MILTIADIS STAWROE | LEWENSVERHAAL
‘Ons het Jehovah se sorg en leiding gevoel’
Toe ek omtrent 13 jaar oud was, het ek, soos die meeste jongmense, dit geniet om na die paar karre te kyk wat in my straat in Tripoli, Libanon, verbygery het. Ek het veral gehou van ’n pragtige rooi Amerikaanse kar wat ’n Siriese man gery het. So ek was baie verbaas toe die priester van ons plaaslike Ortodokse Kerk vir ons gesê het om hierdie kar met klippe te gooi omdat die eienaar een van Jehovah se Getuies was!
Ons het vir die priester gesê dat die bestuurder dalk seer kan kry. Hy het geantwoord: “Maak hom dood. Gebruik my kleed om sy bloed van julle hande af te vee!” Alhoewel ek baie trots was op my Grieks-Ortodokse agtergrond, het daardie lelike woorde my later beweeg om die kerk te verlaat. Wanneer ek terugdink, besef ek dat hierdie situasie my gehelp het om die waarheid omtrent Jehovah te kry.
Ek kry die waarheid omtrent Jehovah
Terwyl ek grootgeword het, was die hawestad Tripoli vol mense van verskillende kulture, tale en godsdienste. Elke familie was trots op hulle agtergrond, en dit was ook die geval met my familie. Ek en my ouer broers het by ’n groep aangesluit met die naam Soldate van die Geloof, a wat Jehovah se Getuies teëgestaan het. Ons het nog nooit enige Getuies ontmoet nie, maar ons priester het gesê dat hulle ’n bende is wat die Grieks-Ortodokse Kerk teëstaan en dat hulle leier Jehovah is. Ons priester het aanhoudend vir ons gesê dat ons die Getuies moet aanval wanneer ons hulle sien.
Ek het dit nie geweet nie, maar drie van my broers het Jehovah se Getuies al voorheen ontmoet. Maar eerder as om hulle aan te val, het my broers besluit om ’n Bybelstudie te aanvaar net om hulle verkeerd te bewys. Toe ek een aand by die huis aankom, was ons sitkamer vol Getuies wat besig was om ’n Bybelbespreking met my familie en ’n paar bure te hê. Ek was ontsteld! Hoe kon my broers dislojaal wees aan ons Ortodokse geloof? Ek was net op pad om te loop toe een van ons bure, wat ’n bekende tandarts en ook ’n Getuie is, vir my gesê het om te sit en te luister. ’n Familievriend was besig om Psalm 83:18 hardop uit my eie Bybel te lees. Op daardie oomblik het ek besef dat ons priester vir ons gelieg het. Jehovah was nie ’n bendeleier nie – hy was die enigste ware God!
Omdat ek meer omtrent Jehovah wou weet, het ek die Bybelstudie in ons huis begin bywoon, wat deur broer Michel Aboud gehou was. Eendag het ’n vriend, wat ook by die studie was, ’n vraag gevra waaroor ek self gewonder het vandat ek ’n klein seuntjie was. Hy het gevra: “Sê vir ons, wie het vir God geskep?” Broer Aboud het gewys na ’n kat wat op ’n bank lê. Hy het verduidelik dat katte nie die vermoë het om te verstaan wat mense sê en hoe hulle dink nie. Net so het ons nie die vermoë om baie dinge omtrent God te verstaan nie. Daardie eenvoudige illustrasie het my gehelp om te sien hoekom daar sekere dinge omtrent Jehovah is wat ek nie heeltemal kan verstaan nie. Kort daarna het ek my lewe aan Jehovah God toegewy, en ek is in 1946 op die ouderdom van 15 gedoop.
Pionierdiens gee my lewe ’n doel
In 1948 het ek begin om saam met my broer Hanna in sy fotografiebesigheid te werk. Sy winkel was langs ’n verfwinkel wat deur ’n broer met die naam Najib Salem besit was. b Najib het die goeie nuus vreesloos verkondig, en hy het dit aanhou doen totdat hy op die ouderdom van 100 jaar gesterf het. Toe ek saam met hom gegaan het om in die dorpies te preek, kon ek sien dat hy moedig was ten spyte van teenstand. Ek kon ook sien dat hy met enige iemand ’n gesprek oor die Bybel kon begin, maak nie saak aan watter godsdiens hulle behoort het nie. Sy ywerige voorbeeld het ’n groot invloed op my gehad.
