Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

PHYLLIS LIANG | LEWENSVERHAAL

Jehovah het my gewilligheid geseën

Jehovah het my gewilligheid geseën

“Ek is bereid om te gaan.” Dit is hoe Rebekka in die Bybel geantwoord het toe sy ’n groot besluit moes neem wat haar lewe sou verander om Jehovah se wil te doen (Genesis 24:50, 58). Alhoewel ek nie aan myself dink as iemand spesiaal nie, het ek probeer om dieselfde gewilligheid te hê in Jehovah se diens. Daar was uitdagings, maar ek het gesien hoe Jehovah ’n gewillige gees seën, soms op onverwagse maniere.

’n Bejaarde man bring vir ons ’n skat

 ’n Paar jaar nadat ons gesin na die dorp Roodepoort in Suid-Afrika getrek het, het my pa gesterf. In 1947, toe ek 16 was, het ek voltyds by die regering se telefoondienste gewerk om te help om ons gesin finansieel te ondersteun. Terwyl ek eendag by die huis was, het ’n bejaarde man na ons huis toe gekom en vir ons ’n intekening op Die Wagtoring aangebied. Ons wou hom nie laat sleg voel nie, en daarom het ons dit aanvaar.

 Maar ons het binnekort begin belangstel in wat die Bybel werklik leer. My ma, wat aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk behoort het toe sy jonger was, kon die verskil sien tussen wat die Bybel leer en wat die kerk geleer het. Ons het ’n Bybelstudie aanvaar en gou gemeentelike vergaderinge begin bywoon. In 1949 was ek die eerste een in ons gesin wat gedoop is. Ek het aangehou om vir ’n paar jaar voltyds te werk, maar ek wou meer doen om Jehovah te dien.

Gewillig om te gaan waar daar hulp nodig was

FomaA/stock.adobe.com

Koeksisters

 In 1954 het ek begin om as ’n gewone pionier te dien, en ek het die takkantoor in Suid-Afrika gevra waar ek van meer hulp kon wees. Die takkantoor het die stad Pretoria voorgestel en gereël dat ’n pioniersuster daar by my aansluit. Die blyplek wat ons gedeel het, was gerieflik, en ek onthou nog die heerlike koeksisters wat hulle daar naby verkoop het.

 Nadat my pioniermaat getrou het, het die takkneg, broer George Phillips, gevra of ek as ’n spesiale pionier wil dien. Ek het met vreugde die uitnodiging aanvaar.

 In 1955 het ek met my eerste toewysing as ’n spesiale pionier in die dorp Harrismith begin. Dit was moeilik vir my en my nuwe pioniermaat om ordentlike blyplek te kry. Byvoorbeeld, die plaaslike kerk het van ons uitgevind en het druk op die vrou gesit by wie ons ’n plek gehuur het, om ons te vra om te gaan.

 Later was ek toegewys om in Parkhurst, in Johannesburg, te dien. Daar het twee sendelingsusters by my aangesluit. Later het een van hulle getrou, en die ander een het ’n ander toewysing gekry. ’n Dierbare suster met die naam Eileen Porter het my by hulle gesin laat bly, al was daar nie regtig ekstra blyplek nie. Ek het in ’n klein gedeelte geslaap wat met ’n gordyn geskei was van die res van die huis. Eileen was liefdevol en aanmoedigend, en ek het baie gemaklik gevoel by haar. Ek was beïndruk met haar ywer vir die waarheid, ten spyte van haar verantwoordelikheid om na haar gesin om te sien.

 Kort daarna was ek toegewys om in die dorp Aliwal-Noord, in die Oos-Kaap, te dien saam met ’n suster met die naam Merlene (Merle) Laurens. Die twee van ons – wat toe in ons 20’s was – was baie aangemoedig deur die voorbeeld van ’n ouer suster met die naam Dorothy, wat ons liefdevol tannie Dot genoem het. Toe sy jonger was, was sy aangeval deur honde terwyl sy in die bediening was, maar dit het nie haar ywer laat afneem nie.

 In 1956 het Merle vertrek om die 28ste klas van Gilead by te woon. Ek het so gewens dat ek saam met haar kon gaan! Maar tannie Dot het mooi na my gekyk, en ons het goeie vriende geword al was daar ’n groot ouderdomsverskil.

