Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n gesondheidsprobleem wat skielik opgekom het, te hanteer

Hoe om ’n gesondheidsprobleem wat skielik opgekom het, te hanteer

 Het jou gesondheid skielik agteruitgegaan? Dan weet jy hoe uitputtend ’n gesondheidsprobleem kan wees – verstandelik, emosioneel en finansieel. Wat kan jou help om dit te hanteer? Hoe kan jy ’n familielid of ’n vriend bystaan wat ’n gesondheidsprobleem hanteer? Hoewel die Bybel nie ’n mediese handboek is nie, bevat dit praktiese waarhede wat jou kan help om die beste van ’n uitdagende situasie te maak.

Wenke wat jou kan help om ’n gesondheidsprobleem te hanteer

  •   Kry mediese behandeling

     Wat die Bybel sê: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie, maar mense wat siek is, het wel.” – Matteus 9:12.

     Hoe dit van toepassing is: Kry professionele mediese hulp wanneer dit nodig is.

     Probeer die volgende: Kry die beste mediese sorg wat aan jou beskikbaar is. Partykeer is dit goed om ’n tweede opinie te kry (Spreuke 14:15). Kommunikeer duidelik met professionele gesondheidswerkers – wees seker dat jy hulle verstaan en dat hulle van al jou simptome weet (Spreuke 15:22). Vind uit oor jou siekte, insluitende al die opsies vir jou behandeling. Wanneer jy weet wat om te verwag, sal jy emosioneel beter voorbereid wees om jou situasie te hanteer en om beter besluite te maak oor jou gesondheid.

  •   Bly by gesonde gewoontes

     Wat die Bybel sê: “Oefening is goed vir jou liggaam.” – 1 Timoteus 4:8, Contemporary English Version.

     Hoe dit van toepassing is: Dit sal vir jou voordelig wees om by gesonde gewoontes te bly, soos om gereeld te oefen.

     Probeer die volgende: Oefen gereeld, eet gesonde kos en kry genoeg slaap. Hoewel jy dalk nog aanpas by jou nuwe gesondheidsprobleem, stem kenners saam dat as jy tyd en energie daaraan spandeer om gesonde gewoontes te ontwikkel, dit die moeite werd sal wees. Jy moet natuurlik seker maak dat wat jy ook al kies, nie jou gesondheidsprobleem erger sal maak of met jou mediese behandeling sal bots nie.

  •   Vra die hulp van ander

     Wat die Bybel sê: “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

     Hoe dit van toepassing is: Jou vriende kan jou help om deur moeilike tye te kom.

     Probeer die volgende: Praat met iemand wat jy kan vertrou en vir wie jy maklik kan sê hoe jy voel. Dit sal jou help om die emosionele en verstandelike druk te hanteer wat deur jou verandering in gesondheid veroorsaak is. Vriende en familie sal jou heel moontlik op ander maniere wil help, maar hulle weet dalk nie wat om te doen nie. So sê duidelik vir hulle wat hulle kan doen om jou te help. Wees redelik in wat jy verwag, en wees altyd dankbaar vir die hulp wat hulle gee. Maar onthou dat selfs al wil jou vriende jou help, hulle soms dinge kan doen wat jou oorweldig laat voel. So jy sal dalk perke moet stel, soos hoe dikwels en vir hoe lank hulle jou kan besoek.

  •   Behou ’n positiewe gesindheid

     Wat die Bybel sê: “’n Vreugdevolle hart is soos goeie medisyne, maar ’n gebroke gees beroof jou van jou krag.” – Spreuke 17:22.

     Hoe dit van toepassing is: Om hoop en ’n positiewe gesindheid te hê, kan jou help om emosioneel gebalanseerd en kalm te bly sodat jy ’n stresvolle gesondheidsprobleem kan hanteer.

     Probeer die volgende: Terwyl jy by jou nuwe situasie aanpas, fokus op wat jy kan doen en nie op die dinge wat buite jou beheer is nie. Moenie jouself vergelyk met ander of hoe jy was voordat jy siek geword het nie (Galasiërs 6:4). Stel doelwitte wat redelik en bereikbaar is. Dit kan jou help om optimisties oor die toekoms te wees (Spreuke 24:10). Doen dinge vir ander, as jou omstandighede dit toelaat. Dit maak jou gelukkiger om te gee, en dit help jou om nie op jou eie probleme te fokus nie. – Handelinge 20:35.

Sal God jou help om ’n gesondheidsprobleem te hanteer?

 Die Bybel wys dat Jehovah God a ’n persoon kan help om gesondheidsprobleme te hanteer. Terwyl ons nie kan verwag om wonderdadig gesond gemaak te word nie, kan diegene wat God aanbid, sy hulp op die volgende maniere kry:

 Vrede. Jehovah kan “die vrede van God, wat alle denke oortref”, voorsien (Filippense 4:6, 7). Hierdie vrede, of innerlike kalmte, kan ’n persoon help om nie deur angstigheid oorweldig te word nie. God gee sulke vrede aan mense wat tot hom bid en hom vertel van hulle bekommernisse. – 1 Petrus 5:7.

 Wysheid. Jehovah kan wysheid voorsien om goeie besluite te maak (Jakobus 1:5). ’n Persoon kry sulke wysheid wanneer hy die tydlose waarhede in die Bybel leer en toepas.

 ’n Aanmoedigende hoop vir die toekoms. Jehovah belowe ’n toekoms wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Hierdie hoop help baie om positief te bly selfs al het hulle die ergste gesondheidsprobleme. – Jeremia 29:11, 12.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.