Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bratislava—van antieke rivieroorgang tot moderne hoofstad

Bratislava—van antieke rivieroorgang tot moderne hoofstad

Bratislava—van antieke rivieroorgang tot moderne hoofstad

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SLOWAKYE

STEL jou voor dat jy terug kan gaan in die geskiedenis na die jaar 1741. Daar heers ’n atmosfeer van gespanne afwagting. Feestelike trompetgeskal kan gehoor word terwyl mense druk en stoot om so na as moontlik aan die straat te kom waar ’n optog binne enkele oomblikke verby gaan beweeg. In die skare is daar plaaswerkers in hulle Sondagsklere, lede van die trotse middelklas wat in die jongste modes uitgedos is, asook adelmanne wat gekom het om te kyk wat gebeur en om self ook gesien te word. Terwyl mense opgewonde uitroep, versprei koninklike verteenwoordigers goue en silwermuntstukke met die afbeelding van ’n jong dame daarop. Waarom al die opgewondenheid? Maria Theresia, die aartshertogin van Oostenryk, kom die stad binne om as die nuwe koningin van Hongarye gekroon te word.

Maar laat ons eers weer na die hede terugkeer. Waarheen sal jy gaan as jy die plek waar hierdie belangrike kroning plaasgevind het, wil besoek? Nie na Wene, waar baie toeriste vandag Maria Theresia se koninklike paleis bewonder nie, en ook nie na Boedapest, die hoofstad van hedendaagse Hongarye nie. Jy sal Bratislava, ’n stad langs die Donau-rivier, sowat 56 kilometer oos van Wene, moet besoek.

Vandag is Bratislava, ’n stad met ongeveer ’n halfmiljoen inwoners, die hoofstad van skilderagtige Slowakye. Wanneer Bratislava vandag met sy naburige hoofstede—Boedapest, Wene en Praag—vergelyk word, lyk hy soos ’n kleiner boetie. En tog was dit meer as twee eeue lank die hoofstad van Hongarye en het dit al die glorie geniet wat saam met so ’n bevoorregte status gaan. Trouens, 11 Hongaarse heersers is in hierdie stad gekroon. Maar wat het dit so spesiaal gemaak?

’n Antieke nedersetting

Bratislava spog met ’n gunstige ligging aan die Donau, Europa se tweede langste rivier. In die verlede het die Donau by hierdie punt stadiger gevloei en vlakker geword sodat dit ’n natuurlike oorgang gevorm het. Mense, saam met hulle diere en waens, het die rivier hier oorgesteek lank voor brûe sy walle verbind het. Van antieke tye af was die gebied om die hedendaagse Bratislava dus ’n besige kruispad. Reeds in 1500 v.G.J. het een van die Amberroetes, belangrike handelsroetes wat die noorde en suide van Europa verbind het, deur die stad gegaan. Later is verkeer wat oor die drif gegaan het deur ’n vesting op die nabygeleë heuwel beheer waar die Bratislava-kasteel nou is.

Wie sou jy moontlik by hierdie oorgang raakloop as jy in die verlede kon teruggaan? Wel, as jy so in die vierde eeu v.G.J. hier aangekom het, sou die Kelte wat hierdie gebied ’n middelpunt van hulle kultuur gemaak het jou verwelkom het. Die heuwel het as ’n soort akropolis vir die plaaslike Keltiese gemeenskap gedien, wat erdewerk gemaak en munte geslaan het.

Gestel jy het dit aan die begin van ons Gewone Jaartelling besoek. As jy ’n bietjie Latyn geken het, sou jy moontlik met die plaaslike mense kon praat, want teen hierdie tyd het die Romeine hulle noordelike grens tot by die Donau uitgebrei. Maar terselfdertyd sou jy ook dalk van die Germaanse volke uit die weste teëgekom het.

As jy jou besoek nader aan die Middeleeue gereël het, sê so in die agtste eeu, sou jy jou in ’n etniese smeltkroes bevind het. Teen hierdie tyd het die sogenaamde Groot Volksverhuising reeds plaasgevind, en Slawiese volke van die ooste het hulle in die gebied begin vestig. Die Hongare het hulle in die suide gevestig en het ook die gebied van Bratislava binnegedring. Maar op die een of ander manier het die Slawiese element behoue gebly. ’n Bewys hiervan is die Slawiese naam van die gebied se eerste werklike kasteel, wat in die tiende eeu gebou is. Dit was bekend as Brezalauspurc, wat “Kasteel van Braslav” beteken—en is vermoedelik na ’n hooggeplaaste leëroffisier vernoem. Die Slowaakse naam Bratislava is hiervan afgelei.

Die Middeleeuse stad

Met verloop van tyd het die land wat nou Slowakye genoem word deel van Hongarye geword. ’n Geskiedkundige verslag wat uit 1211 G.J. dateer, noem Bratislava-kasteel die bes versterkte kasteel in Hongarye. Dertig jaar later is hierdie woorde waar bewys toe die kasteel aanvalle deur Tartaarse invallers weerstaan het. As gevolg van hierdie sukses het die nedersetting om die kasteel vinnig begin groei, en in 1291 het die Hongaarse koning Ondrej III die dorp al die voorregte van ’n munisipaliteit gegee. Sy burgers het gevolglik die reg gekry om hulle eie burgemeester te verkies, goedere op die Donau-rivier te vervoer en vryelik “op water en op land” handel te dryf. Aangesien wingerde teen die stad se sonnige hange gefloreer het, het die burgers dit veral waardeer dat hulle wyn van hulle huis af kon verkoop.

