Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

TERRY REYNOLDS | LEWENSVERHAAL

Jehovah het my gehelp om vir hom my beste te gee

Jehovah het my gehelp om vir hom my beste te gee

 Ek was 14 jaar oud toe ’n ouer geestelike broer met die naam Cecil vir my sy Bybel gegee het. Dit was die een wat hy vir sy persoonlike studie gebruik het, en sy handgeskrewe notas was in die kantlyn. Ek het gedink: ‘Wat ’n wonderlike geskenk!’

 Cecil was ’n nederige broer wat regtig vir ander omgegee het. Sy voorbeeld, asook dié van my ma en ander getroue broers en susters in die gemeente, het in my “die begeerte . . . om op te tree”, of om vir Jehovah my beste te gee, gewek (Filippense 2:13). Kom ek vertel julle my verhaal.

Gemotiveer deur my ma se ywer

 Ek is in 1943 gebore. My ouers het op ’n plaas naby die kusstad Bundaberg gebly in die streek van Queensland, Australië, waar suikerriet groei. Die plaaslike mense het gewoonlik op Saterdagaande dorp toe gegaan vir assosiasie. In 1939 het my ouers by een van hierdie geleenthede twee pioniers (voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies) ontmoet wat met hulle oor die Bybel gepraat het. Dit wat my ouers geleer het, het hulle hart geraak, en hulle het uiteindelik Jehovah se Getuies geword. As gevolg hiervan het ek en my suster, Jean, in ’n Christenhuis grootgeword. Maar ongelukkig is my pa dood toe hy by die trappe afgeval het. Ek was net sewe jaar oud, en sy dood het my diep geskok. Maar ek onthou goed dat hy baie hardwerkend was en ’n goeie sin vir humor gehad het. Ek kan nie wag om hom in die opstanding te sien en om hom beter te leer ken nie! – Handelinge 24:15.

 My ma was liefdevol en redelik. Sy het my en my suster toegelaat om openlik te sê waarvan ons gehou het en waarvan ons nie gehou het nie. Maar wanneer dit by Bybelbeginsels en die aanbidding van Jehovah gekom het, het my ma ferm standpunt ingeneem. Ons het gereeld Christelike vergaderinge bygewoon. My ma het ook vir my en Jean gewaarsku om nie te veel tyd ná skool saam met kinders wat nie Getuies was nie, te spandeer nie (1 Korintiërs 15:33). Wanneer ek nou daaraan terugdink, is ek baie dankbaar vir haar ferm standpunt.

Toe ek omtrent 14 jaar oud was

 My ma was ook ’n ywerige Koninkryksverkondiger en het gereeld as ’n vakansiepionier (nou ’n hulppionier) gedien. Ek onthou hoe sy meer as 50 huisgesinne gereeld besoek het om vir hulle die tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! te vat. Selfs toe sy bejaard en verswak was, het sy nog steeds ’n sterk begeerte gehad om dié te help wat in die waarheid belanggestel het. As gevolg van haar liefde vir ander en veral vir haar kinders, was ons lief vir haar en het ons probeer om haar voorbeeld te volg. In 1958, toe ek 14 jaar oud was, het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek gedoop.

Aangemoedig deur goeie vriende

 Nie lank daarna nie, is Rudolf, wat in sy 20’s en in ons gemeente was, ook gedoop. Hy het van Duitsland af geïmmigreer. Op Saterdagoggende het ek en Rudolf dikwels vir mense getuig wat in hulle karre gesit het terwyl hulle familie inkopies gedoen het.

 Rudolf was ’n ywerige broer wat my genooi het om saam met hom as ’n vakansiepionier te dien gedurende skoolvakansies. By een van hierdie geleenthede het ons ses weke saam in die stad Gladstone, wat omtrent 190 kilometer noord van Bundaberg is, gespandeer. Die manier waarop Rudolf soos ’n ouer broer my probeer help het, asook die vreugde wat ek ervaar het om as ’n vakansiepionier te dien, het by my die begeerte laat ontstaan om ’n gewone pionier te word. Toe ek 16 jaar oud was, het ek daardie doelwit bereik en was ek vasbeslote om voltydse diens my loopbaan te maak.

 My eerste toewysing as ’n pionier was in Mackay, ’n kusstad noord van Bundaberg en nie ver van die Groot Barrière-rif nie. Omtrent ’n jaar later, toe ek 17 was, is ek aangestel om as ’n spesiale pionier a te gaan dien in die agterveld van Australië, waar daar nie baie mense bly nie. My pioniermaat was ’n gesalfde broer met die naam Bennett (Ben) Brickell, en hy was meer as 30 jaar ouer as ek. b Dit was ’n wonderlike geleentheid vir my om saam met so ’n ervare pionier te werk, wat baie mense as ’n uitstaande pionier beskou het!

Getuig vir ’n vrou wat ’n Australiese inboorling is in die agterveld, 1963

 Ons gebied was in die noordweste van Queensland in die Golf-gebied – ’n streek wat grens aan die Golf van Carpentaria. Op daardie stadium was ek en Ben die enigste Getuies in hierdie gebied waar baie min mense gewoon het. Dit het ons partykeer ure geneem om van een huis na ’n ander huis te ry. Gedurende daardie lang ritte op grondpaaie het Ben my dikwels vertel van sy vroeëre ondervindinge in die bediening. Dit het ingesluit dat hulle met klankmotors c gedurende die Tweede Wêreldoorlog gepreek het, toe die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied was.

’n Broer en ek (in die middel) hou ’n Bybelstudie in die agterveld

 Ná ’n dag in die bediening het ons langs die pad op ’n geskikte plek vir die nag gekamp. d Ons het hout bymekaargemaak en ’n kampvuur begin om kos te maak. My bed was ’n waterdigte seil wat ek op die grond gegooi het, met komberse en ’n kussing. Ek onthou nog hoe ek met ontsag gevul was vir Jehovah terwyl ek opgekyk het na die hemel vol sterre wat ek duidelik kon sien omdat daar geen ligte naby was nie.

 In hierdie afgesonderde gebied kon dit nogal gevaarlik wees as jou kar breek. By een geleentheid het ons ’n as gebreek. Dit was ’n warm dag, en ons het nie genoeg water gehad nie. Om die as te vervang, het Ben ’n geleentheid gekry na die dorp Cloncurry. Ek moes amper drie dae lank by die kar bly. ’n Paar karre het verbygery, en die bestuurders was gaaf genoeg om vir my water te gee. Een man het ook vir my ’n boek gegee wat uitmekaargeval het. Hy het gesê: “Lees dit. Miskien kan dit jou help.” Tot my verbasing het die boek, wat nie deur ons organisasie uitgegee is nie, gegaan oor ondervindinge van Jehovah se Getuies in die Nazi-konsentrasiekampe!

 Ek en Ben het amper ’n jaar lank saam gepionier. Toe ons mekaar die laaste keer gesien het, het hy vir my gesê: “Hou aan stry, broer.” Ben se voorbeeld van goddelike toegewydheid en ywer het my net meer vasbeslote gemaak om in die voltydse diens te bly.

Gilead en toe Taiwan

 Nadat ek ’n hele paar jaar in die agterveld gepionier het, was ek genooi om as ’n kringopsiener te dien. Dit het ingesluit dat ek elke gemeente of afgesonderde groep in ’n kring ’n week of langer besoek het. Oor die jare was ek toegewys aan vier kringe. Dit het gemeentes in Queensland en Nieu-Suid-Wallis ingesluit. Toe in 1971 het ek ’n onverwagse voorreg gekry om die 51ste klas van Gilead, die sendingskool van Jehovah se Getuies in New York, by te woon. Vyf maande van intensiewe Bybelstudie en opbouende assosiasie met ander studente en instrukteurs het my help voorberei vir my volgende toewysing – sendingwerk in Taiwan.

My Gileadklas

 Nege studente van ons klas was na Taiwan gestuur, insluitende Ian Brown van Nieu-Seeland. Hy het my sendelingmaat geword. Ons het omtrent niks oor Taiwan geweet nie. Ons was nie eers seker waar dit is nie totdat ons na ’n atlas gekyk het nie.

 Ek kan nie dink aan twee plekke wat so verskillend is soos die agterveld van Queensland en Taiwan nie! Ons eerste groot uitdaging was die taal – Chinees. Vir ’n lang ruk kon ek glad nie verstaan wat gesê is by die gemeentelike vergaderinge nie, wat ’n groot bron van geestelike aanmoediging is. Ek kon ook nie goed met my broers en susters kommunikeer nie. Hierdie situasie het vir my en Ian gehelp om te verstaan waarom ons so baie dinge by Gilead moes leer. Dit, saam met gereelde Bybelstudie en hartgrondige gebed, het ons gehelp om ons verhouding met Jehovah sterk te hou. En al kon ons nie goed met ons broers en susters kommunikeer nie, het hulle liefde vir ons en vir Jehovah ons baie aangemoedig.

Ek leer Chinees

 Nadat ons in Taiwan aangekom het, het al die sendelinge ’n kort, intensiewe kursus in Chinees gedoen. Ons onderwyser was ’n suster van Australië met die naam Kathleen Logan, e wat aan die 25ste klas van Gilead gegradueer het. Ons het heeltemal daarop gefokus om die taal te leer. En soos ons onderrig is, het ons dit wat ons geleer het, so gou as moontlik gebruik. Vir ons eerste dag in die bediening het ek en Ian ’n kort aanbieding gememoriseer. Op pad na die gebied het ons gepraat oor wie die eerste deur sou doen. Omdat ek ouer as Ian was, het ek in ’n grap vir hom gesê dat hy die eerste deur moes doen. Die huisbewoner was ’n waardige Chinese man. Hy het geduldig na Ian se mengsel van Chinees en Engels geluister. Toe het hy tot ons verbasing vlot in Engels vir ons gevra wat ons wou hê! Ons het vir ’n rukkie gepraat en aan die einde van ons gesprek het hy ons aangemoedig om aan te hou om Chinees te leer. Sy vriendelike woorde het ons die vertroue gegee om ‘aan te hou stry’, soos Ben sou sê.

