Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

UIT ONS ARGIEF

Hulle dien Jehovah ondanks ekonomiese probleme

Hulle dien Jehovah ondanks ekonomiese probleme

 In baie lande maak die stygende lewenskoste die lewe moeilik vir mense, insluitende Jehovah se Getuies. Maar in plaas daarvan dat Getuies oorweldig word deur angs, vertroos dit hulle om te weet dat Jehovah sy knegte “nooit in die steek [sal] laat nie” (Hebreërs 13:5). Jehovah het oor en oor hierdie belofte gehou. Hy het dit in die Filippyne gedoen, ’n land waar baie mense nog aanhou om in armoede te lewe. Maar gedurende die 1970’s en die 1980’s het hierdie land veral deur moeilike tye gegaan.

 ’n Suster met die naam Vicky a sê: “Soms het ek gehuil omdat ek nie genoeg kos gehad het om te eet nie. Daar was tye wanneer ons niks behalwe rys, sout en water gehad het nie.” ’n Broer met die naam Florencio kon nie werk kry nie. Hy vertel: “Ek het net drie hemde en drie broeke gehad, wat ek oor en oor gedra het wanneer ek vergaderinge en byeenkomste toe gegaan het.” Hoe het Jehovah se volk dit hanteer? Wat het hulle gehelp om geestelik sterk te bly? En hoe kan hulle voorbeeld ons vandag help wanneer ons deur moeilike tye gaan?

Hulle het op Jehovah vertrou

 Die Getuies in die Filippyne was daarvan oortuig dat Jehovah gedurende moeilike tye vir hulle sou sorg (Hebreërs 13:6). En hy het dit dikwels op maniere gedoen wat hulle nie verwag het nie. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Cecille sê: “Nadat ons ons laaste koppie rys vir ontbyt gekook het, het ons gesin van vier niks oorgehad om te eet nie. So, ons het gebid dat Jehovah ons gee wat ons nodig het vir daardie dag. Terwyl ons nog ontbyt geëet het, het ’n broer met vyf kilogram rys opgedaag. Ons het gehuil van dankbaarheid en vreugde vir hierdie seëning van Jehovah. Ons het nog baie soortgelyke ondervindinge gehad.”

 God se knegte het ook die praktiese wysheid wat in die Bybel gevind word, toegepas (Spreuke 2:6, 7). Byvoorbeeld, ’n pasgedoopte suster met die naam Arcelita, wat op daardie stadium ongetroud was en gesukkel het om ’n bestaan te maak, het haar hart voor Jehovah uitgestort. Sy het toe nagedink oor Spreuke 10:4, wat sê: “Lui hande bring armoede, maar hardwerkende hande bring rykdom.” Sy wou hierdie woorde toepas, en daarom het sy besluit om vrugte en groente te plant. Sy sê: “Jehovah het regtig my pogings geseën. Om die waarheid te sê, ek kon genoeg kos groei om te eet, en dan was daar genoeg oor om te verkoop sodat ek vir my vervoer kon betaal.”

Hulle het nie hulle vergaderingbywoning verwaarloos nie

 Die broers het ook nie genoeg geld gehad om grond te koop en Koninkryksale te bou nie. Maar dit het hulle nie gekeer om die bevel te gehoorsaam om vergaderinge by te woon en mekaar aan te moedig nie (Hebreërs 10:24, 25). Hulle het eenvoudig aangepas. Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Deborah vertel: “Omtrent ses van ons het ons vergaderinge in ’n klein hut bygewoon wat ek en my pioniermaat gebou het. Ons het die blare van moeraspalms vir die dak gebruik, die blare van kokospalms vir die mure en die stam van palmbome vir die sitplekke.”

 Baie van die broers en susters het gemeentelike vergaderinge in hulle huise gehou. ’n Suster met die naam Virginia sê: “Ons klein huisie was van gras en bamboes gemaak. Ons moes ons meubels elke Saterdag skuif om plek te maak vir die vergadering die volgende dag.” In ’n ander huis het die dak gelek. ’n Broer met die naam Noel sê: “Wanneer dit gereën het, het ons emmers gebruik om die water op te vang. Maar ons het amper nie eens hierdie ongerief agtergekom nie omdat ons Jehovah saam met ons broers en susters aanbid het.”

Hulle het hulle ywer vir die bediening behou

 Die Getuies se ywer vir die bediening het nie afgeneem omdat hulle min materiële besittings gehad het nie. Lindina, wat op die eiland Negros bly, vertel: “Omdat my gesin groot was en my pa die enigste een was wat gewerk het, het ons nie altyd geld vir vervoer gehad nie. Daarom het ons dikwels na die gebied toe gestap. Maar dit was lekker omdat ons ’n groot groep was. Ons het ook geweet dat ons pogings Jehovah gelukkig maak.”

Moeilike tye het nie die Getuies gekeer om te preek nie

 Omdat daar min of geen openbare vervoer is nie, was een van die grootste uitdagings om by verafgeleë bergagtige gebiede uit te kom om te preek. Esther, wat op die eiland Luzon bly, vertel: “Ons groep van 6 tot 12 Getuies het ons huise vroeg verlaat omdat ons baie kilometer ver moes stap. Ons het die hele dag gepreek. Ons het gekookte maaltye saamgeneem, wat ons onder die skaduwee van die bome geëet het. Van ons broers en susters het niks gehad om te eet nie, maar hulle het in elk geval saamgekom. Ons het dan vir hulle gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Ons het genoeg kos vir almal.’”

 Jehovah het daardie selfopofferende gees ryklik geseën. Byvoorbeeld, in 1970 was daar 54 789 verkondigers in die Filippyne. Teen 1989 het die getal byna verdubbel na 102 487. In 2023 het die getal Koninkryksverkondigers in die Filippyne 253 876 bereik.

“Om arm te wees, het ons nie gekeer om lief te wees vir Jehovah nie”

 Ondanks die ernstige ekonomiese probleme het die Getuies geestelik gefloreer. ’n Broer met die naam Antonio sê: “Om arm te wees, het ons nie gekeer om lief te wees vir Jehovah nie.” Suster Fe Abad sê: “Toe ek en my man ekonomiese probleme gehad het, het ons na aan Jehovah gebly en die vreugde ervaar om ’n eenvoudige lewe te lei. As gevolg hiervan het ons kinders ook geleer om op hom te vertrou.”

 Lucila, wat op die eiland Samar bly, sê: “Om arm te wees, is nie ’n probleem wanneer ons Jehovah dien nie. Wanneer ons God eerste stel, kan ons tevrede wees en positief bly. Om die waarheid te sê, ek het die vreugde gehad om te sien hoe my Bybelstudente Jehovah leer ken, en hulle het later by my in die pionierdiens aangesluit.”

 Ons weet dat ons in die toekoms almal deur moeilike tye sal gaan, so kom ons onthou die woorde van ’n ouerman met die naam Rodolfo. Hy het geskryf: “Omdat ek deur die moeilike tye van die 1970’s en die 1980’s gelewe het, het ek die hand van Jehovah in my lewe gevoel. Al het ek baie min geld gehad, het ek nie jammer vir myself gevoel nie. Jehovah het mooi na my gekyk. Ek het regtig die beste lewe nou, en ek sien uit na die werklike lewe in die Paradys wat kom.” – 1 Timoteus 6:19.

a Party name is verander.