Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DORINA CAPARELLI | LEWENSVERHAAL

Al is ek skaam, sal ek dit weer doen!

Al is ek skaam, sal ek dit weer doen!

Ek was nog altyd baie skaam. En daarom kan ek nie glo watter opwindende avonture ek in Jehovah se diens gehad het nie.

 Ek is in 1934 in Pescara gebore, ’n stad op die sentraal-ooskus van Italië by die Adriatiese See. Ek was die jongste van vier dogters. My pa het besluit om ons name in alfabetiese volgorde te gee. Hy het by “A” begin, en daarom begin my naam met ’n “D”.

 My pa het altyd in geestelike dinge belanggestel. Hy het in Julie 1943 die eerste keer in aanraking gekom met Jehovah se Getuies, toe ’n man met die naam Liberato Ricci, wat met die Getuies geassosieer het, met hom oor die Bybel gepraat het. Hy het vir my pa ’n kopie van Die Wagtoring gegee. Nie lank daarna nie het my pa met ander mense begin praat oor wat hy geleer het. My ma het ook die waarheid aanvaar. Al kon my ma nie lees nie, het sy nog steeds vir ander mense van haar hoop vertel en Bybelverse aangehaal wat sy gememoriseer het.

 Ons klein huisie het die middelpunt van bedrywigheid geword. Ons het ons Christelike vergaderinge daar gehou. En al het ons net twee slaapkamers gehad, het ons blyplek aan reisende opsieners en pioniers voorsien.

 My twee oudste susters het nie in die Bybel belanggestel nie en het uiteindelik die huis verlaat om te trou. Maar ek en my suster Cesira was lief daarvoor om na my pa te luister terwyl hy die Bybel gelees het. Ons het dit ook geniet om na die aanmoedigende toesprake te luister wat deur die broers gegee was wat ons klein groepie besoek het.

 Ek het dikwels saam met my pa en ander in die bediening uitgegaan, maar omdat ek so skaam was, het dit my maande geneem om die moed bymekaar te skraap om met die huisbewoners te praat. Tog het my liefde vir Jehovah bly groei, en in Julie 1950 is ek gedoop. ’n Broer het die dooptoespraak by ons huis gegee, en daarna het ons na die see toe gegaan vir die doop. Die volgende jaar is ’n getroude paartjie wat as spesiale pioniers gedien het, na ons gebied toegewys, en ek het baie keer saam met hulle gaan preek. Hoe meer tyd ek in die bediening gespandeer het, hoe makliker het dit geword. My liefde vir hierdie wonderlike voorreg van diens het net al hoe groter geword!

’n Besluit wat my lewe verander het

 Ons eerste kringopsiener was Piero Gatti. a Hy het my nie net aangemoedig om te pionier nie, maar ook om te gaan dien in ’n gebied waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was – iets waaraan ek nog nooit eers gedink het nie. In ons area was dit die gebruik vir meisies om by die huis te bly totdat hulle trou. So in Maart 1952 het ek begin pionier terwyl ek nog by die huis gebly het. Ek het toe nie besef watter invloed daardie besluit op my lewe sou hê nie.

 ’n Jong suster met die naam Anna wou toe ook begin pionier. Sy het by ons kom bly sodat ons saam in die bediening kon uitgaan. In 1954 het ons twee die toewysing gekry om in Perugia as spesiale pioniers te dien. Dit was ’n stad wat ongeveer 250 kilometer van ons huis af was, en daar was geen Getuies nie.

Anna, my pa en ek net voordat ons Perugia toe gegaan het

 Wat ’n avontuur was dit tog! Ek was maar net 20 jaar oud, en die enigste keer wat ek weg was van my tuisdorp, was toe ek saam met my ouers na ’n streekbyeenkoms gegaan het. Nou het dit vir my gevoel asof ek na die anderkant van die wêreld toe gaan! My pa was ’n bietjie bekommerd dat ek en Anna alleen moes bly. Daarom het hy saam met ons gegaan om blyplek te soek. Ons het ’n kamer gehuur wat ook gebruik kon word as ’n Koninkryksaal. Maar aan die begin was dit net ons wat die vergaderinge bygewoon het. Tog het ons wonderlike tye gehad terwyl ons in Perugia gepreek het. Ons het ook in die dorpies daar naby gepreek en baie mense gevind wat belanggestel het om die Bybel te studeer. Omtrent ’n jaar later het ’n broer na Perugia getrek, en hy het die vergaderinge vir ons gehou. Teen die tyd dat ons in 1957 ’n nuwe toewysing gekry het, was daar ’n klein gemeente.

