Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan die Bybel jou help om dwelmverslawing te oorkom?

Kan die Bybel jou help om dwelmverslawing te oorkom?

 Elke jaar sterf miljoene mense as gevolg van die direkte of indirekte uitwerking van dwelm- en drankmisbruik. Gedurende die COVID-19-pandemie het hierdie probleem selfs erger geword. Die wysheid in die Bybel het baie mense gehelp om dwelmverslawing te oorkom. As jy met hierdie probleem sukkel, kan hierdie wysheid jou ook help. a

In hierdie artikel

 Hoekom moet ons na die Bybel toe gaan vir raad om ons te help om verslawing te oorkom?

 Navorsers het gevind dat mense dikwels aan dwelms verslaaf word omdat hulle eensaam, gestres, angstig of depressief voel. Die Bybel kan jou help om die geloof op te bou wat jy nodig het om die uitdagings wat tot verslawing lei, suksesvol te hanteer. Dit wys hoe jy ’n sterk vriendskap met God kan hê (Psalm 25:14). Met sy hulp kan jy probleme oorkom wat dalk onmoontlik lyk om op jou eie op te los. – Markus 11:22-24.

 Vier dinge wat die Bybel sê wat jy kan doen om verslawing te oorkom

  1.  1. Leer ken Jehovah God b (Johannes 17:3). Hy is die Skepper en die Bron van onbeperkte krag. En nog belangriker, hy is jou liefdevolle hemelse Vader. Hy wil ’n goeie verhouding met jou hê en sy krag gebruik om jou te help (Jesaja 40:29-31; Jakobus 4:8). Hy belowe dat jy ’n wonderlike toekoms sal hê as jy kies om deur sy liefde gehelp te word. – Jeremia 29:11; Johannes 3:16.

  2.  2. Vra Jehovah vir hulp. Bid tot God en vra hom om jou te help om jou verslawing te oorkom sodat jy “heilig [of rein] en vir [hom] aanvaarbaar” kan wees (Romeine 12:1). Deur middel van sy heilige gees, of werkende krag, sal hy vir jou “die krag wat bo die normale is,” gee (2 Korintiërs 4:7; Lukas 11:13). Hierdie krag sal jou help om op te hou om dwelms te misbruik en om ’n “nuwe persoonlikheid” te ontwikkel wat God gelukkig maak. – Kolossense 3:9, 10.

  3.  3. Vul jou verstand met God se gedagtes (Jesaja 55:9). Hy sal jou help “om ’n nuwe denkwyse aan te leer”, of om die manier hoe jy dink, te verander, wat jou sal help om weg te breek van jou verslawing (Efesiërs 4:23). God se gedagtes word in die Bybel gevind, so dit is baie belangrik dat jy dit gereeld lees (Psalm 1:1-3). Baie mense is al gehelp om te verstaan wat die Bybel leer (Handelinge 8:30, 31). Jehovah se Getuies bied ’n gratis Bybelstudieprogram aan. Ons nooi jou ook om ons vergaderinge by te woon, waar ons kyk wat die Bybel sê en hoe ons die leringe daarin in ons lewe kan toepas.

  4.  4. Kies goeie assosiasie. Jou vriende kan ’n groot invloed op jou hê en kan dit vir jou makliker of moeiliker maak om verslawing te oorkom (Spreuke 13:20). Daar is goeie vriende onder dié wat God aanbid, en hy wil hê dat jy deur hulle vriendskap gehelp moet word (Psalm 119:63; Romeine 1:12). Wees versigtig wanneer jy vermaak kies omdat jy eintlik tyd spandeer saam met die karakters waarna jy kyk, na wie jy luister en oor wie jy lees. Vermy enige iets wat dit vir jou moeiliker gaan maak om te doen wat reg is. – Psalm 101:3; Amos 5:14.

 Bybelverse wat jou kan help om verslawing te oorkom

 Psalm 27:10: “Selfs al verlaat my eie pa en ma my, sal Jehovah my inneem.”

 “Ek het nooit my biologiese pa geken nie, en dit het my verlore laat voel. Toe ek Jehovah God as ’n regte Persoon wat regtig lief is vir my, leer ken het, het my lewe meer betekenis gehad en kon ek my verslawing oorkom.” – Wilby, van Haïti.

 Psalm 50:15: “Roep my aan in moeilike tye. Ek sal jou red.”

 “Baie keer het hierdie vers my gemotiveer om aan te hou probeer om my verslawing te oorkom, selfs wanneer ek voor versoeking ingegee het. Jehovah het sy belofte gehou.” – Serhi, van Oekraïne.

