Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die kwetsal—’n juweel onder die voëls

Die kwetsal—’n juweel onder die voëls

Die kwetsal—’n juweel onder die voëls

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA

COSTA RICA beslaan minder as 0,03 persent van die aarde se oppervlak, en tog is dit die tuiste van 875 geregistreerde voëlspesies. Volgens een bron is dit meer as die aantal spesies wat in Kanada en die Verenigde State saam voorkom. Dit is dus nie verbasend dat Costa Rica ’n belangrike bestemming vir entoesiastiese voëlkykers geword het nie. Kom ons vertel jou van ons reis om een van hierdie voëls, die pragtige kwetsal, te sien.

In die vroeë 1500’s het die Spaanse veroweraar Hernán Cortés in Mexiko aangekom. Daar het die Asteke vir hom ’n hooftooisel van kwetsalvere as geskenk gegee. Net Asteekse koninklikes het die voorreg gehad om sulke waardevolle versierings te dra. Vir hulle was die liggroen vere van die kwetsal moontlik waardevoller as goud.

Vandag is hierdie pragvoël se habitat ’n wyd uitgestrekte gebied van Mexiko tot Panama. Die kwetsal kan in wolkwoude op hoogtes van 1 200 tot 3 000 meter gevind word. Die wolke in die woude word gevorm deur stygende warm lug wat vinnig afkoel. Die gevolg is welige, grasgroen plantegroei regdeur die jaar en enorme bome wat 30 meter of hoër in die miswolke in strek.

Ongeveer 200 kilometer noord van San José is die Santa Elena Woudreservaat—’n goeie plek om die kwetsal in sy natuurlike omgewing dop te hou. Met die hulp van ’n gids begin ons na ’n kwetsal soek. Weens die voël se liggroen kleur smelt hy saam met die blare van die woud en is dit moeilik om hom raak te sien. Ons gids begin sy sagte, vol roep naboots. Dit klink baie soos die geluidjies wat ’n babahondjie maak. Trouens, toe een vrou in ons groep die kwetsal se antwoord hoor, het sy sowaar gedink dat daar ’n verdwaalde hondjie in die woud was!

Kort voor lank kom ’n mannetjie skugter op ’n tak te voorskyn, sowat 15 meter bo ons, om ondersoek in te stel. Deur die verkyker lyk sy skitterende kleure selfs meer asemrowend as wat ons verwag het. Sy bors is ’n diep karmosynrooi, wat ’n mooi teenstelling met sy liggroen vere vorm. Wat hom selfs mooier maak, is sy wit stertvere wat ’n teenstelling met die twee metaalagtige groenes vorm. Hierdie stertvere, wat wimpels genoem word, is sowat 60 sentimeter lank. Om die kwetsal hoog op ’n tak te sien sit met sy lang wimpels wat saggies in die briesie fladder, is ’n stille genot vir die oog.

Dit is ’n unieke ondervinding om ’n kwetsal raak te sien. Trouens, ons gids het gesê dat dit dikwels meer as een uitstappie na die woud neem om ’n kwetsal te sien. Die beste tyd om kwetsals dop te hou, is gedurende hulle broeityd, wat van Maart tot Junie strek. Gedurende hierdie tyd het hulle moontlik twee broeisels met twee eiers elk.

Met ons terugkoms by die reservaat se kantoor hoor ons nog ’n kwetsal. Hy sweef grasieus met sy groen wimpels wat agter hom aan wapper en land op ’n tak nie verder as vyf meter van waar ons sit nie! Die gids sê vir ons dat ’n kuiken uit sy nes verdwyn het. Die pa gaan van boom tot boom om na sy kleintjie te soek. Ons vind uit dat net ongeveer 25 persent van die eiers uiteindelik uitbroei. Die res word geëet deur roofdiere soos eekhorings, klein groentoekans, bruingaaie, wesels en tairas. Iets anders wat oorlewing vir hulle moeiliker maak, het te doen met waar hulle hulle neste bou, wat gate is soos dié van houtkappers wat kwetsals in ou, verrottende boomstamme tussen 3 en 20 meter van die grond af maak. Wanneer dit swaar reën, kan die gate vol water raak of toeval.

Ons verneem ook dat die kwetsal se gunstelingkos wildeavokado’s is. Hy sal op ’n tak sit en ’n avokado dophou wat aan die tak van ’n naburige boom hang. Dan sal hy, met ’n wilde geklap van sy vlerke, op sy teiken afpyl, die vrug in sy bek gryp en terugvlieg na sy tak toe. Hy sluk die vrug heel in, en sowat 20 tot 30 minute later bring hy die avokado se groot pit op.

In hulle soektog na wildeavokado’s sal kwetsals na verskillende kante van die Kontinentale Waterskeiding migreer. Van Julie tot September bly hulle byvoorbeeld aan die Pasifiese kant. Dan trek hulle in Oktober na die Karibiese kant om van ’n nuwe drag avokado’s te leef.

Terwyl ons oor ’n hangbrug loop wat ongeveer 30 meter bokant die woudvloer is, vlieg ’n kwetsal byna in ons vas! Die voël het blykbaar agter sy middagete aan gevlieg toe ons voor hom ingeloop het. Die wyfie sit net bo ons en kyk ons kwaai aan omdat ons op so ’n ongeleë tyd daar aangekom het.

Daar word ook vir ons gesê dat die braambessie, wat aan doringrige bosse groei, ’n ander vrug is waarvan hulle hou. Wanneer die kwetsals duik om die vrugte te gryp, haak hulle wimpels soms aan die dorings vas en word dit uitgeruk. Maar hulle stertvere groei mettertyd weer.

Op hierdie manier kan die voël sy naam gestand doen. “Kwetsal” kom van die Asteekse woord “quetzalli”, wat “kosbaar” of “pragtig” beteken. Ongelukkig is die kwetsal se skoonheid ’n bedreiging vir sy voortbestaan. Trouens, die kwetsal is op die lys van bedreigde spesies. Hulle is gejag vir hulle vel, wat as aandenkings verkoop is. Party van die voëls is lewendig gevang om as troeteldiere verkoop te word. Maar volgens ons gids geniet die kwetsal nou ’n mate van wetlike beskerming teen sulke plundering.

Nog ’n bedreiging vir hulle voortbestaan is ontbossing, wat hulle habitat kleiner maak. Vir die beskerming van hierdie pragtige voël en ander wilde diere is ongeveer 27 persent van Costa Rica as reservate opsy gesit.

Dit was werklik die moeite werd om na die kwetsal te kom kyk. ’n Mens kan weliswaar die hooftooisel van kwetsalvere wat aan Hernán Cortés gegee is in die Britse Museum in Londen sien. Maar kwetsalvere is baie interessanter wanneer jy dit aan ’n lewende voël in die natuur sien! Wilde kwetsals sal ten minste vir eers vryheid en betreklike veiligheid in die wolkwoude van Sentraal-Amerika geniet.