Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die verstommende wêreld van insekte

Die verstommende wêreld van insekte

Die verstommende wêreld van insekte

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

DINK jy dat insekte niks meer as ’n ergernis is nie? Sal jy graag wil sien dat die wêreld ontslae raak van hierdie lastige plae? Spuit jy, slaan jy of trap jy op hulle wanneer jy hulle ook al sien? Voordat jy oorlog verklaar teen elke gogga wat jy teëkom, waarom probeer jy nie iets oor hulle wêreld leer nie? Met ongeveer 200 000 000 insekte vir elke mens op aarde, kan jy buitendien seker wees dat hulle hier is om te bly!

’n Vinnige kykie na net ’n paar van hierdie verstommende diertjies sal jou heel moontlik oortuig dat insekte jou agting verdien.

Meesters van vlug met merkwaardige sig

Baie insekte is meesters van die vliegkuns. Beskou ’n paar voorbeelde. Muskiete kan onderstebo vlieg. Party kan selfs deur die reën vlieg sonder om nat te word—ja, hulle koes eintlik tussen die reëndruppels deur! Party tropiese perdebye en bye zoem rond teen snelhede van tot 72 kilometer per uur. Een koningvlinder van Noord-Amerika het 3 010 kilometer tydens sy migrasievlug afgelê. Sweefvlieë kan hulle vlerke meer as duisend keer per sekonde klap—baie vinniger as kolibries. Naaldekokers kan agteruit vlieg, ’n feit wat navorsers se nuuskierigheid geprikkel het en gemaak het dat hulle hierdie insekte deeglik bestudeer.

As jy al ooit probeer het om ’n vlieg te slaan, dan weet jy dat hierdie insekte uitstekende visie het, en hulle het boonop reflekse wat tien keer vinniger as ons s’n is. Dit is interessant dat die vlieg ’n saamgestelde oog het met duisende sesvlakkige lense wat elkeen onafhanklik werk. Die vlieg se visie is dus waarskynlik in klein deeltjies opgebreek.

Party insekte kan ultraviolet lig waarneem, wat vir mense onsigbaar is. Wat dus vir ons soos ’n oninteressante wit vlinder lyk, is alles behalwe oninteressant vir die mannetjiesvlinder. Trouens, wanneer ’n mens na die wyfie onder ultraviolet lig kyk, kan jy pragtige patrone sien wat ideaal is om die aandag van belangstellende mannetjies te trek.

Die oë van baie insekte dien as ’n kompas. Bye en perdebye kan byvoorbeeld die vlak van gepolariseerde lig waarneem, wat dit vir hulle moontlik maak om die son se posisie in die lug te bepaal—selfs wanneer dit agter wolke verberg is. Danksy dié vermoë kan hierdie insekte ver van hulle nes af gaan kos soek en nog steeds hulle pad huis toe vind sonder om ooit te verdwaal.

Daar is liefde in die lug

In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.

Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak! Party wyfies maak weer geen geluid nie.

Hoe insekte hulle verwarm

Vir mense wat in ’n koue klimaat woon, is dit belangrik om warm te bly. Dieselfde geld vir koudbloedige insekte wat elke oggend amper gevries is wanneer hulle wakker word. Die son is hulle bondgenoot, en hulle maak die beste gebruik daarvan.

Vlieë en kewers word na blomme of blare gelok wat in die vroeë oggendure in die hitte van die son bak. Party kewers besoek Australiese waterlelies wat as botaniese oonde dien omdat hulle bloeisels tot 20 grade Celsius warmer as die omliggende temperatuur word. In teenstelling hiermee het vlinders ’n ingeboude verhittingstelsel. Wanneer hulle hulle moet verwarm, maak hulle hulle vlerke oop, wat as doeltreffende sonpanele dien, en rig hulle dit na die son.

Hulle doen alles en nog meer!

In die insekwêreld het amper elke spesie ’n ander rol, waarvan party heel ongewoon is. Party motte kry byvoorbeeld lewegewende sout en vog deur die trane van buffels op te suig. Ander insekte wat met ’n kragtige vriesweringsmiddel toegerus is, word op yskoue bergtoppe aangetref en is hulle hele lewe lank op soek na goggas om te eet wat van die koue dood is.

Soos wyse koning Salomo duisende jare gelede opgemerk het, is die mier baie hardwerkend. Salomo het geskryf: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd” (Spreuke 6:6-8). Die afwesigheid van ’n heerser is selfs merkwaardiger as ’n mens in ag neem dat daar tot 20 miljoen miere in party mierkolonies is! Tog funksioneer hierdie “insekmetropolis” volmaak, met elke mier wat sy spesifieke taak uitvoer sodat die hele kolonie kos, beskerming en huisvesting het.

