Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

kovop58/stock.adobe.com

HOU AAN WAAK!

Kan die Olimpiese Spele mense regtig verenig? – Wat sê die Bybel?

Kan die Olimpiese Spele mense regtig verenig? – Wat sê die Bybel?

 Gedurende die Somer Olimpiese Spele vir 2024 sal ongeveer vyfmiljard mense kyk hoe atlete van 206 lande aan die spele deelneem. Thomas Bach, die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, het gesê: “Ons is deel van ’n geleentheid wat die wêreld in vrede verenig. Kom ons vier hierdie Olimpiese gees dat mense almal saam in vrede en eenheid moet lewe, al verskil ons van mekaar.”

 Kan die Olimpiese Spele sulke uitstekende doelwitte bereik? Is daar hoop vir ware vrede en eenheid?

’n Bron van vrede en eenheid?

 Hierdie jaar se Olimpiese Spele het mense oor meer as net sport laat dink. Die spele het die aandag gevestig op sosiale en politieke kwessies wat mense verdeel. Hierdie kwessies sluit menseregte, rassisme, godsdiensdiskriminasie en ongelykheid in.

 Internasionale sportgeleenthede soos die Olimpiese Spele voorsien vermaak. Maar hierdie geleenthede wys en bevorder ook gesindhede en optrede wat mense verdeel eerder as om tot blywende vrede en eenheid te lei.

 Die Bybel het voorspel dat mense gesindhede sou hê wat dit vir die wêreld moeilik sou maak om verenig te wees (2 Timoteus 3:1-5). Om meer oor hierdie Bybelprofesie uit te vind, lees die artikel “Het die Bybel voorspel hoe mense vandag sou dink en optree?

Ware hoop vir wêreldwye vrede en eenheid

 Die Bybel bevat ’n ware hoop vir wêreldwye vrede en eenheid. Dit belowe dat alle mense op die aarde verenig sal wees onder ’n hemelse regering wat die “Koninkryk van God” genoem word. – Lukas 4:43; Matteus 6:10.

 Die Koning van daardie Koninkryk, Jesus Christus, sal wêreldwye vrede bring. Die Bybel sê:

  •   “Die regverdige sal . . . floreer, en daar sal ’n oorvloed van vrede wees.” – Psalm 72:7.

  •   “Hy sal die arme red wat om hulp roep . . . Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle red.” – Psalm 72:12, 14.

 Selfs in ons dag verenig Jesus se leringe miljoene mense in 239 lande. As Christene het Jehovah se Getuies regoor die wêreld geleer hoe om vreedsaam te wees. Om uit te vind hoe, lees Die Wagtoring met die titel “Hoe om die siklus van haat te breek”.