Die wonderlike ontwerpe in lewende organismes word nageboots
Die wonderlike ontwerpe in lewende organismes word nageboots
Kleuters val en stamp hulle kop. Ouer kinders val uit bome en van hulle fietse af. Atlete hardloop op die sportveld in mekaar vas. Motoriste maak tallose padongelukke. Maar ten spyte van al hierdie valle, stampe en botsings kom ons dikwels sonder ernstige beserings daarvan af. Ons is geneig om die taaiheid en veerkragtigheid van ons liggaam as vanselfsprekend te aanvaar. Maar soos wetenskaplikes begin agterkom, is ons van ons gebeente tot ons vel die produk van meesterlike ontwerpe.
DIE kombinasie van krag en taaiheid—met ’n betreklik ligte gewig—kan oral in die natuur gesien word. Tingerige boompies dring deur krake in beton en rots en dwing die krake wyd oop namate hulle groei en gesonde bome word. Bome kan ook winde weerstaan wat kragpale omwaai en huise uitmekaar ruk. Houtkappers kap gate in hout en onderwerp hulle kop aan kragte wat ’n gewone brein sou verpulp. Die vel van krokodille en alligators laat spiese, pyle en selfs koeëls wegskram. (Vergelyk Job 41:1, 26, NW.) Mense word al duisende jare met ontsag vervul en dronkgeslaan deur sulke dinge.
Oor die afgelope 40 jaar het groot vooruitgang in die tegnologie wetenskaplikes kragtige nuwe gereedskap gegee wat hulle kan gebruik om die geheime agter hierdie ontwerpe te bestudeer, waarvan die meeste diep binne-in die lewende sel verberg is. Op hierdie mikroskopiese skaal is die gehalte van ontwerp waarlik asemrowend en verbasend ingewikkeld. Die doel van die wetenskap is egter nie net om die geheime agter die natuur se merkwaardige materiale te ontrafel nie, maar ook om dit na te boots—ten minste die algemene beginsels daarvan. Hierdie studieveld is so belowend dat dit tot die ontstaan van ’n nuwe wetenskap gelei het wat biomimetika genoem word, van die Griekse biʹos, wat “lewe” beteken, en miʹme·sis, wat “nabootsing” beteken.
Biomimetika kan tot ’n beter wêreld lei
“Biomimetika is die studie van biologiese strukture [en] hulle funksies”, verduidelik die boek Biomimetics: Design and Processing of Materials. Dit voeg by dat die doel van hierdie studie is om ‘nuwe idees te stimuleer en om hierdie idees te ontwikkel tot sintetiese stelsels wat soortgelyk is aan dié wat in biologiese stelsels gevind word’.
Die wetenskaplike Stephen Wainwright sê dat “biomimetika molekulêre biologie sal verswelg en dit sal vervang as die uitdagendste en belangrikste biologiese wetenskap van die 21ste Eeu”. Professor Mehmet Sarikaya sê: “Ons is op die drumpel van ’n revolusie op die gebied van materie wat gelyk sal staan met die Ystertyd en die Industriële Revolusie. Ons beweeg vinnig na ’n nuwe era van materie. Ek dink dat biomimetika binne die volgende eeu ons lewenswyse aansienlik sal verander.”
Trouens, dit het alreeds ons wêreld begin verander, soos ons sal sien. Maar laat ons eers kortliks kyk na ’n paar van die wonders wat wetenskaplikes tans bestudeer, maar nog nie verstaan nie. Ons sal ook die implikasies van die woord “ontwerp” ondersoek en sien watter betekenis dit gee aan die verbasende wêreld om ons.