TAPANI VIITALA | LEWENSVERHAAL
Ek vervul my begeerte om dowe mense te help
Toe ek Jehovah se Getuies vir die eerste keer ontmoet het, het hulle vir my die Bybel se belofte gewys dat “die ore van die dowes sal kan hoor” (Jesaja 35:5). Maar omdat ek doof gebore is, was dit vir my moeilik om klank voor te stel. As gevolg daarvan het daardie belofte my nie baie beïndruk nie. Ek was meer beïndruk toe hulle vir my uit die Bybel gewys het dat God se Koninkryk alle ongeregtigheid, oorloë, siektes en selfs die dood sou wegneem. Mettertyd het ek ’n intense begeerte gehad om dit wat ek geleer het, met ander dowe mense te deel.
Ek is in 1941 in Virrat, Finland, gebore. My familie was almal doof. Albei my ouers, baie van my familielede en my jonger broer en suster was doof. Ons het met gebaretaal gekommunikeer.
Ons leer wonderlike dinge uit die Bybel
Ons was nie toegelaat om gebaretaal te gebruik in die kosskool waarheen ek gegaan het nie. Dit was ongeveer 240 kilometer van ons huis af. Op daardie tyd het die skole vir die dowes in Finland studente geforseer om die gesproke taal te praat en lippe te lees. As ons onderwysers gesien het dat ons gebaretaal gebruik, het hulle ons met ’n liniaal of ’n stok so hard geslaan dat ons vingers dae lank geswel was.
Ná hoërskool het ek na ’n landbou-kollege gegaan. My ouers het ’n plaas gehad, en ek moes leer om te boer. Toe ek teruggekom het huis toe, het ek Die Wagtoring en Ontwaak! op die tafel gesien. My pa het my vertel dat hierdie tydskrifte wonderlike dinge uit die Bybel verduidelik en dat mense wat kan hoor, met hom en my ma die Bybel studeer. Hulle het met my ouers gekommunikeer deur notas te skryf.
My pa het my vertel dat onder God se Koninkryk die aarde ’n pragtige paradys sal word en dat die dooies opgewek sal word. Maar ek is geleer dat mense wat doodgaan, hemel toe gaan. Ek het gedink dat hy die Getuies verkeerd verstaan het omdat hulle nie gebaretaal gebruik het om met hom te kommunikeer nie.
Toe die paartjie weer my ouers besoek het, het ek hulle gevra oor die dinge wat my pa my vertel het. Hulle het my verseker: “Jou pa is reg.” Toe het hulle my gewys wat Jesus oor die opstanding gesê het in Johannes 5:28, 29. Hulle het beskryf hoe God die aarde gaan skoonmaak van goddeloosheid en vir my vertel dat mense vir ewig sal lewe in volmaakte gesondheid en vrede. – Psalm 37:10, 11; Daniël 2:44; Openbaring 21:1-4.
Ek wou meer weet, en daarom het ek die Bybel begin studeer met ’n Getuie wat kon hoor met die naam Antero. Hy het nie gebaretaal geken nie, en daarom het ek die antwoorde op die vrae in die studieboek op papier neergeskryf. Dan het Antero dit gelees en ekstra vrae of kommentare neergeskryf. Hy het elke week twee ure geduldig met my gestudeer deur hierdie metode te gebruik.
In 1960 het ek ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon waar die program in gebaretaal getolk is. Vrydagmiddag was ’n aankondiging gemaak dat daar die volgende dag mense gedoop sou word. So Saterdagoggend het ek my swembroek en ’n handdoek saam met my gevat en is ek gedoop! a Nie lank daarna nie is my ouers en my jonger boetie en sussie ook gedoop.
Ek deel Bybelwaarhede
Ek wou die dinge wat ek geleer het, met ander dowe mense deel, en die beste manier om hulle te bereik was om gebaretaal te gebruik. Aan die begin het ek ywerig vir die dowe mense in my tuisdorp gepreek.
Kort daarna het ek na Tampere, ’n groot nywerheidstad, getrek. Ek het na dowe mense gesoek deur van huis tot huis te gaan en die huisbewoner te vra of hulle enige dowe mense geken het. Ek het op hierdie manier Bybelstudies begin, en in net ’n paar jaar het Tampere meer as tien dowe verkondigers gehad.
In 1965 het ek ’n pragtige suster, Maire, ontmoet. Ons is die volgende jaar getroud. Maire het gou gebaretaal geleer, en sy was ’n lojale en ywerige metgesel in die 50 jaar wat ons Jehovah saam gedien het.
Twee jaar ná ons troue is ons seun, Marko, wat horend is, gebore. By die huis het hy Fins, sy moedertaal, en ook Finse Gebaretaal geleer. Marko was gedoop toe hy 13 jaar oud was.
