Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Jesuïete registrasie in Rusland geweier

Die Genootskap van Jesus se aansoek om registrasie as ’n onafhanklike godsdiensorganisasie is deur die Russiese Departement van Justisie geweier, berig die National Catholic Reporter. Die Genootskap van Jesus, wat algemeen as die Jesuïete bekend staan, is in 1540 gestig. Volgens Rusland se nuwe godsdienswet moet die meeste godsdiensorganisasies hulle laat herregistreer om wetlike erkenning te kry. Groepe wat registrasie geweier word, kan nie godsdienslektuur druk of versprei, buitelanders vir godsdienstige bedrywighede nooi of opvoedkundige fasiliteite open nie. Jehovah se Getuies is op 29 April 1999 landwyd geherregistreer.

Selfmoordsyfer styg skerp in Japan

In Japan het meer mense in 1998 selfmoord gepleeg as in enige vorige jaar, berig The Daily Yomiuri. Volgens Japan se Nasionale Polisieagentskap het 32 863 mense in 1998 selfmoord gepleeg—meer as drie keer die aantal mense wat in motorongelukke in Japan dood is. Die toename word in groot mate toegeskryf aan finansiële probleme wat veroorsaak is deur werkloosheid, wat die land sedert ’n onlangse ekonomiese insinking teister. Selfmoord is die sesde grootste doodsoorsaak in Japan.

Dodelike lugbesoedeling

“Padverkeer is die vinnig groeiendste oorsaak van besoedeling in Europa, en in party lande sterf meer mense as gevolg van hierdie lugbesoedeling as in [verkeers]ongelukke”, berig die nuusdiens Reuters. Volgens ’n studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf 21 000 mense elke jaar ’n vroeë dood in Frankryk, Oostenryk en Switserland weens asemhaling- of hartsiektes wat deur lugbesoedeling aangebring word. In ’n ander verslag word daar geskat dat 110 mense in 36 Indiese stede elke jaar ’n vroeë dood sterf as gevolg van lugbesoedeling.

Elektroniese data verdwyn vinnig

Rekenaarkundiges het jare lank gesê dat dit veiliger is om inligting in ’n elektroniese vorm te berg as op papier. Nou begin bibliotekarisse en argivarisse egter ’n ander deuntjie sing. “Ons verloor groot hoeveelhede belangrike wetenskaplike en geskiedkundige inligting as gevolg van disintegrasie of veroudering”, sê die tydskrif Newsweek. Elektroniese geheuestelsels soos skyfaandrywers is sensitief vir hitte, vogtigheid, oksidasie en swerwende magnetiese velde. En na gelang van bergingstoestande kan die magnetiese band waarop elektroniese inligting geberg word net ’n dekade hou, sê die tydskrif. Nog ’n uitdaging vir diegene wat elektroniese inligting probeer berg, is die vinnige tempo waarteen die tegnologie verander. Die hardeware wat gebruik word om data te berg, verander so vinnig dat stelsels gou verouderd raak. Abby Smith, van die Raad vir Biblioteek- en Inligtingshulpbronne, sê: “Daar’s nie veel hoop vir inligting nie, tensy jy ’n museum van bandspelers en persoonlike rekenaars het.”

Indië se bevolking steek die miljardkerf verby

Volgens die Verenigde Nasies se Bevolkingsafdeling het die bevolking van Indië in Augustus 1999 die miljardkerf verbygesteek. Net meer as 50 jaar gelede was die bevolking van Indië ’n derde van wat dit nou is. As dit aanhou om teen sy huidige tempo van 1,6 persent per jaar te groei, sal Indië in ongeveer vier dekades China verbysteek as die land met die grootste bevolking ter wêreld. “Indië en China het alreeds meer as ’n derde van die wêreld se mense”, berig The New York Times. In minder as ’n halfeeu het die lewensverwagting in Indië van 39 tot 63 jaar gestyg.

Minder huwelike in VSA

’n Studie deur Rutgers-universiteit se Nasionale Huweliksprojek het bevind dat die huweliksyfer in die VSA tot die laagste vlak in die opgetekende geskiedenis gedaal het, berig The Washington Post in sy webruimte. Die studie het ook getoon dat direk ná die Tweede Wêreldoorlog 80 persent van die land se kinders in ’n gesin met twee biologiese ouers grootgemaak is. Vandag het die syfer egter tot 60 persent gedaal. “Die persentasie tienermeisies wat gesê het dat dit ‘die moeite werd’ is om ’n buite-egtelike kind te hê, het in die laaste twee dekades van 33 persent tot 53 persent gestyg”, sê die verslag. Dit is geen wonder nie dat die verslag gesê het: “Die huweliksreëling is in ernstige moeilikheid”!