 Ons gebied was ’n groot gedeelte van die hoofstad, Taipei. Die meeste mense het nog nooit die Koninkryksboodskap gehoor nie omdat net ’n paar Getuies daar gebly het. Dit het my en Ian nie afgesit nie, en ons het ywerig begin preek. Ons het dikwels in daardie dae honderde tydskrifte elke maand geplaas. Dit is so dat party mense net die tydskrifte geneem het om uit te vind wie ons was en wat ons probeer sê het! Maar ons het ons bes gedoen om saadjies van Koninkrykswaarheid te saai met die vertroue dat dit in ontvanklike harte sou groei.

Gehelp deur my nuwe lewensmaat

Ek en Wen-hwa in die veldbediening, 1974

 In hierdie tyd het ek vriende geword met ’n plaaslike Taiwannese suster met die naam Wen-hwa. Sy was lief vir die waarheid en wou die plaaslike mense help om, net soos sy, baat te vind by die boodskap uit die Bybel. So sy het baie sendelinge, asook vir my, gehelp om Chinees beter te praat. Ek het lief geword vir hierdie bekwame suster, en ons is in 1974 getroud.

 Wen-hwa het die sendelinge gehelp om meer effektief in die bediening te wees. Byvoorbeeld, sy het ons gehelp om die gebruike en die manier hoe Taiwannese mense dink, te verstaan. En sy het ons gehelp om ons aanbieding aan te pas by die plaaslike gebied, wat oorheersend Boeddhiste en Taoïste is. Vooroueraanbidding was algemeen, en die meeste mense het nog nooit die Bybel gelees of selfs gesien nie. So ons het ons aanbiedings gefokus op die Skepper – dat sy naam Jehovah is en dat ons ook daarvan seker kan wees dat hy bestaan. Byvoorbeeld, as ’n boer of ’n visserman die uitdrukking gebruik “Ons vertrou op die hemel vir kos”, sou ons antwoord: “Wie is die Een wat al die kos voorsien? Is dit nie die God wat almagtig is, wat alle dinge geskep het en wat ons aanbidding verdien nie?”

Saam met Wen-hwa, 1975

 Soos die tyd verbygegaan het, is ons pogings beloon. Koninkryksaad het geval op goeie grond in baie ontvanklike harte. Party van hierdie Bybelstudente moes hard daaraan werk om diepgewortelde valse leringe en onskriftuurlike gebruike te oorkom. Maar met die hulp van die sendelinge en die plaaslike verkondigers was hulle suksesvol en het hulle lewens baie verbeter (Johannes 8:32). Baie broers is later as ouermanne en bedieningsknegte aangestel, en heelwat broers en susters het met voltydse diens begin, insluitende om by die plaaslike takkantoor, of Bethel, te dien.

 In 1976 het ek die voorreg gehad om op die Takkomitee in Taiwan te dien terwyl ek nog as ’n sendeling in die veld gedien het. In 1981 is ek en Wen-hwa na Bethel genooi, waar ek baie jare lank op die Takkomitee gedien het. Dit is meer as 60 jaar gelede dat ek met voltydse diens begin het. Ek het meer as 50 van daardie jare in Taiwan spandeer, en ek is amper 50 jaar saam met my geliefde vrou. My vorige sendelingmaat en vriend, Ian Brown, het hier in voltydse diens gebly tot en met sy dood in 2013.

Ek werk in my kantoor in Taiwan, 1997

 Ek en Wen-hwa probeer om besig te bly in ons Betheldiens, ons Chinese gemeente en die bediening. Ons dank Jehovah vir hierdie kosbare voorregte. Hy het my die begeerte en ook die krag gegee om hom heelhartig te dien terwyl ek ’n seun was, en hy hou aan om dit vir my en Wen-hwa te doen noudat ons ouer is.

a ’n Spesiale pionier is ’n voltydse bedienaar wat as ’n vrywilliger gestuur word deur die takkantoor van Jehovah se Getuies na ’n gebied waar daar ’n behoefte aan Bybelonderrigters is.

b Bennett Brickell se lewensverhaal verskyn in Die Wagtoring van 1 September 1972.

c Klankmotors het ’n luidspreker buite gehad wat gemaak het dat mense die Koninkryksboodskap oor ’n groot afstand kon hoor.

d Om te sien hoe broers in die Golf-gebied preek, kyk na die video Getuieniswerk in ’n afgesonderde gebied—Australië.

e Harvey en Kathleen Logan se lewensverhaal verskyn in Die Wagtoring van Januarie 2021.