Mettertyd het baie nuwe mense by ons gebaretaalgroep in Tampere aangesluit. Daarom het ons in 1974 na ’n ander stad, Turku, getrek waar daar geen dowe Getuies was nie. Ons het weereens na dowe mense gesoek deur van huis tot huis te gaan. Gedurende ons jare in Turku, is 12 van my Bybelstudente gedoop.
Werk in die Baltiese lande
In 1987 was Marko genooi om by Bethel te dien. Ons gebaretaalgroep in Turku het sterk geword, en daarom het ons planne begin maak om weer te trek.
Omtrent daardie tyd het die gebiede in Oos-Europa begin oopgaan. So in Januarie 1992 het ek saam met ’n dowe broer na Tallinn, Estland, gereis.
Ons het ’n Christensuster ontmoet wie se broer doof is. Alhoewel hy nie in die Koninkryksboodskap belanggestel het nie, het hy ons vriendelik gehelp om baie Estlanders wat doof is, te kontak. Die laaste aand van ons besoek het hy ons na ’n vergadering van die Estland se Vereniging vir die Dowes in Tallinn gevat. Ons het vroeg daar aangekom en ’n tafel vol gepak met Estiese en Russiese tydskrifte en boeke. Ons het omtrent 100 boeke en 200 tydskrifte geplaas en omtrent 70 adresse gekry. Daardie aand was die fondasie gelê vir die gebaretaalbediening in Estland!
Kort daarna het ek en Maire gereeld na Estland gereis om te preek. Ons het minder ure aan ons sekulêre werk gespandeer en as gewone pioniers begin dien. In 1995 het ons nader aan Helsinki getrek sodat dit makliker sou wees om op die veerboot na Tallinn te reis. Ons bediening in Estland het al ons verwagtinge oortref!
Ons het meer Bybelstudies gehad as wat ons kon hanteer. Sestien van ons studente het tot doop gevorder, insluitende twee vleeslike susters wat blind en doof was. Ek het elke studiesessie met hulle die gebare in hulle hande gemaak – ’n metode wat tasbare gebaretaal genoem word.
Dit was ’n uitdaging om met dowe mense te studeer. Op daardie stadium was daar nie publikasies in gebaretaal vir ons veld beskikbaar nie, so ek het baie gebruik gemaak van die pragtige prente in ons publikasies, wat ek in ’n boek geplak het.
Die takkantoor in Finland het my gevra om Letland en Litaue te besoek om uit te vind hoe gebaretaal-bedrywighede in daardie lande bevorder kon word. Ons het hierdie lande ’n paar keer besoek en die plaaslike Getuies gehelp om na dowe mense te soek. Amper elke land het sy eie gebaretaal. So ek het die gebaretaal geleer van Estland, Letland en Litaue. Ek het ook Russiese Gebaretaal geleer, wat dowe Russiese mense gebruik wat in die Baltiese lande woon.
Ongelukkig nadat ons agt jaar lank na Estland en ander Baltiese lande gereis het, is Maire met Parkinson-siekte gediagnoseer en moes ons ophou.
Georganiseerd om die dowes te help
In 1997 is ’n vertaalgroep in gebaretaal by die takkantoor in Finland begin. Omdat ons daar naby gebly het, kon ek en Maire help met die vertaalwerk van publikasies in gebaretaal, iets wat ek nog steeds af en toe doen. Ons het saam met ons seun, Marko, gewerk. Saam met sy vrou, Kirsi, het Marko ook later gehelp om vertaalgroepe in gebaretale in ander lande op te lei.
Verder het die takkantoor ook kursusse gereël vir verkondigers wat kan hoor, om gebaretaal te leer. Danksy hierdie kursusse het baie broers en susters by gebaretaalgroepe en -gemeentes aangesluit. Hulle ondersteun die predikingswerk en vergaderinge en help met die verantwoordelikhede in die gemeente.
My begeerte om te help brand nog steeds
In 2004 het ek en Maire gehelp om die eerste Finse Gebaretaalgemeente in Helsinki te begin. Binne drie jaar het dit ’n sterk en ywerige gemeente geword met baie pioniers.
Ons het weer planne begin maak om na ’n gebied te trek waar daar meer hulp nodig was. In 2008 het ons naby aan Tampere getrek en teruggegaan na die gebaretaalgroep wat ons 34 jaar tevore verlaat het. ’n Jaar later het daardie gebaretaalgroep die tweede gebaretaalgemeente in Finland geword.
Maar teen hierdie tyd het Maire se gesondheid al hoe meer agteruitgegaan. Ek het haar tot haar dood in 2016 versorg. Al mis ek Maire baie, sien ek daarna uit om haar in die nuwe wêreld te sien, waar daar geen siekte sal wees nie. – Jesaja 33:24; Openbaring 21:4.
Maar intussen brand my begeerte nog sterk om die goeie nuus met dowe mense te deel – iets wat my lewenswerk die afgelope 60 jaar is!
a Dit was voordat die reëling ingestel is dat gemeentelike ouermanne eers met doopkandidate bymekaar moet kom.