Onderwysprobleme in Afrika

Meer as 40 miljoen kinders van skoolgaande leeftyd in Afrika suid van die Sahara gaan nie skool toe nie, berig die All Africa News Agency. Die streek se skoolstelsels het met ’n hele aantal probleme te kampe. As gevolg van ekonomiese probleme het baie skole byvoorbeeld geen water en min of geen toilette nie. Daar is tekorte aan handboeke, en onderwysers is nie goed opgelei nie. Benewens ekonomiese probleme is daar baie swangerskappe onder tienermeisies, wat ’n belangrike rede is vir die hoë skoolverlatingsyfer. Vigs het ook sy tol geëis wat skoolbywoning betref. “Seksuele omgang op ’n vroeë ouderdom onder adolessente het tot meer vigsbesmetting onder adolessente gelei”, sê Africa News. In party gevalle moet meisies wat nie vigs het nie by die huis bly om gesinslede te versorg wat die siekte het. Dr. Edward Fiske, ’n spesialis in primêre onderwys vir die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, het gesê: “Sonder skoolopleiding hang die toekoms van die meeste lande in Afrika suid van die Sahara in die weegskaal.”

Mummie gevind met kunstoon

“’n Kunstoon wat aan ’n mummie gevind is, is blykbaar 2 500 jaar gelede gebruik voordat dit saam met sy eienaar begrawe is”, berig The Sunday Times van Londen. Die nagemaakte toon, wat van linne gemaak en vol dieregom en gips gestop is, word deur dr. Nicholas Reeves beskryf as “’n pragtig ontwerpte en gesofistikeerde produk wat kunstig en sterk gemaak is en duidelik ’n spesiale bestelling was”. Die toon het ’n toonnael gehad en dit is gekleur sodat dit soos vel lyk. Agt gaatjies is in die toon geboor om dit aan die voet te heg. Die gaatjies volg die lyn van ’n Y-riem-sandaalband sodat die sandaal se band die gaatjies sou bedek wanneer die toon in posisie was.

Hoofpyne weens pynstillers!

Diegene wat drie of meer keer per week medikasie neem vir hoofpyne ly dalk aan hoofpyn weens medikasiemisbruik (HMM). Een uit vyftig mense word vermoedelik deur HMM aangetas, wat veroorsaak word deur eenvoudige geneesmiddels, soos aspirien, asook deur voorskrifpynstillers. Wanneer die pynstillende uitwerking ophou, kan die medikasie ’n hoofpyn veroorsaak wat die pasiënt met ’n normale hoofpyn of ’n migraine verwar. Die pasiënt neem meer pynstillers en herhaal so die siklus. Dr. Tim Steiner, van Imperial-kollege, Londen, verduidelik: “Daar moet aangeneem word dat enige pasiënt wat daagliks oor ’n chroniese hoofpyn kla HMM het.” Hy sê ook dat die meeste huisdokters onbekend daarmee is, al word die toestand al etlike jare erken, en dat hulle eenvoudig sterker pynstillers voorskryf wanneer ’n pasiënt eintlik net moet ophou om dit te gebruik, berig The Sunday Telegraph van Londen.

Tongversorging

Bakterieë wat agter op jou tong skuil, kan swaelgasse vrystel wat jou ’n slegte asem kan gee, sê ’n berig in die Prince George Citizen-koerant. “Bakterieë floreer in ’n droë, suurstofvrye omgewing, en dit is waarom hulle in die holtes en gaatjies woon wat buite bereik is van die suurstof wat ons inasem”, sê die verslag. Dit help om jou tande te borsel en te vlos, maar net ongeveer 25 persent van die bakterieë word verwyder wanneer jy jou tande borsel. Om jou tong te skraap, ’n ou tradisie in Europa, is volgens Allan Grove, ’n tandarts, “die belangrikste ding wat jy kan doen om ’n slegte asem te voorkom”. ’n Plastiek skraper “is baie beter as ’n borsel om die tong skoon en pienk te hou”, sê die Citizen.

’n Nuwe oog op die heelal

Die Gemini-Noord-teleskoop, op Mauna Kea, in Hawaii, het in Junie 1999 sy oog op die heelal oopgemaak. Sy ligversamelende spieël, wat 8,1 meter in deursnee is, sal sterrekundiges in staat stel om die dofste voorwerp in die verre uithoeke van die ruimte te sien, berig die Independent van Londen. Sowel die Gemini-Noord- en die Hubble-ruimteteleskoop help sterrekundiges om gebeure te sien wat lank gelede plaasgevind het en om sodoende “in die verlede terug te kyk”. Die voordeel van die Hubble-teleskoop is dat dit in die ruimte geleë is. Al is Gemini op die aarde, gebruik dit rekenaartoerusting om verwringings uit te skakel wat deur atmosferiese versteurings veroorsaak word, en dit lewer beelde wat net so duidelik soos dié van Hubble is—indien nie duideliker nie.