 Spreuke 3:5, 6: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart, en moenie op jou eie begrip staatmaak nie. Neem hom in ag in alles wat jy doen, en hy sal jou paaie gelykmaak.”

 “Hierdie verse het my gehelp om op Jehovah te vertrou, en nie op myself nie. Met sy krag kon ek my lewe heeltemal verander.” – Michele, van Italië.

 Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie angstig wees nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk, ja, ek sal jou help. Ek sal jou stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”

 “Ek het baie angstig gevoel wanneer ek nie dwelms kon neem nie. Hierdie teks het my oortuig dat God my sou help om nie angstig te voel nie, en hy het.” – Andy, van Suid-Afrika.

 1 Korintiërs 15:33: “Moenie mislei word nie. Slegte assosiasie bederf goeie gewoontes.”

 “Ek het dwelms begin gebruik as gevolg van slegte vriende, en toe het ek verslaaf geword. Ek kon net ophou om dwelms te gebruik toe ek nie meer tyd met hulle spandeer het nie en vriende gemaak het met mense wat goeie gewoontes gehad het en wie se leefstyl ek bewonder het.” – Isaac, van Kenia.

 2 Korintiërs 7:1: “Laat ons ons reinig van alles wat liggaam en gees besoedel.”

 “Hierdie woorde het my gemotiveer om aan te hou probeer om my liggaam te reinig. Ek het my lewe van verslawing agtergelaat en nie meer dinge gedoen wat my seergemaak het nie.” – Rosa, van Colombia.

 Filippense 4:13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”

 “Ek het geweet dat ek nie sterk genoeg is om op my eie op te hou om dwelms te gebruik nie, en daarom het ek tot God gebid om my te help. Hy het my die krag gegee wat ek nodig gehad het.” – Patrizia, van Italië.

 Nog ondervindinge: Oorkom verslawing met die Bybel se hulp

 Joseph Ehrenbogen het grootgeword in ’n gebied waar daar baie geweld was en het aan alkohol, tabak, dagga en heroïen verslaaf geraak. Hy het ’n paar keer by die dood omgedraai as gevolg van ’n oordosis. Veral een deel in die Bybel het hom oortuig dat hy kon verander. Lees sy verhaal in die artikel “Ek het geleer om selfrespek en respek vir vroue te hê”.

 Dmitri Korsjoenof het baie keer probeer om sy alkoholverslawing te oorkom. Kyk na die video ‘Ek was moeg vir my lewenswyse’ om uit te vind wat hom gehelp het om dit reg te kry.

 Verbied die Bybel mediese behandeling vir verslawing?

 Nee. Die Bybel erken: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel” (Matteus 9:12). Die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Dwelmmisbruik sê ook: “Dwelmverslawing is ’n ingewikkelde siekte, as ’n persoon wil ophou om dwelms te gebruik, is meer nodig as net die begeerte om op te hou of om selfbeheersing te hê.” Die hulp wat God voorsien, is natuurlik baie sterker as enige iemand se selfbeheersing of vasbeslotenheid. Maar baie wat weggebreek het van alkohol- en dwelmverslawing deur die Bybel se raad te volg, het ook mediese behandeling nodig gehad. c Byvoorbeeld, ’n man met die naam Allen sê: “Toe ek opgehou drink het, was ek in baie pyn as gevolg van die onttrekkingsimptome. Dit is toe dat ek besef het dat ek mediese behandeling nodig gehad het behalwe vir die hulp wat ek uit die Bybel gekry het.”

 Sê die Bybel dat ’n persoon nie dwelms as medisyne moet gebruik nie?

 Nee. Om die waarheid te sê, die Bybel praat van die gebruik van alkohol om siektes te behandel of om die pyn te verlig van iemand wat besig is om te sterf (Spreuke 31:6; 1 Timoteus 5:23). Maar net soos in die geval van alkohol, kan medikasie wat gebruik word om pyn te verlig, baie verslawend wees. Daarom is dit wys om die moontlike gevare te besef en om versigtig te wees wanneer ons voorskrifmedikasie vir pyn gebruik. – Spreuke 22:3.

a Hoewel hierdie artikel daarop fokus om dwelmverslawing te oorkom, kan die Bybelverse wat bespreek word, mense help wat met ander probleme sukkel. Dit kan dinge insluit soos alkohol, tabak, kos, dobbelary, pornografie of sosiale media.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?

c Daar is baie behandelingsentrums, hospitale en rehabilitasieprogramme wat mense kan help. Elke persoon moet die opsies deeglik oorweeg en dan besluit watter soort behandeling die beste sal wees. – Spreuke 14:15.