Miskien is die indrukwekkendste voorbeeld van insekwonings die termiethoop. Party van hulle is tot sewe en ’n half meter hoog. * Hierdie wonders van konstruksie het gesofistikeerde lugversorging en ondergrondse fungustuine. Wat selfs ongeloofliker is, is die feit dat die termiete wat hierdie toringhoë piramides bou blind is!

Waarom ons insekte nodig het

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei. “Sonder insekte”, skryf insekkundige Christopher O’Toole in sy boek Alien Empire, “sou daar ’n verskriklike ophoping van dooie plant- en dieremateriaal wees.”

Ons is baie gou bewus daarvan wanneer insekte se werk nie gedoen word nie. Neem byvoorbeeld wat in Australië gebeur het, wat die tuiste van miljoene beeste geword het. Waar daar beeste is, gaan daar mis wees. Behalwe dat dit onooglik was, was die mis ’n broeiplek vir die bosvlieg—’n plaag vir die mens en vir vee. Miskruiers is gevolglik van Europa en Afrika af ingevoer. Die probleem is opgelos!

Vriende of vyande?

Dit is waar dat party insekte gewasse eet en siektes dra. Maar net ongeveer 1 persent van die wêreld se insekte word as plae beskou, en baie van hulle rig meer skade aan as gevolg van die manier waarop die mens self die omgewing verander het. Die malariamuskiet pla byvoorbeeld selde die inheemse volke wat in die ekwatoriale woude woon. Maar hy rig wel verwoesting aan in die dorpies langs die woud, waar daar volop stilstaande water is.

Die mens kan dikwels die insekte wat gewasse aanval op ’n natuurlike wyse beheer deur gewasse af te wissel of deur natuurlike vyande in te voer of te beskerm. Die eenvoudige liewenheersbesie en gaasvlieg beheer plantluisplae doeltreffend. En in suidoostelike Asië het openbare gesondheidswerkers ontdek dat ’n paar naaldekokerlarwes ’n watertenk vry van muskietlarwes hou.

Al veroorsaak insekte dus soms probleme is hulle ’n noodsaaklike deel van die sigbare wêreld waarvan ons afhanklik is. Hoewel insekte sonder ons kan klaarkom, is dit soos Christopher O’Toole sê: “Ons kan nie sonder hulle klaarkom nie”.

[Voetnoot]

^ par. 20 Vir mense sou die ekwivalent ’n wolkekrabber wees wat meer as nege kilometer hoog is.

[Venster/Prente op bladsy 16, 17]

METAMORFOSE ’n Nuwe voorkoms, ’n nuwe lewenswyse

Party insekte ondergaan ’n volkome gedaanteverandering deur ’n proses wat metamorfose genoem word—en letterlik “vormverandering” beteken. Die veranderinge kan heel dramaties wees. Maaiers verander in vlieë, ruspes verander in vlinders en waterlarwes in vlieënde naaldekokers. Honderdduisende insekte ondergaan ’n metamorfose.

Om so ’n verandering teweeg te bring—wat vergelyk kan word met ’n trein wat in ’n vliegtuig omskep word—moet groot veranderinge binne-in die insek se liggaam plaasvind. Neem byvoorbeeld die vlinder. Terwyl die ruspe in die papiestadium rustend is, verloor hy die meeste van sy weefsel en liggaamsorgane van sy vorige lewenstadium, en ’n hele stel nuwe organe vir die volwassestadium—soos vlerke, oë en voelers—ontwikkel.

Dikwels gaan die gedaanteverandering met die begin van ’n nuwe lewenswyse gepaard. Byvoorbeeld, terwyl die naaldekoker in die larwestadium is, vang hy klein vissies of paddavissies; maar wanneer hy volwasse word en kan vlieg, verander sy dieet na dié van insekte. Dit is soos ’n man wat die eerste 20 jaar van sy lewe in die see deurbring en die res van sy lewe soos ’n voël rondvlieg.

Kon evolusie hierdie ongelooflike gedaanteveranderinge bewerk het? Hoe kon ’n ruspe sommer op die toneel verskyn, geprogrammeer om homself in ’n vlinder te verander? En wat was eerste—die ruspe of die vlinder? Die een kan nie sonder die ander bestaan nie, want net vlinders paar en lê eiers.

Die proses van metamorfose is beslis ’n oortuigende bewys van ’n Meesterontwerper, die een wat die Bybel as die Skepper van alle dinge identifiseer, God die Almagtige.—Psalm 104:24; Openbaring 4:11.

[Prente]

Die swaelstert wat pas uit sy papie verskyn het, strek sy vlerke

[Prente op bladsy 18]

Bo: Stuifmeelkewer

Regs bo: ’n Blaarkewer wat met dou bedek is, verwarm hom

Ver regs: Renosterkewer

[Prent op bladsy 18]

Afrikaanse grassprinkaan

[Prent op bladsy 18]

Blindevlieg