Eendag, terwyl ons by die werk was, het ’n Libanese suster van die Verenigde State met die naam Mary Sjaajah vir ons kom kuier. Sy was nie net ’n besige ma nie, maar sy was ook ’n ywerige pionier. Daardie besoek het my lewe verander. Mary het meer as twee ure ondervindinge met ons gedeel wat sy in die bediening gehad het. Voordat Mary gegaan het, het sy na my gekyk en gesê: “Milto, aangesien jy enkel is, hoekom pionier jy nie?” Ek het gesê dat ek nie kan pionier nie, want ek moet werk om geld te verdien. Toe het sy my gevra: “Hoe lank was ek vanoggend hier by jou?” Ek het geantwoord: “Omtrent twee ure.” Toe het Mary gesê: “Gedurende hierdie tyd het ek nie gesien dat jy veel werk gedoen het nie. As jy elke dag vir omtrent dieselfde hoeveelheid tyd preek, kan jy ’n pionier wees. Probeer dit net vir ’n jaar, en dan besluit jy of jy wil aanhou of nie.”
Alhoewel mans in my kultuur nie sommer raad van vrouens gevat het nie, het haar voorstel vir my redelik geklink. Twee maande later, in Januarie 1952, het ek begin pionier. Omtrent 18 maande later het ek ’n uitnodiging gekry om die 22ste klas van die Gileadskool by te woon.
Nadat ek gegradueer het, was ek na die Midde-Ooste aangewys. Minder as ’n jaar later het ek met Doris Wood getrou, ’n vrolike medesendeling van Engeland wat ook in die Midde-Ooste gedien het.
Ons deel Bybelwaarheid in Sirië
Kort na ons troue was ek en Doris na Aleppo, Sirië, aangewys. Aangesien die predikingswerk daar verban was, het ons die meeste van ons Bybelstudies deur verwysings gevind.
Eendag het ons ’n vrou besoek wat in die Bybel belanggestel het. Sy was baie bang toe sy die deur oopgemaak het en vir ons gesê het: “Wees versigtig! Die polisie was nou net hier. Hulle wou weet waar julle bly.” Dit is duidelik dat die geheime polisie geweet het waar ons Bybelstudies gehou het. Ons het die broers gebel wat die leiding in die Midde-Ooste geneem het, en hulle het vir ons gesê dat ons die land so gou as moontlik moes verlaat. Alhoewel ons hartseer was om ons Bybelstudente agter te laat, het ons Jehovah se liefdevolle beskerming gevoel.
Ons ondervind Jehovah se leiding in Irak
In 1955 was ons na Bagdad, Irak, gestuur. Alhoewel ons op ’n taktvolle manier met alle mense in Irak kon praat, het ons gefokus op dié met ’n Christelike agtergrond.
Ons het ook probeer om vriendelike gesprekke met Moslems te begin by die mark of op die strate. Doris het graag interessante gedagtes gedeel waarin mense heel moontlik sou belangstel. Byvoorbeeld, sy sou sê: “My pa het altyd gesê dat ons almal eendag voor ons Maker sal staan” (Romeine 14:12). Dan sou sy byvoeg: “Hierdie gedagte het my altyd in my lewe gehelp. Hoe voel jy daaroor?”
Ons het dit geniet om amper drie jaar in Bagdad te dien en om die broers te help om die predikingswerk taktvol te organiseer. Ons het ons sendinghuis gebruik om vergaderinge in Arabies te hou. Ons was regtig bly om opregte mense te verwelkom uit die Assiriese gemeenskap, ’n etniese groep wat meestal bestaan uit sogenaamde Christene. Toe hulle met hulle eie oë die liefde en eenheid by ons vergaderinge gesien het, het hulle besef dat ons ware dissipels van Jesus is. – Johannes 13:35.
Een van dié wat vinnig gereageer het op ons boodskap van vrede, was Nicolas Aziz. Hy was ’n saggeaarde en nederige gesinsman met ’n Armeense en Assiriese agtergrond. Nicolas en sy vrou, Helen, het vinnig aanvaar wat die Bybel leer omtrent Jehovah en sy Seun, Jesus – dat hulle twee verskillende persone is (1 Korintiërs 8:5, 6). Ek onthou nog steeds die dag toe Nicolas en 20 ander gedoop was in die Eufraatrivier.
Ons ondervind Jehovah se hulp in Iran
’n Ruk ná die staatsgreep wat tot die dood van Irak se koning Faisal II op 14 Julie 1958 gelei het, was ons gedwing om na Iran te trek. Daar het ons omtrent ses maande versigtig aangehou om vir uitlanders te preek.
Net voordat ons Teheran, die hoofstad van Iran, verlaat het, was ek na ’n polisiestasie geneem om ondervra te word. Dit het my laat besef dat die polisie ons die heeltyd dophou. Nadat ek ondervra was, het ek Doris gebel en vir haar gesê dat die polisie ons dophou. Ons het besluit dat dit veiliger sou wees as ek nie teruggaan huis toe nie en dat dit beter sou wees dat ons nie saambly totdat ons die land verlaat nie.
