Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie

Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie

Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie

“Almal wat met bloed werk en chirurgiese pasiënte behandel, moet bloedlose chirurgie oorweeg.”—Dr. Joachim Boldt, professor van verdowingskunde, Ludwigshafen, Duitsland.

DIE vigs-tragedie het wetenskaplikes en geneeshere gedwing om bykomende maatreëls te tref om die operasiekamer ’n veiliger plek te maak. Dit het natuurlik beteken dat bloed beter getoets moes word. Maar kenners sê dat selfs hierdie maatreëls nie waarborg dat daar geen risiko is nie. “Hoewel die gemeenskap baie middele beskikbaar stel om die bloedvoorraad veiliger as ooit tevore te maak”, sê die tydskrif Transfusion, “glo ons pasiënte sal nog steeds allogeneïese [skenker-] oortappings vermy bloot omdat die bloedvoorraad nooit heeltemal veilig kan wees nie.”

Dit is dus nie verbasend dat baie dokters al hoe versigtiger word om bloed te gee nie. “Bloedoortappings is gevaarlik, en ons doen absoluut alles in ons vermoë om dit aan niemand te gee nie”, sê dr. Alex Zapolanski, van San Francisco, Kalifornië.

Die gewone publiek word ook bewus van die gevare van oortappings. Trouens, ’n opname wat in 1996 gedoen is, het getoon dat 89 persent van Kanadese ’n alternatief vir skenkerbloed sou verkies. “Nie alle pasiënte sal homoloë oortappings weier soos Jehovah se Getuies nie”, sê die Journal of Vascular Surgery. “Die gevare wat dit inhou om siektes oor te dra en die immuunstelsel te wysig, toon egter duidelik dat ons alternatiewe vir al ons pasiënte moet vind.”

’n Voorkeurmetode

Gelukkig is daar ’n alternatief—bloedlose geneeskunde en chirurgie. Baie pasiënte beskou dit nie as ’n laaste uitweg nie, maar as ’n behandeling wat hulle verkies, en ook met goeie rede. Stephen Geoffrey Pollard, ’n Britse konsulterende chirurg, sê dat die siekte- en sterftesyfer onder diegene wat bloedlose chirurgie ondergaan “ten minste so goed soos dié van pasiënte is wat bloed ontvang, en in baie gevalle word hulle die na-operatiewe infeksies en komplikasies gespaar wat dikwels aan bloed toegeskryf word”.

Hoe het bloedlose mediese behandeling ontwikkel? In ’n sekere sin is dit nogal ’n snaakse vraag omdat die geskiedenis van bloedlose geneeskunde eintlik die gebruik van bloed voorafgegaan het. Trouens, dit was eers in die vroeë 20ste eeu dat die oortappingstegnologie tot die punt gevorder het dat bloed algemeen gebruik is. Party het nietemin in onlangse dekades die veld van bloedlose chirurgie gewild gemaak. Gedurende die 1960’s het die bekende chirurg Denton Cooley byvoorbeeld van die eerste opehartoperasies sonder bloed gedoen.

Met die toename van hepatitis onder pasiënte wat oortappings gedurende die 1970’s ontvang het, het baie dokters alternatiewe vir bloed begin soek. Teen die 1980’s was daar ’n aantal groot mediese spanne wat bloedlose operasies gedoen het. Toe die vigs-epidemie uitgebreek het, het ander wat gretig was om dieselfde tegnieke te gebruik hierdie spanne herhaaldelik geraadpleeg. Gedurende die 1990’s het baie hospitale programme ontwikkel wat bloedlose opsies aan hulle pasiënte bied.

Dokters het nou welslae behaal met bloedlose tegnieke tydens operasies en noodprosedures wat tradisioneel oortappings vereis het. “Groot hart-, vaat-, ginekologiese en verloskundige, ortopediese en urologiese chirurgie kan suksesvol sonder bloed of bloedprodukte gedoen word”, sê D.H.W. Wong, in die Canadian Journal of Anaesthesia.

