Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vaderlose gesinne—’n Teken van die tyd

Vaderlose gesinne—’n Teken van die tyd

Vaderlose gesinne—’n Teken van die tyd

WAT is volgens jou die grootste maatskaplike probleem van ons tyd? Byna 80 persent van diegene met wie onderhoude gevoer is in ’n Gallup-opname in die Verenigde State meen dat dit “die afwesigheid van ’n vader in die gesin” is. Volgens Gallup woon meer as 27 miljoen kinders in die Verenigde State nie by hulle biologiese vader nie, en hierdie syfer styg vinnig. ’n Verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds sê dat ongeveer 50 persent van die blanke kinders wat sedert 1980 in die Verenigde State gebore is “’n deel van hulle kinderjare in ’n enkelouergesin sal deurbring. Onder swart kinders is dit ongeveer 80%.” USA Today noem die Verenigde State gevolglik “die wêreldleier in vaderlose gesinne”.

’n Artikel in The Atlantic Monthly sê nietemin: “Die styging in die aantal ontwrigte gesinne is nie eie aan die Amerikaanse samelewing nie. Dit word in feitlik alle ontwikkelde lande gesien, met inbegrip van Japan.” En hoewel statistiek moeilik is om te kry, lyk dit of talle ontwikkelende lande met dieselfde krisis te kampe het. Volgens die tydskrif World Watch “verlaat mans [in arm lande] dikwels hulle vrou en kinders weens toenemende ekonomiese druk”. