Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moeders met vigs bevind hulle in ’n dilemma

Moeders met vigs bevind hulle in ’n dilemma

Moeders met vigs bevind hulle in ’n dilemma

CYNTHIA, * ’n vrou van die Wes-Indiese Eilande, moes besluit of sy haar pasgebore babatjie gaan borsvoed en of sy haar met ’n bottel gaan voed. Dit lyk dalk na ’n eenvoudige besluit. Gesondheidsdeskundiges bevorder immers al dekades lank moedersmelk as “die beste gesondheidskos” vir babas. Buitendien, die waarskynlikheid dat bottelbabas in arm gemeenskappe aan diarreesiektes sal sterf, is 15 keer groter as dié wat geborsvoed word. Trouens, die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) berig dat sowat 4 000 kinders elke dag sterf as gevolg van gevare wat verband hou met plaasvervangers vir borsmelk.

Maar in Cynthia se geval was ’n heel ander gevaar by die besluit oor borsvoeding ter sprake. Haar man het haar besmet met die menslike immuniteitsgebrekvirus (HIV), wat vigs veroorsaak. Ná die geboorte, het Cynthia uitgevind dat daar ’n kans van 1 uit 7 is dat ’n kind van ’n HIV-positiewe moeder deur borsmelk besmet kan word. * Gevolglik moes sy ’n pynlike keuse maak: sy moes óf haar baba aan die risiko’s van borsvoeding óf aan die gevare van bottelvoeding blootstel.

In die dele van die wêreld waar die vigs-epidemie die ergste is, is 2 of 3 uit elke 10 swanger vroue HIV-positief. In een land was meer as die helfte van al die swanger vroue wat getoets is, besmet. “Hierdie kommerwekkende syfers”, berig VN-Radio, “laat wetenskaplikes naarstig na ’n geneesmiddel soek.” Om hierdie gevaar die hoof te bied, het ses VN-organisasies hulle ondervinding, pogings en hulpbronne saamgevoeg en die Verenigde Nasies se Gesamentlike HIV/vigs-program gevorm, wat as UNAIDS bekend staan. * Maar wat UNAIDS gevind het, is dat die oplossing vir die vigsdilemma nie so eenvoudig is nie.

Komplekse struikelblokke staan in die pad van ’n eenvoudige oplossing

Volgens Edith White, ’n spesialis op die gebied van borsvoeding en HIV-oordrag van moeder na kind, raai gesondheidswerkers HIV-positiewe moeders in nywerheidslande aan om nie hulle babas te borsvoed nie, aangesien dit die risiko dat die baba besmet kan word byna verdubbel. Dit lyk na ’n logiese alternatief om melkformules te gebruik. Maar in die ontwikkelende wêreld—waar idealistiese teorieë vinnig deur die harde werklikheid vervang word—is dit moeilik om hierdie eenvoudige oplossing toe te pas.

Een van die struikelblokke is maatskaplik van aard. In lande waar borsvoeding die reël is, maak bottelvoeding dalk die feit bekend dat vroue met HIV besmet is. ’n Vrou is dalk bang dat sy beskuldig, verlaat of selfs geslaan sal word wanneer haar toestand bekend word. Party vroue in hierdie situasie meen dat hulle geen ander keuse het as om hulle baba te borsvoed en sodoende die feit dat hulle HIV-positief is geheim te hou nie.

Daar is ook ander struikelblokke. Kyk byvoorbeeld na die 20-jarige Margaret. Sy, soos ten minste 95 persent van Uganda se plattelandse vroue, is nog nooit vir HIV getoets nie. Maar Margaret het rede om bekommerd te wees. Haar eerste kind het gesterf, en haar tweede is swak en sieklik. Margaret borsvoed haar derde kind tien keer per dag, ten spyte van die feit dat sy dalk HIV het. “Ek sal nooit my baba met formule kan voed nie”, sê sy. Waarom nie? Om een kind met melkformule te voed, sê Margaret, kos een en ’n half keer meer as wat ’n gesin in haar dorpie in ’n hele jaar verdien. Selfs as die formule verniet beskikbaar was, sou daar nog steeds die probleem wees om skoon water te kry sodat dit veilig vir babas sal wees om die formule te drink. *

Party van hierdie struikelblokke kan oorkom word as HIV-besmette moeders voorsien word van behoorlike sanitasie, genoeg plaasvervangers vir borsmelk en toegang tot veilige water. Duur? Miskien. Maar om sulke voorsienings te maak, is verbasend genoeg eerder ’n kwessie van prioriteite stel as om die geld daarvoor te vind. Trouens, die VN berig dat van die armste ontwikkelende lande in die wêreld ongeveer twee keer soveel aan die weermag bestee as wat hulle aan gesondheid en onderwys bestee.

Wat van middels teen vigs?

VN-wetenskaplikes het gesê dat ’n eenvoudige en betreklik goedkoop middel, wat AZT genoem word, HIV-oordrag van moeder na baba aansienlik kan verminder. Met behulp van UNAIDS is die koste van hierdie behandeling tot R300 verminder. Daarbenewens het vigs-navorsers in Julie 1999 aangekondig dat die behandeling van HIV-positiewe moeders en hulle pasgebore babas met ’n hoeveelheid van die middel nevirapien, wat net R18 kos, blykbaar selfs doeltreffender is as AZT om HIV-oordrag te voorkom. Gesondheidsdeskundiges sê dat nevirapien kan voorkom dat tot 400 000 pasgebore babas per jaar hulle lewe met HIV-besmetting begin.

Maar party kritiseer behandeling met sulke middels en sê dat die moeder uiteindelik aan vigs sal sterf en die kind wees sal agterlaat, aangesien die middels beperk is tot die voorkoming van HIV-oordrag van moeder na baba. Die VN antwoord dat die sombere alternatief is om die babas HIV te laat kry en hierdie onskuldige slagoffers sodoende tot ’n stadige en droewige dood te veroordeel. Hulle voer ook aan dat HIV-besmette moeders nog jare lank kan leef. Kyk byvoorbeeld na Cynthia, wat vroeër genoem is. Sy het in 1985, toe haar baba gebore is, uitgevind dat sy HIV het, maar sy het eers agt jaar later siek geword. En al het haar baba by geboorte HIV gehad, was sy teen tweejarige ouderdom vry daarvan.

Die Bybel gee die bemoedigende versekering dat ’n waarlik veilige omgewing en die blywende oplossing van plae soos vigs in sig is (Openbaring 21:1-4). Jehovah God belowe ’n nuwe wêreld waar “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Jehovah se Getuies wil jou graag van hierdie blywende oplossing vertel. Vir meer inligting kan jy gerus met die uitgewers van hierdie tydskrif of met Jehovah se Getuies in jou omgewing in verbinding tree.

[Voetnote]

^ par. 2 Nie haar regte naam nie.

^ par. 3 Volgens UNICEF word ongeveer 500 tot 700 babas per dag deur die borsmelk van hulle HIV-positiewe moeders besmet.

^ par. 4 Die ses organisasies is UNICEF, die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram, die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds, die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Wêreldbank en die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur. UNAIDS is in 1995 gestig.

^ par. 8 ’n Onlangse studie dui daarop dat dit moontlik die risiko van HIV-besmetting vergroot wanneer ’n baba formulevoeding sowel as borsvoeding ontvang en dat borsmelk moontlik viruswerende agense bevat wat die virus help vernietig. As dit die geval is, is borsvoeding alleen—selfs met die risiko’s daaraan verbonde—dalk ’n veiliger keuse. Die bevindings van hierdie studie is egter nog nie bevestig nie.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

WHO/E. Hooper