Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Groot Ontwerper geopenbaar

Die Groot Ontwerper geopenbaar

Die Groot Ontwerper geopenbaar

SELFS baie wetenskaplikes sal saamstem dat die sogenaamde boek van die natuur geen twyfel by ’n redelike mens laat dat daar ’n Ontwerper, ’n Skepper, is nie. Lank gelede het die Christenapostel Paulus geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Maar die boek van die natuur openbaar nie alles oor God en sy wil nie. Dit openbaar byvoorbeeld nie die doel van die lewe nie. Gelukkig het die skepping se Outeur homself in ’n ander boek geopenbaar—sy geïnspireerde Woord, die Bybel.—2 Timoteus 3:16.

Hoewel die Bybel nie ’n wetenskapboek is nie, beantwoord dit al die lewensvrae wat die sigbare wêreld nie beantwoord nie. Dit beantwoord een van die eerste vrae wat die meeste mense vra wanneer hulle ’n meesterlike werkstuk bestudeer—Wie het dit gemaak? Let op wat die Bybel in Openbaring 4:11 oor die skepping sê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Ja, die Groot Ontwerper is Jehovah God, en sy naam verskyn sowat 7 000 keer in die oorspronklike manuskripte van die Bybel.

Ongeveer 3 500 jaar voor ons wetenskaplike era het ’n man met die naam Job, klaarblyklik ’n ywerige waarnemer van die natuur en ’n denkende persoon, Jehovah se naam aan die skepping gekoppel. Job het gesê: “Vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.” Wat leer hulle almal ons omtrent die skepping? Job antwoord met ’n vraag: “Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?”—Job 12:7-9.

Jehovah se voorneme met die mens

Die Bybel openbaar ook Jehovah se voorneme met die mensdom. Wat is daardie voorneme? Dit is dat regverdige mense die gawe van die ewige lewe in die Paradys moet geniet—reg hier op aarde. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon”, sê Psalm 37:29. Jesus het eweneens gesê: “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”—Matteus 5:5, NAV.

Danksy ’n spesiale soort kennis sal die aarde bowendien ’n vreedsame paradys bly. Jesaja 11:9 sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Trouens, “die kennis van die HERE” is die sleutel tot eindelose lewe, vrede en geluk. Jesus het dit bevestig toe hy gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Wanneer mense die ewige lewe verkry, sal hulle uiteindelik die aarde kan geniet soos God dit oorspronklik wou gehad het. En die ewige lewe sal ’n eindelose avontuur van ontdekking en vreugde wees, allesbehalwe vervelig.

’n Opwindende uitdaging!

Prediker 3:11 (NW) sê: “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het van die begin tot einde kan uitvind nie.” Ons sal binnekort, wanneer die menslike begeerte om tot “onbepaalde tyd”, oftewel vir ewig, te lewe heeltemal bevredig is, kan probeer om ‘die werk wat God gemaak het van die begin tot einde uit te vind’. Ja, die hele aarde sal ons klaskamer wees, Jehovah sal ons Onderrigter wees en die lewe sal ’n opwindende, nimmereindigende ontdekkingsreis wees.

Stel jou voor jy is in die Paradys, volmaak in liggaam en verstand. Jy aanvaar uitdagings wat jy nooit eers sou droom om nou te aanvaar nie—en jy weet dat jy dit enduit sal kan deurvoer, of dit nou honderd of duisend jaar neem. Miskien sal jy selfs jou volmaakte vermoëns kan gebruik om van Jehovah se ontwerpe na te boots—maar op maniere wat ver verhewe is bo die mens se huidige pogings, wat dikwels skadelik is en besoedeling veroorsaak. Ja, soos Jehovah, sal jy deur liefde gerig word in alles wat jy doen.Genesis 1:27; 1 Johannes 4:8.

Waarom weet ons dat dit nie net ’n droombeeld is nie? Weens Jehovah se twee luisterryke “boeke”. Ja, die Bybel en die skepping lewer onweerlegbare bewys dat niks vir ons Grootse Ontwerper en Skepper onmoontlik is nie. Waarom leer jy hom en sy Seun, Jesus Christus, dus nie nou beter ken nie? Jy kan geen interessanter, waardevoller en lonender doel nastreef nie.

[Prente op bladsy 10]

Die Groot Ontwerper word deur die Bybel en die boek van die natuur geopenbaar