Een voordeel van bloedlose chirurgie is dat dit versorging van ’n beter gehalte bevorder. “Die chirurg se vaardigheid is van die grootste belang in die voorkoming van bloedverlies”, sê dr. Benjamin J. Reichstein, ’n hoof van chirurgie in Cleveland, Ohio. ’n Suid-Afrikaanse regstydskrif sê dat chirurgie sonder bloed in sekere gevalle “vinniger, skoner en goedkoper” kan wees. Dit voeg by: “Die nasorgbehandeling is beslis in baie gevalle goedkoper en minder tydrowend.” Dit is net ’n paar van die redes waarom ongeveer 180 hospitale regoor die wêreld tans programme het wat in bloedlose geneeskunde en chirurgie spesialiseer.

Bloed en Jehovah se Getuies

Jehovah se Getuies weier bloedoortappings weens Bybelse redes. * Maar hulle aanvaar wel mediese alternatiewe vir bloed—en doen alles moontlik om dit te kry. “Jehovah se Getuies soek die beste mediese behandeling”, het dr. Richard K. Spence gesê, toe hy hoof van chirurgie by ’n hospitaal in New York was. “As ’n groep is hulle die bes ingeligte verbruikers wat die chirurg ooit sal teëkom.”

Dokters het al baie tegnieke vir bloedlose chirurgie op Jehovah se Getuies vervolmaak. Neem die ondervinding van die kardiovaskulêre chirurg Denton Cooley. Oor ’n tydperk van 27 jaar het sy span 663 bloedlose opehartoperasies op Getuies van Jehovah uitgevoer. Die resultate toon duidelik dat hartoperasies met welslae sonder die gebruik van bloed gedoen kan word.

Baie het Jehovah se Getuies weliswaar al gekritiseer omdat hulle bloed weier. Maar ’n handboek wat deur die Vereniging van Narkotiseurs van Groot-Brittanje en Ierland uitgegee is, noem die standpunt van die Getuies “’n teken van respek vir lewe”. Die Getuies se onwrikbare standpunt het in werklikheid ’n groot rol daarin gespeel om veiliger mediese behandeling vir almal beskikbaar te maak. “Jehovah se Getuies wat operasies nodig gehad het, het die weg aangewys en het druk uitgeoefen vir verbeteringe in ’n belangrike sektor van die Noorweegse gesondheidsdiens”, skryf professor Stein A. Evensen, van Noorweë se Nasionale Hospitaal.

Jehovah se Getuies het ’n nuttige skakeldiens op die been gebring om dokters te help om pasiënte sonder bloed te behandel. Tans is meer as 1 400 Hospitaalskakelkomitees regoor die wêreld toegerus om dokters en navorsers van mediese lektuur te voorsien met behulp van ’n databasis wat meer as 3 000 artikels oor bloedlose geneeskunde en chirurgie bevat. “Die moontlikheid dat pasiënte oor die algemeen, en nie alleen Jehovah se Getuies nie, ’n onnodige bloedoortapping sal kry, is vandag skraler danksy die werk van die Getuies se Hospitaalskakelkomitees”, sê dr. Charles Baron, ’n professor aan die Boston-kollege se fakulteit van regsgeleerdheid. *

Die inligting oor bloedlose geneeskunde en chirurgie wat deur Jehovah se Getuies saamgestel is, het baie medici al gehelp. Toe die skrywers van ’n boek met die titel Autotransfusion: Therapeutic Principles and Trends die materiaal daarvoor voorberei het, het hulle Jehovah se Getuies gevra om vir hulle inligting oor alternatiewe vir bloedoortappings te gee. Die Getuies het met graagte aan hulle versoek voldoen. Die skrywers het later uit dankbaarheid gesê: “In al ons navorsing oor die onderwerp het ons nêrens anders so ’n bondige, volledige lys strategieë gesien om homoloë bloedoortappings te vermy nie.”