 Stel jou my vreugde voor toe ek, soos Merle, genooi was om Gileadskool by te woon! Voor my vertrek het ek agt maande in die dorp Nigel gebly waar ek saam met Kathy Cooke, ’n Gileadgegradueerde, gewerk het. Kathy het gemaak dat ek baie opgewonde was oor die ondervinding wat ek in Gilead sou hê, en in Januarie 1958 het ek na New York toe gegaan.

Gewillig om opgelei te word

 By Gilead het ek ’n kamer gedeel met Tia Aluni, ’n Samoaanse suster, en Ivy Kawhe, ’n Maori-suster. Terwyl ek in Suid-Afrika was, het die apartheidsregering witmense geskei van ander rasse, en daarom was dit vir my ’n baie spesiale ondervinding om hierdie susters as kamermaats te hê. Ek het gou geheg geraak aan hulle en was opgewonde om deel te wees van so ’n internasionale klas.

 Een van ons Gileadinstrukteurs was broer Maxwell Friend. Hy het ons partykeer op ’n dramatiese manier geleer. Daar was drie ligte in sy klaskamer, en hulle was gemerk met die woorde “Toonhoogte,” “Tempo” en “Stemsterkte”. Terwyl ’n student besig was om ’n toespraak of ’n demonstrasie te gee, het broer Friend een van die ligte aangeskakel as hy gevoel het dat die aanbieding op die een of ander manier nie goed genoeg was nie. Omdat ek skaam was, het hy gereeld die gevreesde ligte aangesit terwyl ek ’n deel gedoen het, en dan was ek soms in trane! Tog het ek gehou van broer Friend. Partykeer, terwyl ek besig was met my toewysing om skoon te maak, het hy vir my koffie gebring.

 Soos die maande verbygegaan het, het ek gewonder waarheen ek gestuur sou word. My vorige pioniermaat Merle het reeds aan Gilead gegradueer en was na Peru gestuur. Sy het voorgestel dat ek broer Nathan Knorr, wat destyds die leiding geneem het, vra of ek die plaasvervanger kon wees vir haar sendelingmaat, wat binnekort sou trou. Broer Knorr het elke paar weke na Gilead gekom, en daarom was dit maklik om met hom te praat. Nadat ek gegradueer het, was ek na Peru gestuur!

Dien in die berge

Saam met Merle (regs) in Peru, 1959

 Ek was so bly om weer saam met Merle in Lima, Peru, te wees! Kort nadat ek in Peru aangekom het, het ek Bybelstudies gehad wat vordering gemaak het, al was ek nog besig om Spaans te leer. Later was ek en Merle na Ayacucho gestuur, wat hoog bo in die berge was. Ek moet erken dat dit ’n moeilike toewysing was. Ek het ’n bietjie Spaans geken, maar die meeste mense daar het net Quechua gepraat, en dit het ons ’n tyd lank geneem om gewoond te raak aan die hoë lugdruk en die min suurstof.

Getuig in Peru, 1964

 Ek het gevoel dat ek nie enige iets bereik het in Ayacucho nie, en ek het gewonder of baie mense daar die waarheid sou aanvaar. Vandag is daar egter 700 verkondigers in die stad Ayacucho, en daar is ook ’n vertaalkantoor vir die Quechua-taal (Ayacucho).

 Mettertyd het Merle met ’n kringopsiener met die naam Ramón Castillo getrou, en in 1964 het Ramón ’n kursus van 10 maande by Gilead bygewoon. Saam met hom in die klas was een van my Gileadklasmaats, ’n jong man met die naam Fu-lone Liang, wat in Hongkong gedien het. Hy was teruggenooi na Gilead vir addisionele opleiding in verband met verantwoordelikhede by die takkantoor. a Fu-lone het vir Ramón gevra hoe dit met my gaan in Peru. Daarna het ek en Fu-lone vir mekaar begin skryf.

 Sommer gou het Fu-lone dit duidelik gemaak dat ons uitgaan omdat ons vir mekaar skryf. In Hongkong het Harold King, wat ook ’n sendeling was, gereeld poskantoor toe gegaan. Hy het ingestem om Fu-lone se briewe vir hom te pos. Harold het prentjies geteken of kort notas geskryf op die koeverte waarin Fu-lone se briewe was, wat gesê het: “Ek sal hom probeer kry om meer te skryf!”

Saam met Fu-lone

 Ons het besluit om te trou nadat ons omtrent 18 maande vir mekaar geskryf het. Ek het Peru verlaat nadat ek sewe jaar lank daar gedien het.

