Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Kwaliteitstyd” wat in beperkte hoeveelhede uitgedeel word

“Kwaliteitstyd” wat in beperkte hoeveelhede uitgedeel word

“Kwaliteitstyd” wat in beperkte hoeveelhede uitgedeel word

MIN ouers sit deesdae genoeg tyd opsy vir hulle kinders. Baie is enkel en sukkel om sonder die hulp van ’n huweliksmaat vir hulle kinders te sorg. En as gevolg van die verslegtende ekonomiese klimaat vind al hoe meer getroude ouers dat die pa sowel as die ma sekulêre werk moet doen net sodat die gesin kop bo water kan hou. Dit is dus nie verbasend dat die idee van kwaliteitstyd al hoe gewilder geword het nie.

Soos daar oor die algemeen verstaan word, beteken kwaliteitstyd gewoonlik dat tyd ingepas moet word om saam met ’n kind deur te bring, dikwels met iets spesifieks in gedagte—byvoorbeeld ’n spesiale uitstappie, soos ’n uitstappie na die dieretuin. Die idee is ongetwyfeld gegrond. Kinders het al die spesiale aandag nodig wat hulle kan kry. Maar die gewilde idee van kwaliteitstyd het ’n paar nadele wat vir kindersorgdeskundiges al hoe duideliker raak.

Blykbaar huldig talle besige, loopbaangerigte ouers die misvatting dat dit aan al ’n kind se behoeftes aan ouerlike aandag sal voldoen as hulle ’n spesifieke tydjie inruim om saam met die kind deur te bring. Die Daily News van New York haal gevolglik dr. Lee Salk aan, ’n professor aan die Cornell-universiteit se Mediese Skool in die Verenigde State, waar hy sê: “Die idee van kwaliteitstyd is onsin.” Hy verduidelik: “Die uitdrukking het uit ’n ouerlike skuldgevoel voortgespruit. Mense het hulleself toestemming gegee om minder tyd saam met hulle kinders deur te bring.”

Maar vergoed kwaliteitstyd, wanneer die ouer sy onverdeelde aandag aan die kind gee, nie vir die tekort aan kwantiteit nie? Nee, om ’n eenvoudige rede—die beste manier waarop ouers hulle kinders leer, is deur hulle voorbeeld. Die skadusy van hierdie ou bekende waarheid is droewig toegelig deur ’n onlangse studie van binnestedelike jongmense. Dié wat gesinslede in die tronk gehad het terwyl hulle grootgeword het se kanse om self in die tronk te beland, was twee keer so groot. Dié wat onder die sorg van alkoholiste of dwelmslawe grootgeword het se kanse was eweneens byna twee keer so groot om daardie dodelike gewoontes aan te leer.

Ouers se goeie voorbeeld kan net soveel invloed hê. Die probleem is dat dit tyd verg om ’n goeie voorbeeld te stel, baie daarvan, nie net ordelike pakkies kwaliteitstyd nie. Soos die Daily News van New York dit gestel het: “Die probleem met die idee van kwaliteitstyd is dat die belangrike oomblikke tussen ’n ouer en kind—die gesprekke en besluite wat geborgenheid, waardes en eiewaarde inboesem—spontaan is.” Niemand kan ’n spontane oomblik beplan nie. ’n Ouer kan 15 minute kwaliteitstyd opsysit om saam met ’n kind deur te bring, maar wie weet of die ouer en kind gedurende daardie tyd ’n goeie verstandhouding sal hê? En hoe sal die kind by wyse van voorbeeld leer as daardie die enigste minute in die dag is wat hy saam met sy ouer deurbring?

Wat is die oplossing, aangesien ouers so min tyd het om af te knyp? Daar is nie eenvoudige antwoorde nie. Niks kan die werklikheid verander dat hierdie wêreld die grootmaak van kinders ’n baie moeilike taak gemaak het nie. Party ouers kan dalk minder tyd aan hulle loopbaan bestee. Een skrywer van ’n onlangse boek oor kindersorg moedig enige ouer aan wat kan om juis dit te doen—tuis te bly by die kinders. Maar talle ouers het geen keuse nie. En selfs dié met ’n buigsame werkrooster of dié wat geen sekulêre werk het nie, vind dit steeds moeilik om genoeg tyd saam met hulle kinders deur te bring.

Party deskundiges moedig ouers aan om na die werk te kyk wat hulle in en om die huis doen, soos om skoon te maak, te kook, dinge in stand te hou, die motor te diens, die wasgoed te was en inkopies te doen, om te sien of hulle van hierdie take saam met hulle kinders kan doen. Om selfs die mees alledaagse takies saam te doen, of net saam te ontspan, kan ouers die tyd bied wat hulle nodig het om die kommunikasiekanale oop te hou en ’n goeie voorbeeld te stel. Christenouers het ander werk wat hulle saam met hulle kinders moet doen. Gemeentelike vergaderinge, die bediening, gesinsbybelstudie, omgang met medegelowiges—dit alles gee ouers die uiters noodsaaklike tyd om saam met hulle kinders te wees.

Dit is interessant dat die Wet aan die nasie Israel ongeveer 3000 jaar gelede ’n soortgelyke punt aangevoer het. In Deuteronomium 6:6, 7 lees ons: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Die lewe was nie noodwendig makliker in die ou tyd nie. Dink aan al die tyd wat nodig was om net na die daaglikse belange om te sien—hoeveel werk dit van ’n pa geverg het om vir sy gesin te sorg of hoeveel werk dit was om te kook of die wasgoed te was! Maar ouers wat Jehovah liefgehad het, het soveel as wat hulle kon saam met hulle kinders gedoen en het sodoende talle oomblikke in die dag gehad om God se Wet by hulle jong harte in te skerp.

Christenouers moet vandag dieselfde doen. Wat tyd betref wat hulle saam met hulle kinders deurbring, moet hulle nie die maklikste uitweg kies nie. Die ou gesegde: “Dis nie die kwantiteit nie, maar die kwaliteit”, geld nie vir die grootmaak van kinders nie. Veral gedurende hulle wordingsjare het kinders nie net spesiale tyd nodig nie, maar ook tyd om net “saam te wees”.

[Prent op bladsy 17]

’n Gesin wat tuis besig is, en die kinders word betrek

[Prent op bladsy 17]

Saam dien hulle Jehovah