HOU AAN WAAK!
Wetenskaplikes skuif die Oordeelsdaghorlosie aan – Wat sê die Bybel?
Op 24 Januarie 2023 het wetenskaplikes die Oordeelsdaghorlosie a nader aan middernag gestel, wat die einde van die wêreld verteenwoordig.
Die “Oordeelsdaghorlosie” simboliseer die gevaar daarvan dat die mensdom hulleself gaan vernietig. Op Dinsdag het wetenskaplikes dit nader as ooit tevore aan middernag gestel as gevolg van gebeure soos die oorlog in Oekraïne, vrees vir kernoorlog en die klimaatskrisis. – AFP International Text Wire.
“Wetenskaplikes het Dinsdag gesê dat die ‘Oordeelsdaghorlosie’ aangeskuif is tot 90 sekondes voor middernag – die naaste wat die mensdom nog ooit aan armageddon was.” – ABC News.
“’n Paneel internasionale wetenskaplikes het gewaarsku dat die voortbestaan van die mens nou in groter gevaar as ooit tevore is.” – The Guardian.
Sal menselewe en ons planeet Aarde binnekort vernietig word? Moet ons bang wees vir die toekoms? Wat sê die Bybel?
Wat hou die toekoms in?
Die Bybel sê: “Die aarde bestaan vir ewig”, en mense “sal vir ewig daarop lewe” (Prediker 1:4; Psalm 37:29). So mense sal nie die aarde vernietig of ons hele planeet onleefbaar maak nie.
Maar die Bybel praat wel van ’n einde. Dit sê byvoorbeeld dat “die wêreld . . . gaan verby”. – 1 Johannes 2:17.
Om uit te vind wat die Bybel bedoel wanneer dit oor die einde van die wêreld praat, lees die artikel “Is die einde van die wêreld naby? Wat is die Apokalips?”
Om te sien wat die Bybel sê oor wêreldgebeure wat nog moet gebeur, lees die artikel “Wanneer sal die wêreld tot ’n einde kom?”
Bly positief
Die Bybel kan ons help om positief te bly ten spyte van die probleme wat nou in die wêreld is. Hoe?
Die Bybel gee ons praktiese raad (2 Timoteus 3:16, 17). Byvoorbeeld, lees die artikel “Hoe om jou bekommernisse te beheer” om uit te vind hoe die Bybel jou kan help om positief te bly ten spyte van die uitdagings in die lewe.
Die Bybel gee ’n betroubare hoop vir die toekoms (Romeine 15:4). Dit verduidelik presies wat ons nou en in die toekoms kan verwag, wat ons help om vol vertroue te bly ten spyte van wat in die wêreld vandag gebeur.
As jy die meeste voordeel uit die Bybel wil kry, nooi ons jou graag om ons gratis Bybelstudie met ’n onderrigter vandag te probeer.
a “Die Oordeelsdaghorlosie is iets wat die publiek waarsku oor hoe naby ons daaraan is om ons wêreld te vernietig met gevaarlike tegnologie wat ons self gemaak het. Dit is ’n metafoor, en dit herinner ons aan die gevare wat ons moet regstel as ons op die planeet wil oorleef.” – Bulletin of the Atomic Scientists.