Vooruitgang in die mediese veld het talle beweeg om bloedlose geneeskunde te oorweeg. Waarheen sal dit ons lei? Professor Luc Montagnier, wat die vigs-virus ontdek het, sê: “Ons groeiende begrip van hierdie veld toon dat bloedoortappings eendag moet uitsterf.” Intussen red alternatiewe vir bloed alreeds lewens.

[Voetnote]

^ par. 16 Hospitaalskakelkomitees hou ook op uitnodiging besprekings met die mediese personeel van hospitale. As hulle hulp spesifiek gevra word, help hulle ook pasiënte om vroegtydige, openhartige en volgehoue kommunikasie met die verantwoordelike geneesheer te bewerkstellig.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Wat party dokters sê

‘Bloedlose chirurgie is nie net vir Jehovah se Getuies nie, maar vir alle pasiënte. Ek dink alle dokters behoort dit te beoefen.’—Dr. Joachim Boldt, professor van verdowingskunde, Ludwigshafen, Duitsland.

“Hoewel bloedoortappings vandag veiliger as in die verlede is, hou dit steeds gevare in, waaronder immuunreaksies en die moontlikheid om hepatitis of seksueel oordraagbare siektes op te doen.”—Dr. Terrence J. Sacchi, kliniese assistent- mediese professor.

“Die meeste geneeshere beveel outomaties oortappings aan en gee dit geredelik en onoordeelkundig aan hulle pasiënte. Ek doen dit nie.”—Dr. Alex Zapolanski, hoof van hartchirurgie by die San Francisco-hartinstituut.

“Ek weet nie van enige gewone buikoperasie op ’n normale pasiënt waarin ’n bloedoortapping noodsaaklik is nie.”—Dr. Johannes Scheele, professor van chirurgie, Jena, Duitsland.

[Prente]

Dr. Joachim Boldt

Dr. Terrence J. Sacchi

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Bloedlose genees-kunde en chirurgie

Van die metodes

Vloeistowwe: Ringer-oplossing, dekstran, hidroksi-etielstysel en ander vloeistowwe word gebruik om bloedvolume te handhaaf, wat hipovolemiese skok voorkom. Party vloeistowwe wat tans getoets word, kan suurstof vervoer.

Medisyne: Geneties gemanipuleerde proteïene kan die vervaardiging van rooi bloedselle (eritropoiëtien), bloedplaatjies (interleukin-11) en verskeie wit bloedselle (GM-CSF, G-CSF) stimuleer. Ander medikasie verminder bloedverlies tydens ’n operasie grootliks (aprotinien, antifibrinolitiese middels) of help om akute bloeding te verminder (desmopressien).

Biologiese bloedstolmiddels: Geweefde absorbeerwatte van kollageen en sellulose word gebruik om bloeding te stop deur direkte aanwending. Fibriengomme en -seëlmiddels kan steekwonde seël of bloeding bedek wat oor ’n groot oppervlak voorkom.

Bloedherwinning: Herwinningsmasjiene herwin bloed wat gedurende ’n operasie of trauma verloor word. Die bloed word skoongemaak en kan in ’n geslote baan na die pasiënt terugkeer. In uiterste gevalle kan liters bloed met behulp van so ’n stelsel herwin word.

Chirurgiese instrumente: Party toestelle sny en seël bloedvate gelyktydig. Ander toestelle kan bloeding stop wat oor ’n groot oppervlak voorkom. Met laparoskopiese instrumente en ander instrumente wat minimale indringing moontlik maak, kan operasies uitgevoer word sonder die bloedverlies wat met groot insnydings gepaardgaan.

Chirurgiese tegnieke: Deeglike beplanning voor ’n operasie, wat konsultasie met ervare klinici insluit, help die chirurgiese span om komplikasies te vermy. Onmiddellike optrede om bloeding te stop, is noodsaaklik. Vertragings wat langer as 24 uur duur, kan die sterftesyfer skerp laat styg. Wanneer groot operasies in verskeie kleiner operasies verdeel word, verminder dit die totale bloedverlies.

[Venster/Prente op bladsy 10]

Bloedlose geneeskunde—Die nuwe “standaard vir behandeling”?

ONTWAAK! het die voordele van bloedlose geneeskunde en chirurgie met vier kenners op die gebied bespreek.

Wie benewens pasiënte wat bloedoortappings weens godsdienstige redes weier, toon belangstelling in bloedlose geneeskunde?

Dr. Spahn: In ons sentrum is diegene wat bloedlose behandeling vra gewoonlik pasiënte wat baie goed ingelig is.

Dr. Shander: In 1998 was daar meer pasiënte wat bloed weens persoonlike redes geweier het as pasiënte wat dit weens godsdienstige redes geweier het.

Dr. Boyd: Daar is byvoorbeeld kankerpasiënte. Dit is al dikwels bewys dat hulle beter herstel en dat minder van hulle weer kanker kry as hulle nie bloed ontvang nie.

Dr. Spahn: Ons behandel dikwels universiteitsprofessors en hulle gesinne sonder bloed. Selfs die chirurge vra dat ons oortappings vermy! Een chirurg het byvoorbeeld na ons toe gekom oor sy vrou, wat ’n operasie moes hê. Hy het gesê: “Maak net seker van een ding—dat sy nie ’n bloedoortapping kry nie!”

Dr. Shander: Lede van my departement van verdowingskunde het gesê: ‘Dié pasiënte wat nie bloed kry nie, doen net so goed en miskien selfs beter. Waarom het ons twee standaarde vir behandeling? As dit die beste behandeling is, moet ons dit vir almal gee.’ Ons hoop dus nou dat bloedlose geneeskunde die standaard vir behandeling gaan word.

Mnr. Earnshaw: Dit is toevallig so dat bloedlose geneeskunde veral vir Jehovah se Getuies van belang is. Dit is egter hoe ons almal wil behandel.

Is die bloedlose benadering duurder of goedkoper?

Mnr. Earnshaw: Dit is kostebesparend.

Dr. Shander: Daar is ’n vermindering van 25 persent in koste met bloedlose geneeskunde.

Dr. Boyd: Al is dit net om hierdie rede, moet ons dit gebruik.

Hoe ver het ons gevorder wat die gebruik van bloedlose mediese behandeling betref?

Dr. Boyd: Ek dink dis baie progressief. Ons het nog lank nie die einde daarvan gesien nie. Om elke hoek en draai vind ons nog ’n goeie nuwe rede om nie bloed te gebruik nie.

[Prente]

Dr. Donat R. Spahn, professor van verdowingskunde, Zürich, Switserland

Dr. Aryeh Shander, assistent- kliniese professor van verdowingskunde, Verenigde State

Mnr. Peter Earnshaw, FRCS, konsulterende ortopediese chirurg, Londen, Engeland

Dr. Mark E. Boyd, professor van verloskunde en ginekologie, Kanada

[Venster op bladsy 11]

Die pasiënt se rol

▪ Praat met jou dokter oor bloedlose alternatiewe voor daar ’n behoefte aan behandeling ontstaan. Dit is veral belangrik vir swanger vroue, ouers met klein kindertjies en bejaardes.

▪ Stel jou wense op skrif, veral as ’n wetlike dokument vir hierdie doel beskikbaar is.

▪ As jou geneesheer jou nie sonder bloed wil behandel nie, moet jy ’n geneesheer soek wat aan jou wense sal voldoen.

▪ Aangesien party alternatiewe vir bloed tyd neem om doeltreffend te wees, moet jy nie behandeling uitstel as jy weet dat jy ’n operasie nodig het nie.