’n Nuwe lewe in Hongkong

 Ek en Fu-lone is op 17 November 1965 getroud. Ek het my nuwe lewe in Hongkong by die takkantoor geniet saam met my man en nog twee ander getroude paartjies. Terwyl Fu-lone gedurende die dag by die takkantoor besig was met vertaalwerk, was ek uit in die bediening. Dit was moeilik om Kantonnees te leer, maar die ander sendelingsusters en my dierbare man het my geduldig gehelp. Die Bybelstudies wat ek met jong kinders gehou het, het my ook gehelp om meer ontspanne te wees terwyl ek die taal geleer het.

Die ses lede van die Bethelgesin in Hongkong gedurende die 1960’s. Ek en Fu-lone staan in die middel

 Ná ’n paar jaar het ek en Fu-lone na ’n sendinghuis in ’n ander deel van Hongkong getrek wat Kwoen Tong genoem word. Daar het Fu-lone nuwe sendelinge wat pas aangekom het, Kantonnees geleer. b Ek het die bediening daar so baie geniet dat ek party dae nie wou huis toe gaan nie!

 In 1968 was ek baie bly om die nuwe studiepublikasie Die waarheid wat lei tot die ewige lewe te kry. Dit was makliker as die vorige studiepublikasie “Laat God waaragtig wees”, veral vir studente wat nie bekend was met die Bybel en die Christelike godsdiens nie.

 Maar ek het die fout gemaak om te dink dat studente die waarheid aanvaar het net omdat hulle die gedrukte vrae in die publikasie kon beantwoord. Eenkeer, sonder dat ek dit agtergekom het, het een van my Bybelstudente die hele Waarheid-boek klaar gestudeer en nog steeds nie in God geglo nie! Ek het geleer om meer met my studente te gesels om uit te vind hoe hulle regtig voel oor dit wat hulle geleer het.

 Ná ’n paar jaar in Kwoen Tong het ons teruggetrek na die takkantoor waar Fu-lone begin het om as ’n lid van die Takkomitee in Hongkong te dien. Oor die jare het ek Bethelkamers skoongemaak en ook by ontvangs gewerk. Daar was tye wat Fu-lone vir vertroulike teokratiese toewysings moes reis. Ek kon nie saam met hom gaan nie, maar dit was vir my ’n voorreg om hom te ondersteun terwyl hy omgesien het na sy verantwoordelikhede.

Fu-lone stel die tweede deel vry van die publikasie Jesaja se profesie in tradisionele en vereenvoudigde Chinees

’n Onverwagse verandering

 Ongelukkig het my hele lewe in 2008 oornag verander. Terwyl my geliefde Fu-lone op reis was, het hy onverwags gesterf, nie lank voor die Herdenking van Jesus se dood nie. Ek was verpletterd. Die broers en susters het gou gekom om my te ondersteun, en gedurende die Gedenkmaaltoespraak het ek besig gebly deur ’n persoon wat belanggestel het, te help om die tekste op te soek wat gelees was. Ek het krag gekry uit een van Fu-lone se gunstelingtekste wat lees: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas. . . . ‘Ek sal jou help.’” – Jesaja 41:13.

 Sewe jaar ná Fu-lone se dood het die broers in Hongkong voorgestel dat ek na ’n groter takkantoor toe trek, waar ek die gesondheidsorg kon kry wat ek nodig het. Daarom het ek in 2015 teruggetrek na die takkantoor in Suid-Afrika, wat nie baie ver is van waar ek die waarheid in 1947 gekry het nie.

 Ek het baie gelukkige jare in Jehovah se diens gehad, en ek voel dat hy my gewilligheid geseën het. Ek het nog kontak met van my Bybelstudente wat Jehovah getrou dien. En ek het gesien hoe Jehovah selfs die kleinste bydrae wat ons in die predikingswerk maak, kan seën. Byvoorbeeld die verkondigers in Peru het gegroei van 760 in 1958 na ongeveer 133 000 in 2021, en die verkondigers in Hongkong van ongeveer 230 in 1965 tot 5 565 in 2021.

 As gevolg van my ouderdom kan ek nie meer soveel doen soos wat ek altyd gedoen het nie. Maar ek het nog steeds ’n gewillige gees, en ek sien daarna uit om dieselfde gewillige gees in Jehovah se nuwe wêreld te hê, waar daar baie werk gaan wees om te doen. Dan sal ek gretig kan sê: “Ek is bereid om te gaan.”

a Lees hoe Fu-lone Liang in die waarheid gekom het in die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 51.

b Lees een van Fu-lone se ondervindinge in Kwoen Tong in die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 63.