die stad Genua, het ek ’n aankondiging gehoor dat Bethel vrywilligers nodig gehad het. Maar die takverteenwoordiger het gesê dat hulle nie susters by Bethel nodig gehad het nie.

 Later het ek met ons kringopsiener, Piero Gatti, a oor my doelwitte gepraat. Hierdie entoesiastiese en ywerige evangelieprediker het geantwoord: “Ek sal jou vir spesiale pionierdiens aanbeveel.”

 Mettertyd het ek ’n brief van die takkantoor gekry. Ek was seker dat dit ’n toewysing was om te pionier, maar dit was nie. Dit was ’n uitnodiging om aansoek te doen vir Betheldiens!

Saam met Ilaria Castiglioni (wat staan), ’n vertaler wat saam met my in 1959 by Bethel was

 Ek het in Januarie 1958 by Bethel aangekom. In daardie tyd het die Bethelgesin uit nie meer as 12 mense bestaan nie. Ek is toegewys om die twee vertalers by die takkantoor te help. Daar was baie werk om te doen, en ek het geen ondervinding in vertaling gehad nie. Maar met Jehovah se hulp het ek vir my toewysing lief geword.

 Minder as twee jaar later is die vertaalwerk geherorganiseer en is ek na die veld as ’n pionier toegewys. Ek was baie verbaas omdat ek teen daardie tyd Bethel as my huis beskou het. Maar mettertyd het ek my nuwe toewysing as nog ’n geskenk van Jehovah beskou.

Die geskenk van ywerige velddiensmaats

 Op 1 September 1959 het ek as ’n spesiale pionier in die stad Cremona begin dien. My pioniermaat was Doris Meyer, wat van Denemarke af getrek het. Sy was net ’n paar jaar ouer as ek, maar sy was ’n ervare pionier, en ek het haar bewonder. Doris was moedig, het nie gou bang geword nie en was baie vasbeslote. Ons het al twee daardie eienskappe nodig gehad omdat ons die enigste Getuies in die hele stad was.

Ek het baie geleer by Doris (links) en Brunilde (regs), my pioniermaats in Cremona

 Doris het voor my in Cremona aangekom, en sy het gereël dat vergaderinge in ’n gehuurde woonstel gehou word. Die plaaslike Katolieke priesters het gou van ons bedrywighede bewus geword. Hulle was woedend en het mense in hulle preke teen ons gewaarsku.

 Eendag was ons beveel om na die plaaslike polisiestasie te gaan. Die polisiemanne het ons nie gearresteer nie, maar hulle het dit duidelik gemaak dat Doris, as ’n uitlander, Cremona moes verlaat. Sy het uiteindelik na Denemarke teruggegaan, waar sy aangehou het om Jehovah getrou te dien.

 Nie lank daarna nie is nog ’n ongetroude suster, met die naam Brunilde Marchi, toegewys om in Cremona te dien. Brunilde het ’n sagmoedige en aangename gesindheid gehad, en sy was lief vir die predikingswerk. Ons het baie Bybelstudies begin, en party van hulle het goeie vordering gemaak.

 Ek dank Jehovah vir die geleentheid wat ek gehad het om deel te wees van die klein begin van die predikingswerk in Cremona. Vandag is daar vyf gemeentes in daardie stad!

’n Aangename verrassing

 Ek was minder as twee jaar in Cremona toe ek ’n oproep van die takkantoor gekry het. Daar was baie vertaalwerk wat gedoen moes word vir die “Verenigde Aanbidders”-byeenkoms van ses dae, wat in Julie 1961 gehou sou word. Daarom is ek genooi om weer na Bethel terug te gaan. Ek het van blydskap op en af gespring! Ek het op 1 Februarie 1961 na Bethel teruggekeer.

 Ons het lang ure gewerk, maar dit was ’n voorreg om elke dag aan Bybelpublikasies te werk. Die maande het vinnig verbygegaan, en die tyd vir die byeenkoms het gou aangebreek.

 By daardie byeenkoms het ek die aankondiging gehoor dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Italiaans vertaal sou word. Ek het gedink: ‘Dit beteken dat daar nog baie werk voorlê.’ En ek was nie verkeerd nie. My toewysing by Bethel was verleng. Om die waarheid te sê, ek is vandag nog hier – meer as 60 jaar later!

In die Vertaalafdeling, 1965

Nog kosbare geskenke van Jehovah af

 Nog ’n geskenk wat ek oor die jare gekoester het, is om ongetroud te wees. Ek bedoel nie dat ek nooit daaraan gedink het om te trou nie. Om die waarheid te sê, daar was ’n tyd toe die gedagte om ongetroud te bly, my baie angstig gemaak het. Daarom het ek tot Jehovah daaroor gebid. Hy ken my beter as enige iemand anders. Ek het hom gevra om my te help om te verstaan wat die beste vir my sou wees.

 Tekste soos Matteus 19:11, 12, en 1 Korintiërs 7:8, 38 het vir my nuwe betekenis gekry, en ek dank Jehovah vir die innerlike vrede en die duidelikheid wat hy my gegee het. Ek was nog nooit spyt oor my besluit nie, en ek is dankbaar dat ek my ongetroude lewe kon gebruik om Jehovah my beste te gee.

 Deur die jare het ek baie veranderinge in die bedrywighede van die Vertaalafdeling gesien soos Jehovah se organisasie voortdurend nuwe tegnologie en ander “melk van [die] nasies” gebruik het (Jesaja 60:16). Hierdie veranderinge het die eenheid van die wêreldwye broederskap versterk. Byvoorbeeld, in 1985 is daar begin om die Italiaanse en Engelse uitgawe van Die Wagtoring gelyktydig uit te gee. Vandag is artikels en video’s in baie verskillende tale op jw.org beskikbaar, en die meeste van hulle verskyn op dieselfde tyd as die Engels. Dit is duidelik dat Jehovah seker maak dat sy volk verenig is en dat hulle geestelike voedsel op die regte tyd kry.

 Jehovah was nog altyd baie vrygewig teenoor my. Hy het my toegelaat om as ’n spesiale pionier te dien en mense te help om nader aan hom te kom. Hy het my begeerte bevredig om by Bethel te dien, waar ek vriende gemaak het met mense van verskillende ouderdomme en agtergronde. Nog ’n spesiale seëning wat ek gekry het, was om te sien hoe my ma op 68-jarige ouderdom ’n gedoopte kneg van Jehovah geword het. Ek verlang daarna om haar en die res van my familie weer te sien wanneer almal in die gedenkgrafte ’n opstanding sal kry. – Johannes 5:28, 29.

 Ek kan nie wag om te sien wat Jehovah in die toekoms vir sy knegte gaan doen, wanneer hy ‘alles nuut sal maak’ nie (Openbaring 21:5). Maar daar is een ding waarvan ek seker is: Jehovah sal nooit ophou om “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” op ons uit te stort nie. – Jakobus 1:17.

Vandag besig met werk in die Vertaalafdeling

a Piero Gatti se lewensverhaal verskyn in Die Wagtoring van 15 Julie 2011, bladsy 20-23.