Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Vasco da Gama Ek het die artikel “Die merkwaardige seereis van Vasco da Gama” (22 Maart 1999) besonder baie geniet. Dit is goed geïllustreer en leersaam. Julle sê dat hy drie klein skepe op sy seereis gehad het, maar daar was eintlik vier. Julle sê ook dat Da Gama op 8 September 1499 weer in Lissabon aangekom het. Hy het egter teen die einde van Augustus daar aangekom.

P. N., Kenia

Dit is waar dat Da Gama se reis met vier skepe begin het. Maar die deel van die seereis wat in die inleiding beskryf is, het plaasgevind nadat die vierde skip vernietig is. Wat die datum van sy aankoms in Lissabon betref, sê die meeste bronne dit was vroeg in September. “Portugal and the Discoveries” sê interessant genoeg: “Vasco da Gama het op 29 Augustus, of daar rond, daar aangekom, en hy is op 8 September met al die seremonie wat hom toegekom het deur die koning ontvang.” Dit ruim dalk die oënskynlike teenstrydigheid uit die weg.—RED.

Blokkiesraaisels Ek wil vir julle skryf oor die blokkiesraaisels in die Ontwaak! Ek geniet hulle omdat hulle my brein laat werk, en op 78-jarige ouderdom moet ’n mens jou verstand besig hou. Wanneer ’n mens die Bybel lees, onthou jy gewoonlik nie sulke breedvoerige inligting as wat in die blokkiesraaisels na vore kom nie. Ek neem dus die tyd om al die teksverwysings wat aangegee word na te slaan. Dankie vir hierdie rubriek.

J. W., Verenigde State

Comenius Ek leer ’n groep volwassenes om te lees. Julle uitstekende artikel “Comenius—die vader van die moderne onderwys” (8 Mei 1999) het my gehelp om te verstaan waarom party sukkel om te leer. Die inligting in die bygaande venster, “’n Paar onderrigbeginsels van Jan Komenski”, sal baie nuttig wees.

N. A. F., Brasilië

Dankie vir die leersame artikel. Ek het meer oor Comenius geleer uit vier bladsye van die Ontwaak! as wat ek uit tien lesings gedurende my studiekursus op universiteit geleer het.

H. P., Duitsland

Indiaanse Bybel Toe ek die artikel “Indiane en die Bybel” (8 Mei 1999) gelees het, is my belangstelling veral geprikkel deur julle verwysings na John Eliot se Bybel vir die Massachuset-Indiane. Ek en my man het ’n eksemplaar van daardie Bybel gesien tydens ’n besoek aan die Huntington-biblioteek, in San Marino, Kalifornië. Dit was oopgeslaan by die boek Psalms, en die naam Jehovah kon op verskeie plekke gesien word. Hoe opwindend was dit tog vir ons om God se naam in hierdie 17de-eeuse Bybel te sien!

B. J., Verenigde State

Kinderarbeid Dankie vir die reeks “Kinderarbeid—Die einde is in sig!” (22 Mei 1999). Toe ek die voorblad vir die eerste keer sien, was my eerlike mening dat die artikels niks met my land te doen het nie. Maar toe ek dit eers begin lees, kon ek nie ophou nie. Trouens, ek was geskok. Ek het onlangs ’n handgemaakte teddiebeer gekoop vir ’n breukdeel van wat dit sou gekos het as dit in Japan gemaak was. Dit is hartverskeurend om te dink dat die hartelose behandeling van klein kindertjies moontlik daartoe bygedra het dat dit so goedkoop was.

S. O., Japan

Gewig Ek is tien jaar oud. Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek my obsessie oor my gewig te bowe kom?” (22 Mei 1999). Ek het nog altyd gedink dat ek te vet is. Toe ek hierdie artikel gelees het, het ek besef dat ’n mens se figuur nie die belangrikste ding is nie. ’n Mens se eienskappe is belangriker.

M. S., Rusland