Saam met ’n kringopsiener se vrou en Anna naby die Middeleeuse Fontana (Fontein) Maggiore in Perugia, 1954

 Ons volgende toewysing was in ’n klein stad met die naam Terni, in Sentraal-Italië. Ons was baie opgewonde om in Terni te preek omdat daar reeds baie mense was wat belanggestel het. Maar ons het ook uitdagings gehad. Alhoewel die Fascistiese bewind in 1943 amptelik geëindig het, het party owerhede nog aangehou om Jehovah se Getuies te probeer keer om die Bybel se boodskap te versprei. Hulle het daarop aangedring dat ons ’n lisensie moes hê om van deur tot deur te preek.

 Die polisie het dikwels Jehovah se Getuies agtervolg. Partykeer kon ons wegkom van die polisie deur saam met ’n groep mense te loop, maar dit het nie altyd gewerk nie. Ek was voorgekeer en twee keer gearresteer. Die eerste keer was ek besig om saam met die kringopsiener te preek. Die polisie het ons gearresteer en na die polisiestasie toe gevat, waar hulle ons aangekla het dat ons sonder wetlike toestemming gepreek het. Hulle het ook vir ons ’n boete gegee. Ons het geweier om die boete te betaal, aangesien ons geen wet gebreek het nie. Ek was so bang dat ek my eie hart kon hoor klop! Ek was baie dankbaar teenoor Jehovah dat ek nie alleen was nie. Ek het die gerusstellende woorde in Jesaja 41:13 onthou: “Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.” Ons was vrygelaat, en toe ons in die hof verskyn het, het die regter gesê dat daar geen bewyse is dat ons iets verkeerds gedoen het nie. Ses maande later was ek weer gearresteer. Hierdie keer was ek alleen. Maar die regter het weer gesê dat ek onskuldig was.

Meer geleenthede om Jehovah te dien

 Ek onthou dat ek baie opgewonde was oor ’n streekbyeenkoms wat in 1954 in Napels, in die suide van Italië, gehou was. Nadat ek daar aangekom het, het ek aangebied om te help om die plek waar die byeenkoms gehou sou word, skoon te maak. Ek was toegewys om naby die verhoog te werk. Daar het ek ’n aantreklike jong saalwagter gesien. Sy naam was Antonio Caparelli, ’n pionier van Libië. Sy familie het in die laat 1930’s van Italië soontoe getrek.

Antonio op sy motorfiets wat hy in Libië gebruik het

Op ons troudag

 Antonio was energiek en moedig. Hy het met sy motorfiets tot diep in die Libiese woestyn gery om vir Italianers wat daar gebly het, te preek. Ons het van tyd tot tyd vir mekaar geskryf. Maar vroeg in 1959 het hy teruggekeer na Italië toe. Hy het ’n paar maande by Bethel in Rome gedien waarna hy toegewys is om as ’n spesiale pionier in die stad Viterbo, in Sentraal-Italië, te dien. Ons liefde het gegroei, en ons is op 29 September 1959 getroud. Ek het saam met Antonio na Viterbo gegaan.

 Ons het ’n plek nodig gehad waar ons kon bly en waar ons vergaderinge kon hou. Uiteindelik het ons ’n kamer op die grondvloer gehuur wat soos ’n klein winkeltjie was met ’n klein badkamer agter. Ons het ons bed in die een hoek gesit met ’n skerm voor die bed. Dit was die slaapkamer. Die res van die spasie was of ons woonkamer of die Koninkryksaal, afhangende van watter dag dit was. Die kamer was nie ideaal nie, en ek sou nie gekies het om alleen daar te bly nie. Maar ek was gelukkig omdat ek en Antonio saam was.

Voor die skerm van ons “slaapkamer”

 In 1961 is Antonio as ’n kringopsiener aangestel. Maar hy moes eers ’n maand lank die skool vir gemeenteknegte, of opsieners, bywoon. Dit het beteken dat ek ’n maand lank alleen moes bly. Ek moet erken dat ek jammer gevoel het vir myself, veral in die aande wanneer ek alleen in ons klein kamertjie was. Tog was ek gelukkig dat Jehovah Antonio gebruik het. Ek het ook besig gebly, en daarom het die tyd gou verbygegaan.

 Die reisende werk het beteken dat ons baie moes reis. Ons het van Veneto, ’n streek in die noorde van Italië, na Sisilië in die suide gegaan. Aan die begin het ons nie ’n kar gehad nie, en daarom moes ons van openbare vervoer gebruik maak. By een geleentheid, ná ’n ongemaklike busrit in die platteland van Sisilië, het broers vir ons by die busstop gewag. Hulle het ’n donkie saamgebring om ons bagasie te dra. Antonio het ’n pak klere met ’n das aangehad, en ek het ’n mooi rok aangehad. Dit moes nogal snaaks gewees het om ons so te sien loop saam met boere en ’n donkie wat ons tasse en tikmasjien gedra het.

