Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek gevare op die Internet vermy?

Hoe kan ek gevare op die Internet vermy?

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek gevare op die Internet vermy?

STEL jou voor jy staan in die wêreld se grootste biblioteek. Jy word omring deur allerhande boeke, koerante, katalogusse, foto’s en opnames—oor feitlik elke onderwerp. Al die nuutste inligting sowel as baie van die literatuur van vorige eeue is onmiddellik aan jou beskikbaar.

Wel, die Internet kan sulke inligting onmiddellik aan jou beskikbaar stel. Dit stel ’n mens in staat om by jou rekenaar te sit en inligting met ander rekenaars en rekenaargebruikers op enige ander plek in die wêreld uit te wissel. * Gebruikers kan daarmee produkte koop of verkoop, banktransaksies doen, gesprekke voer, na die jongste musiekopnames luister—alles in die privaatheid van hulle eie huis.

Dit is derhalwe geen wonder nie dat party kenners voorspel dat meer as 320 miljoen mense teen die einde van hierdie jaar die Internet sal gebruik. Die gebruik van die Internet is dus besig om in baie wêrelddele iets algemeens te word. Met skole en biblioteke wat die gebruik daarvan aktief bevorder, het miljoene jongmense toegang daartoe. In die Verenigde State het bykans 65 persent van die jongmense tussen die ouderdomme van 12 en 19 al gekoppelde dienste gebruik of daarop ingeteken.

As dit reg gebruik word, kan die Internet ’n bron wees van nuttige inligting oor die weer, reisbesonderhede en ander onderwerpe. Jy kan met behulp daarvan boeke, motoronderdele en ander dinge koop. Baie gebruik dit vir skoolwerk.

Hoewel die Internet nuttig kan wees, kan dit ook amper soos ’n biblioteek sonder bibliotekarisse of ander waarnemers wees. ’n Mens kan dit gebruik en voel dat daar niemand anders teenwoordig is nie. Maar dit is een van die grootste gevare wat aan die gebruik van die Internet verbonde is. Waarom? Omdat tallose webruimtes materiaal bevat wat sedelik verdorwe en geestelik vernietigend is. Die Internet kan jong Christene dus aan versoekings blootstel. Mense is immers van nature nuuskierig—’n neiging wat Satan die Duiwel al lank uitbuit. Satan het beslis misbruik gemaak van Eva se nuuskierigheid en haar “deur sy listigheid verlei”.—2 Korintiërs 11:3.

’n Jong Christen kan eweneens maklik verlei word deur skadelike inligting as hy nie vasbeslote is om sy geestelikheid te beskerm nie. ’n Artikel in Better Homes and Gardens het verduidelik: “Die Internet is ’n besige plek waar briljante pioniers die nuutste inligting smous; maar pedofiele, swendelaars, dwepers en ander ongewenste karakters gebruik ook die netruimte.”

’n Jeugdige genaamd Javier * sê: “Party webruimtes is skokkend. Hulle kan sonder waarskuwing op jou skerm verskyn.” Hy voeg by: “Hulle probeer jou in ’n val lok. Hulle wil jou verlei—sodat hulle jou geld kan kry.” ’n Jong Christen genaamd John erken: “Wanneer jy begin om na verkeerde materiaal te kyk, is dit moeilik om op te hou—dit is baie verslawend.” Party Christenjongmense het onheilsame webruimtes gereeld besoek, en dit het tot selfs ernstiger probleme gelei. Party het selfs hulle verhouding met Jehovah skade berokken. Hoe kan dit vermy word?

‘Wend jou oë af van wat waardeloos is’

Soms toon die adres van ’n webruimte duidelik dat die ruimte afkeurenswaardige materiaal bevat. * Spreuke 22:3 waarsku: “’n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”

Wat egter meer dikwels die probleem is, is dat mense bloot toevallig op ’n afkeurenswaardige webruimte kan afkom. Die tuisblad bevat dalk skokkende prente wat spesiaal ontwerp is om jou te verlok om die webruimte te verken—en weer en weer daarheen terug te keer! *

Kevin vertel wat met een van sy vriende gebeur het: “Hy het baie vrye tyd gehad en was nuuskierig. Hy het gou in die gewoonte verval om na pornografie te kyk.” Gelukkig het hierdie jong Christen met ’n ouer man gaan praat en hulp ontvang.

Het jy al besluit wat jy sal doen as jy op so ’n webruimte afkom? Dit is duidelik wat ’n Christen moet doen: Verlaat die webruimte onmiddellik—of skakel selfs die Internetdeurblaaier af! Wees soos die psalmis wat gebid het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.” (Psalm 119:37, NW; vergelyk Job 31:1.) Onthou altyd, al sien geen ander mens wat ons doen nie, daar is wel iemand wat ons sien. Die Bybel herinner ons dat alle dinge “oop en bloot voor die oë van hom [is] aan wie ons rekenskap moet gee”.—Hebreërs 4:13.

Jy kan jou vasbeslotenheid versterk om nie weer onheilsame webruimtes te besoek nie deur met jou ouers of ander ervare Christene te praat. Jy sal tog nie as jy in dryfsand val self probeer uitkom en eers om hulp roep wanneer jy tot by jou nek weggesak het nie, sal jy?

Wat van assosiasie op die Internet?