Doris het ’n veilige blyplek gekry totdat ons mekaar by die lughawe kon ontmoet. Maar hoe sou sy daar uitkom sonder dat die polisie dit uitvind? Doris het tot Jehovah daaroor gebid.
Ewe skielik het dit baie hard begin reën en almal moes skuiling soek, insluitende die polisie. Die strate was toe leeg, so Doris kon vryelik rondbeweeg. Doris sê: “Daardie vloed was ’n wonderwerk!”
Nadat ons Iran verlaat het, is ons na ’n ander gebied gestuur, waar ons vir mense van verskillende etniese en godsdienstige agtergronde gepreek het. Teen 1961 was ons in die kringwerk, waar ons broers en susters in verskillende dele van die Midde-Ooste besoek het.
Ons het die krag van Jehovah se gees gesien
Gedurende ons bediening in die Midde-Ooste het ek op baie geleenthede gesien hoe God se heilige gees mense verenig. Ek onthou nog die lekker gesprekke wat ek gehad het met Eddy en Nicolas, twee Palestyne met wie ek die Bybel studeer het. Albei het dit geniet om ons vergaderinge by te woon, maar hulle het kort daarna opgehou om die Bybel te studeer weens hulle sterk politiese oortuigings. Ek het gebid dat Jehovah hulle harte sou oopmaak. Toe hulle besef dat God die hele mensdom se probleme sal oplos, en nie net dié van Palestyne nie, het hulle weer met hulle studie begin (Jesaja 2:4). Hulle het nie meer gedink dat hulle nasionaliteit beter is as ander nie en is gedoop. Nicolas het later ’n ywerige kringopsiener geword.
Terwyl ons van een land na die ander gereis het, was ek en Doris beïndruk deur die getrouheid van ons broers, maak nie saak wat hulle omstandighede was nie. Omdat hulle soveel moeilike tye moes deurmaak, het ek dit my doel gemaak om hulle te versterk gedurende my besoeke as ’n kringopsiener (Romeine 1:11, 12). Om hierdie doelwit te bereik, het ek altyd probeer onthou dat ek nie beter as my broers en susters is nie (1 Korintiërs 9:22). Dit het my baie gelukkig gemaak om my broers en susters aan te moedig wat ondersteuning nodig gehad het.
Dit was opwindend om te sien hoe baie van die mense met wie ons die Bybel studeer het, getroue knegte van Jehovah geword het. Party het met hulle families na ander lande gevlug om van gewapende gevegte in hulle land af weg te kom. Maar hulle was ’n groot hulp vir dié wat dien in die Arabiese veld in Australië, Kanada, Europa en die Verenigde State. In onlangse jare het party van hulle volwasse kinders teruggekeer na die Midde-Ooste om as moedige verkondigers te dien waar daar hulp nodig is. Ek en Doris is baie gelukkig dat ons omring is deur soveel geestelike kinders en kleinkinders!
Ons maak vir ewig staat op Jehovah
Ons het Jehovah se sorg en leiding regdeur ons lewe op soveel maniere gevoel. Ek is so dankbaar dat hy my gehelp het om ontslae te raak van die diskriminasie en nasietrots wat ek as ’n jong man ontwikkel het. Die onderrigting wat ek van moedige en onpartydige broers en susters ontvang het, het my voorberei om Bybelwaarhede met mense van verskillende agtergronde te deel. Terwyl ons van een land na die ander getrek het, het ek en Doris baie uitdagings gehad, en partykeer het ons nie geweet wat volgende sou gebeur nie. Maar dit het ons geleer om heeltemal op Jehovah te vertrou en nie op onsself nie. – Psalm 16:8.
Wanneer ek terugdink aan die dekades wat ek Jehovah al dien, besef ek dat ek so baie aan my hemelse Vader verskuldig is. Ek stem saam met my dierbare Doris, wat gereeld sê dat niks ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah moet keer nie, selfs al word ons met die dood gedreig! Ons sal altyd dankbaar wees dat Jehovah ons gebruik het om ’n vreedsame boodskap in die Midde-Ooste te verkondig (Psalm 46:8, 9). Ons kyk na die toekoms met vertroue, en ons weet dat Jehovah sal aanhou om dié wat op hom steun, te lei en te beskerm. – Jesaja 26:3.
a Vir meer inligting oor hierdie groep, sien die 1980 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsy 186-188.
b Najib Salem se lewensverhaal verskyn in Die Wagtoring van 1 September 2001, bladsy 22-26.