Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wil jy ’n ander taal aanleer?

Wil jy ’n ander taal aanleer?

Wil jy ’n ander taal aanleer?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

“Makliker gesê as gedaan!” Dit is wat baie mense sê oor die aanleer van ’n ander taal, veral nadat hulle dit probeer het. Dit is weliswaar om die minste te sê ’n uitdaging om ’n ander taal aan te leer. Maar diegene wat dit reggekry het, sê dat dit beslis die moeite werd is.

DAAR is baie redes om ’n nuwe taal te wil aanleer. Andrew het byvoorbeeld ’n vakansie in Frankryk beplan, en hy wou graag met die plaaslike mense in hulle eie taal praat. Guido is in Engeland gebore, maar sy gesin kom oorspronklik uit Italië. “Ek het net ’n dialek geken”, sê hy, “daarom wou ek leer om Italiaans reg te praat.” Jonathan se broer het onlangs na die buiteland verhuis en is met ’n Spaanse meisie getroud. “Ek wou graag met my nuwe familie in hulle eie taal praat wanneer ek my broer besoek”, sê Jonathan.

Maar om ’n ander taal aan te leer, kan ook ander voordele inhou. “Dit het my geleer om empatie te hê”, sê Louise. “Nou weet ek hoe buitelanders voel wanneer hulle in ’n land aankom waar ’n vreemde taal gepraat word.” Vir Pamela was die voordele van ’n meer persoonlike aard. Omdat sy in Engeland grootgeword het, het sy Chinees—die taal van haar gesin—nie goed geken nie. Gevolglik het Pamela en haar ma van mekaar vervreemd geraak. “Ons het nie juis met mekaar gekommunikeer nie”, erken Pamela. “Maar noudat ek Chinees kan praat, is ons nader aan mekaar en het ons verhouding verbeter.”

Wat jou sal help om suksesvol te wees

Wat sal jy nodig hê om ’n ander taal met welslae aan te leer? Baie wat dit gedoen het, beklemtoon die volgende.

Motivering. Jy het ’n dryfveer nodig—’n rede om jou doel na te streef. Studente wat goed gemotiveer is, doen gewoonlik die beste.

Nederigheid. Moenie te veel van jouself verwag nie—jy sál foute maak, veral aan die begin. “Mense gaan vir jou lag”, sê Alison, “behou dus jou humorsin!” Valerie stem saam: “Jy is soos ’n kind wat leer loop. Jy val dikwels, maar jy moet eenvoudig opstaan en weer probeer.”

Geduld. “Vir my was die eerste twee jaar moeilik, en soms het ek lus gehad om tou op te gooi”, sê David. Hy erken nietemin: “Dit raak makliker!” Jill voel ook so. “Jy dink nie jy het vordering gemaak nie totdat jy terugkyk”, sê sy.

Oefening. ’n Vaste roetine sal jou help om vlot te raak in die nuwe taal. Probeer om elke dag te oefen, selfs al is dit net ’n paar minute. Soos een handboek dit stel, “is ‘’n bietjie oefening wat gereeld gedoen word’ beter as ‘baie oefening, wat selde gedoen word’”.

Nuttige hulpmiddels

Is jy gereed vir die uitdaging om ’n ander taal aan te leer? Indien wel, sal die volgende hulpmiddels jou help om vinniger vordering te maak.

Flitskaarte. Elkeen het ’n woord of frase aan die voorkant en die vertaling agterop. As dit nie beskikbaar is waar jy woon nie, kan jy jou eie stel met liasseerkaarte maak.

Oudiokassette en videokassette. Dit kan jou help om die regte uitspraak van woorde te hoor. David het byvoorbeeld basiese Japannees geleer deur na ’n oudiokasset van ’n toeristefraseboek in sy motor te luister.

Interaktiewe rekenaarprogramme. Sommige van hierdie programme neem jou stem op sodat jy jou uitspraak met dié van moedertaalsprekers kan vergelyk.

Radio en televisie. As daar radio- of televisieprogramme in julle omgewing uitgesaai word in die taal wat jy leer, kan jy daarna luister en kyk hoeveel jy daarvan verstaan.

Tydskrifte en boeke. Probeer om gedrukte materiaal in die nuwe taal te lees en maak seker dat die leesstof nie te moeilik of te maklik is nie. *

Hoe om die taal jou eie te maak

Jy sal natuurlik vroeër of later gesprekke moet voer met mense wat die taal praat. Dit sal nie vereis dat jy na ’n verafgeleë land moet reis nie. Miskien kan jy eerder ’n anderstalige gemeente van Jehovah se Getuies in jou eie land besoek.

In alle geval, jou doel moet wees om in die nuwe taal te leer dink, en nie net om woorde en frases uit jou moedertaal te vertaal nie. Dit sal waarskynlik ook help as jy iets omtrent die gebruike en gewoontes van die mense wat jou nuwe taal praat probeer leer. “’n Mens kan nie werklik ’n taal leer as jy nie iets omtrent die gewoontes en waardes van daardie kultuur verstaan nie”, sê taalkenner Robert Lado.

’n Laaste gedagte: Moenie ontmoedig raak wanneer dit voel of jy stadig vorder nie. Dit is per slot van rekening ’n voortgesette proses om ’n nuwe taal aan te leer. “Ek hou nooit op leer nie”, sê Jill, wat 20 jaar gelede gebaretaal geleer het. “Die taal ontwikkel voortdurend.”

Wil jy dus ’n ander taal aanleer? Wees dan gereed om ’n uitdagende—maar baie lonende—projek aan te pak.

[Voetnoot]

^ par. 18 Die Ontwaak! is nou in 83 tale beskikbaar en sy medetydskrif, Die Wagtoring, word in 132 tale gedruk. Baie het gevind dat die duidelike taalgebruik in hierdie tydskrifte nuttig is om ’n nuwe taal aan te leer.

[Prente op bladsy 12, 13]

Jy kan jou woordeskat opbou deur . . . 

. . . jou moedertaal met die taal wat jy aanleer te vergelyk