Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Oorloë eis nou ander slagoffers

Oorloë eis nou ander slagoffers

Oorloë eis nou ander slagoffers

“VANDAG se oorloë verskil van dié van die verlede . . . Gewone burgers, en nie soldate nie”, word al hoe meer die slagoffers, het “Perspective” berig, ’n program wat deur VN-Radio uitgesaai word. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was byvoorbeeld slegs 5 persent van alle slagoffers burgerlikes. Maar gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die aantal burgerlike slagoffers tot 48 persent gestyg. En vandag, het VN-Radio gesê, “is byna alle slagoffers van konflikte burgerlikes—90%—en die meeste van hulle is vroue, kinders en bejaardes”.

Volgens Olara Otunnu, die sekretaris-generaal van die VN se Spesiale Verteenwoordiger vir Kinders en Gewapende Konflik, “is daar na raming tweemiljoen kinders sedert 1987 in gewapende konflikte doodgemaak”. Dit kom daarop neer dat meer as 450 kinders per dag oor die afgelope 12 jaar oorlogslagoffers was! Daarbenewens is meer as sesmiljoen kinders gedurende daardie selfde tydperk ernstig beseer of permanent vermink.

Een manier waarop die VN kan verhoed dat meer en meer kinders oorlogslagoffers word, het mnr. Otunnu voorgestel, is om vredesones daar te stel. “Plekke waar daar merendeels kinders is, soos skole, hospitale en speelterreine, moet as gevegsvrye sones beskou word.” Maar VN-Radio het bygevoeg dat die doeltreffendste manier waarop die VN kan verseker dat gewone burgers nie oorlogslagoffers word nie, is om “konflikte in die eerste plek te voorkom”. Om te keer dat daar enigsins oorlogslagoffers is, vereis in werklikheid dat oorlog self uit die weg geruim moet word. Sal dit ooit gebeur?

As gevolg van die mensdom se lang geskiedenis van oorloë meen die meeste mense tereg dat die mens nooit vrede oor die hele aarde teweeg kan bring nie. God se Woord, die Bybel, belowe egter dat Jehovah God dit sal doen: “[Hy laat oorloë] ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:10). Wanneer sal dit gebeur? En waarom kan jy seker wees dat God se belofte van wêreldwye vrede bewaarheid sal word? As jy antwoorde op hierdie vrae wil hê, kan jy gerus aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf en die gepaste adres op bladsy 5 gebruik, of jy kan ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou omgewing skakel. Daar is geen verpligting en geen koste aan verbonde nie—net eerlike antwoorde.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

UN PHOTO 156450/J. Isaac