Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Vroue-aangeleenthede Dankie vir die artikels oor vroueslanery (22 November 1988), hulp vir alkoholiste se gesinne (22 Mei 1992) en respek vir vroue (8 Julie 1992). Hierdie artikels toon ’n verbasende begrip van die menslike psige. Op my huweliksaand is ek in ’n draaikolk van traumatiese ondervindinge ingetrek. Ek het gesondheidsprobleme opgedoen en het dokters en sielkundiges geraadpleeg. Baie mense kan so iets nie maklik verstaan nie, en as jy iemand hulp vra wat nie weet wat om te sê nie, word dit selfs moeiliker. Hoe dit ook al sy, ek voel uiteindelik dat die raaisel uitgepluis is en dat alles danksy julle artikels in orde is.

N. H., Argentinië

Niagara Ek kon nie help om te glimlag toe ek die artikel “Die Niagara-waterval—’n tydlose juweel van die Amerikas” lees nie (8 Oktober 1992). Ons het watervalletjies hier in die oerwoude, maar die gedagte aan so ’n oorweldigende skouspel het my laat peins oor Jehovah se liefde vir ons en sy begeerte dat ons sy skepping ten volle sal waardeer.

P. J. O., Nigerië

Respek vir vroue Gedurende my kinderjare het ek met ’n kulturele vooroordeel grootgeword wat van my ’n groot vrouehater gemaak het. ’n Huwelik was vir my ondenkbaar! Maar danksy die reeks artikels oor die onderwerp “Vroue verdien respek” (8 Julie 1992) het ek my gesindheid teenoor vroue verander. Ek het die artikels twee keer deurgelees, en nou dink ek dat ek eendag ’n voorbeeldige eggenoot kan wees.

N. B. M., Côte d’ Ivoire

Telefoonoproepe Ek was beïndruk deur julle artikel “Jongmense vra . . . Wat is daarmee verkeerd om met mekaar te gesels?” (22 Augustus 1992). Ek het ook gereeld met iemand van die ander geslag oor die telefoon gesels. Ek was in die sewende hemel! Maar toe ek hierdie persoon konfronteer en hom van my gevoelens vertel, het ek uitgevind dat hy hoegenaamd nie ernstig oor my was nie. Ek was die slagoffer van ’n flirtasie. Ek wens dat ek julle artikel ’n jaar gelede gelees het. Miskien sou ek dan nie so hartseer gewees het nie.

L. R., Verenigde State

Ruimteverkenning Ek werk vir die Italiaanse tak van die Europese Ruimte-agentskap. By meer as een geleentheid het ek voorgestel dat die persoorsigbrosjure wat vir ons personeel voorberei word artikels uit die Ontwaak! insluit—maar dit was tevergeefs. Die artikels oor “Ruimteverkenning” (8 September 1992) is egter gebruik en het bykans al die plek in ons persoorsig in beslag geneem! Danksy die Ontwaak! het ek baie geleenthede gehad om die Bybel met my kollegas te bespreek.

P. B., Italië

Vermaak Ek is 20 jaar oud en het so pas die reeks “Hoe beïnvloed vermaak jou lewe?” gelees (8 November 1992). Ek het die inligting tydig en gebalanseerd gevind. Party jongmense voel ingehok deur al die beperkings en riglyne wat vir ons as Christene geld. My broer is byvoorbeeld nie meer ’n Christen nie omdat hy só gevoel het. Maar ek beskou hierdie riglyne as ’n beskerming, en ek voel baie veilig en geliefd omdat ek weet dat Jehovah genoeg vir ons omgee om ons afgeskeie van Satan se wêreld te hou.

D. C., Verenigde State

Ek het die tydskrif oor vermaak baie waardeer, maar ek wil graag weet waar julle die inligting kry wat julle in staat stel om die besonderhede van films soos Basic Instinct te beskryf.

A. A., Italië

Die kommentare is op nuusberigte in gerespekteerde koerante en tydskrifte gebaseer. Dit was nie nodig vir lede van ons navorsingspersoneel om hierdie laakbare film te sien nie.—RED.