Later het die Hongaarse konings die stad bykomende voorregte gegee, wat tot verdere uitbreiding bygedra het. In 1526 het Bratislava sy lang geskiedenis as die hoofstad van Hongarye begin, ’n posisie wat dit tot 1784 beklee het. Intussen het die etniese verskeidenheid in Bratislava al hoe groter geword. Sy hoofsaaklik Slawiese en Hongaarse bevolking is deur ’n toestroming van Duitse en Joodse mense verryk. Namate Turkse oorheersing in die 17de eeu wes- en noordwaarts uitgebrei het, het baie Kroate na Bratislava gevlug, asook Tsjeggiese bannelinge wat gevlug het gedurende die Dertigjarige Oorlog tussen Katolieke en Protestante verder wes in Europa.

Bratislava in die 20ste eeu

Teen die begin van die 20ste eeu was Bratislava ’n veelvolkige, multikulturele stad. As jy destyds wou seker maak dat jy kry wat jy in ’n winkel wou hê, moes jy in Duits of Hongaars daarna vra. Maar die Tsjegge en Sigeuners het, net soos die Joodse gemeenskap, ook ’n belangrike rol gespeel. Voor die Eerste Wêreldoorlog was net ongeveer 15 persent van die bevolking Slowaaks. Maar teen 1921 was die Slowake die grootste bevolkingsgroep onder die stad se talle nasionaliteite.

Die donker wolke van die Tweede Wêreldoorlog het kort daarna oor Europa gehang. So het ’n hartseer deel van Bratislava se geskiedenis begin, wat die stad se etniese harmonie versteur het. Eers is die Tsjegge gedwing om die stad te verlaat. Toe is die Sigeuners en die Joodse inwoners gedeporteer, en duisende het uiteindelik in konsentrasiekampe gesterf. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog is die meeste van die Duitssprekende inwoners ook gedeporteer. Uiteindelik het lede van al hierdie etniese groepe weer na hulle ou vaderstad teruggekeer, en hulle teenwoordigheid verryk nog steeds die atmosfeer van Bratislava.

’n Besoek aan die hedendaagse Bratislava

Kom loop gerus saam met ons deur die hedendaagse Bratislava. Ons toer eers die pragtig herboude Bratislava-kasteel. Vanaf die kasteel se tuin geniet ons ’n panoramiese uitsig oor die stad wat aan beide kante van die Donau-rivier uitstrek.

Aan die voet van die heuwel, net onder die kasteelgebied, bevind ons ons in die Ou Stad, die geskiedkundige middelpunt van Bratislava. Terwyl ons deur die kleurryke, smal straatjies loop, voel dit vir ons of ons die lug van vorige eeue inasem. Ons bewonder die pragtige boustyl van die paleise en stadshuise. As jy wil, kan ons ook by een van die geskiedkundige koffiehuise ingaan vir ’n koppie koffie of tee en Bratislava se beroemde fyngebak wat met okkerneute of papawersaad gevul is.

Regdeur die jaar geniet besoekers dit om met die oewers van die Donau langs te wandel wat langs die Ou Stad verbyloop. Hier is dit onmoontlik om ’n simbool van hedendaagse Bratislava mis te kyk—die Nuwe Brug met sy restaurant wat bo-op ’n hellende toring gebou is. Die ontwerp skep die indruk dat die restaurant bokant die Petržalka-woongebied aan die ander kant van die rivier hang.

As jy die indruk kry dat daar baie bouwerk in Bratislava aan die gang is, is jy reg. Benewens die onlangs herboude dele van die Ou Stad het aantreklike staal-en-glas-geboue gedurende die 1990’s opgeskiet, en daar is nog meer wat kom. Dit is hierdie kantore, sakesentrums en banke wat die stad sy moderne voorkoms gee.

Jy wil natuurlik ’n mooi aandenking van jou besoek hê. Ons kan dus inloer by die winkels wat handgemaakte produkte verkoop, soos pragtige kanttafeldoeke of poppe wat in die volksdrag geklee is. Of as jy verkies, kan ons na die opelug-Hoofpleinmark gaan, waar jy inkopies kan doen net soos die inwoners van Bratislava al eeue lank doen. Dalk wil jy ook die pragtige takkantoor van die Wagtoringgenootskap naby hierdie stad besoek.

Miskien sal jy Bratislava eendag werklik besoek. As jy dit doen, sal jy ongetwyfeld jou besoek aan hierdie kleurryke, moderne hoofstad geniet wat uit ’n antieke rivieroorgang ontwikkel het.

[Prent op bladsy 15]

Maria Theresia

[Erkenning]

North Wind Picture Archives

[Prent op bladsy 16, 17]

Slowakye se nasionale teater

[Prent op bladsy 17]

’n Straat in die Ou Stad

[Prent op bladsy 18]

Die Nuwe Brug en sy hellende toring

[Prent op bladsy 18]

Takkantoor en Koninkryksaal van Jehovah se Getuies