 Die broers was baie vrygewig, al het hulle nie baie gehad nie. Party van die huise het nie badkamers of lopende water gehad nie. Eenkeer het ons in ’n kamer gebly wat vir ’n paar jaar glad nie gebruik was nie. Gedurende die nag het ek so baie in my slaap rondbeweeg dat Antonio my wakker gemaak het. Toe ons die lakens oplig, was ons geskok om te sien hoe die matras met insekte wemel! Ons kon nie veel daaromtrent doen in die middel van die nag nie. Ons het maar net soveel as moontlik van die insekte van die matras afgevee en toe verder probeer slaap.

Saam met Antonio in die kringwerk in die 1960’s

 Maar dit was nie die ongerief wat vir my die grootste uitdaging was nie. My grootste struikelblok was omdat ek so skaam was. Wanneer ons ’n gemeente vir die eerste keer besoek het, was dit vir my baie moeilik om vriende te maak. Maar ek wou baie graag ander aanmoedig en die susters help, en daarom het ek baie hard probeer. Met Jehovah se hulp het ek teen die einde van die week altyd meer tuis gevoel. Dit was werklik ’n voorreg om saam met die broers en susters te werk en om hulle vrygewigheid, getrouheid en liefde vir Jehovah te sien.

 In 1977, ná ’n paar jaar in die kring- en streekwerk, b was ons genooi om by die Bethel in Rome te gaan help met die voorbereidings vir die “Victorious Faith”-internasionale byeenkoms vir 1978. Ná ’n paar maande het ons lede van die Bethelgesin geword. Kort daarna was Antonio toegewys om op die Takkomitee te dien.

 Bethel was ’n nuwe ondervinding vir my en omdat ek so skaam was, was dit weereens partykeer vir my baie moeilik om op my gemak te voel. Maar met Jehovah se seën en die hulp van ander Betheliete het ek Bethel gou as my huis beskou.

Nuwe uitdagings

 Die volgende paar jaar het ons nuwe uitdagings gehad – gesondheidsprobleme. In 1984 het Antonio ’n hartoperasie gehad, en omtrent tien jaar later het hy nog gesondheidsprobleme ontwikkel. Toe, in 1999, het hy uitgevind dat hy ’n kwaadaardige gewas het. Hy was altyd ’n baie dinamiese persoon, maar hy kon nie hierdie verskriklike siekte oorwin nie. Dit het my hart gebreek om te sien hoe hy al hoe swakker word . Ek het vurig tot Jehovah gebid om my die krag te gee om my geliefde man by te staan. Om my te help om dit te doen, het ek gereeld Psalms gelees. Dit het my ’n bietjie vertroos wanneer ek angstig gevoel het. Op 18 Maart 1999 het Antonio gesterf. Ons was amper 40 jaar lank getroud.

 Dit is ongelooflik hoe eensaam jy kan voel selfs al is daar mense om jou. Ek het regtig baie liefde en vertroosting gekry van ander Betheliete, asook die broers en susters wat ons in die reisende werk leer ken het. Maar dit het nie die verskriklike leegheid in my hart weggevat nie, veral nie wanneer ek in die aande alleen in my Bethelkamer was nie. Dit is ’n gevoel wat nie met woorde beskryf kan word nie. Gebed, studie en tyd het my gehelp om te genees. Om die waarheid te sê, mettertyd het dit vir my vreugde gegee om terug te dink aan die lewe wat ek saam met Antonio gehad het. Ek onthou graag die dinge wat ons saam gedoen het. Ek is oortuig daarvan dat Antonio in Jehovah se geheue is en dat ek hom weer in die opstanding sal sien.

 Ek het al baie toewysings in Bethel gehad. Op die oomblik werk ek in die naaldwerk-afdeling. Dit maak my baie gelukkig om werk te doen vir my groot Bethelgesin. Ek probeer ook om besig te bly in die bediening. Ek kan natuurlik nie meer so baie doen soos in die verlede nie. Maar ek geniet dit nog steeds om die goeie nuus met ander te deel, ’n liefde wat ek gehad het vandat ek ’n klein dogtertjie was. Daarom hou ek daarvan om jongmense aan te moedig om te pionier. Ek weet hoe opwindend pionierdiens kan wees.

“Dit maak my baie gelukkig om werk te doen vir my groot Bethelgesin”

 Wanneer ek terugkyk op amper 70 jaar van voltydse diens, kan ek sien hoeveel Jehovah my gehelp en geseën het. Ek is nog steeds skaam, en daarom weet ek dat ek dit nie met my eie krag sou kon doen nie. Ek was al in verafgeleë plekke, het wonderlike dinge gesien en mense ontmoet wat my geïnspireer het. Ek kan met sekerheid sê dat ek dit als weer sal doen.

a Piero Gatti se lewensverhaal “Ek het die dood gevrees—Nou wag ek vir ‘lewe in oorvloed’” is in Die Wagtoring van 15 Julie 2011.

b ’n Streekopsiener het omgesien na ’n paar kringe wat ’n streek opgemaak het.