Kletskamers stel Internetgebruikers van regoor die wêreld in staat om oombliklik met mekaar te kommunikeer. Sakeondernemings gebruik dit vir gekoppelde konferensies en om kliëntediens te verskaf. Party kletskamers stel gebruikers in staat om inligting oor tegniese sake uit te wissel, soos motorherstelwerk of rekenaarprogrammering. Deur middel van party kletskamers kan vriende en familielede privaat met mekaar gesels sonder die koste van hooflyntelefoonoproepe. Hou hierdie kommunikasiemiddel enige gevare in, al kan dit nuttig gebruik word?

’n Mens moet werklik versigtig wees wanneer jy openbare kletskamers gebruik, want dit kan sekere gevare inhou. Die skrywer Leah Rozen het gesê: “Jong rekenaarentoesiaste bring ure in kletskamers deur met naamlose vreemdelinge van regoor die land en selfs die wêreld. Ongelukkig kan party van hierdie vreemdelinge met wie tieners dalk klets perverse volwassenes wees wat seksuele ontmoetings met kinders probeer reël.” ’n Artikel in Popular Mechanics het gewaarsku dat “jy uiters versigtig moet wees” wanneer jy openbare kletskamers gebruik. Dit kan ernstige probleme tot gevolg hê as jy jou naam of adres vir ’n vreemdeling gee! Waarom jou aan daardie gevaar blootstel?

’n Subtieler gevaar waarin ’n mens egter vasgevang kan raak, is slegte assosiasie met vreemdelinge wat nie Bybelbeginsels respekteer nie. * Navorsers sê dat baie van die tieners se gesprekke in kletskamers om seksuele sake draai. Die Bybel se raad in 1 Korintiërs 15:33 is dus gepas: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Slegte omgang deur middel van die rekenaar is gevaarlik. Sal dit verstandig van ’n godvresende jeugdige wees om hom of haar aan sulke risiko’s bloot te stel?

Voorsorgmaatreëls

Omdat die Internet soveel gevare inhou, moet ’n mens versigtig wees wanneer jy dit gebruik. Party gesinne sit die rekenaar byvoorbeeld in ’n vertrek, soos die woonkamer, waardeur ander gesinslede gereeld loop. Hulle kan ook die reël maak dat die Internet alleenlik gebruik mag word wanneer ander tuis is. Gee jou samewerking as jou ouers sulke beperkings stel (Spreuke 1:8). Duidelike riglyne is ’n bewys van hulle liefde.

As skoolwerk vereis dat jy die Internet gebruik, kan jy gerus oplet hoeveel tyd jy op die Internet deurbring. Probeer om vooraf te besluit hoeveel tyd jy daaraan sal afstaan en gebruik ’n wekker om jou te herinner wanneer die tyd verby is. Tom stel voor: “Jy moet vooruit beplan en presies weet waarvoor jy soek en daarby bly—ongeag hoe interessant ander dinge lyk.”

’n Mens moet ook op jou hoede wees wanneer jy e-pos gebruik. Christenjongmense is versigtig om nie groot hoeveelhede e-pos te lees nie, veral as baie van die inligting ligsinnig of onakkuraat is. Oormatige gebruik van e-pos kan kosbare tyd in beslag neem wat nodig is vir skoolwerk en geestelike bedrywighede.

Koning Salomo het gesê: “Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie, en baie toewyding daaraan is vermoeiend vir die vlees” (Prediker 12:12, NW). Daardie woorde kan tereg op die Internet toegepas word. Moenie so betrokke raak by die soeke na feite dat jy persoonlike studie van die Bybel en deelname aan die Christelike bediening verwaarloos nie (Matteus 24:14; Johannes 17:3; Efesiërs 5:15, 16). Onthou ook dat hoewel kommunikasie deur middel van die rekenaar nuttig kan wees, daar geen plaasvervanger vir persoonlike kontak met mede-Christene is nie. As jy dus werklik die Internet moet gebruik, moet dit jou vaste voorneme wees om dit wyslik te gebruik. Vermy gevaarlike webruimtes en moenie te veel tyd op die Internet deurbring nie. ‘Bewaar jou hart’, en moet nooit ’n slaaf van die Internet word nie.—Spreuke 4:23.

[Voetnote]

^ par. 4 Sien die reeks “Die Internet—Is dit vir jou?” in die Ontwaak! van 22 Julie 1997.

^ par. 9 Van die name is verander.

^ par. 11 Die adres van die webruimte is die reeks karakters wat gebruik word om toegang tot die webruimte te kry. Soms bevat die adresse woorde wat die doel van die ruimte aandui.

^ par. 12 Die tuisblad is soos ’n elektroniese winkelvenster. Dit verduidelik wat ’n ruimte bevat, wie dit geskep het, ensovoorts.

^ par. 19 Sulke gevare kan in openbare kletskamers bestaan wat deur welmenende Christene geskep is met die doel om geestelike sake te bespreek. Oneerlike mense en afvalliges het soms by hierdie besprekings aangesluit en ander op ’n listige wyse probeer oortuig om hulle onskriftuurlike idees te aanvaar.

[Lokteks op bladsy 20]

“Party webruimtes is skokkend. Hulle kan sonder waarskuwing op jou skerm verskyn”

[Prent op bladsy 21]

Party gesinne plaas hulle persoonlike rekenaar in ’n oop vertrek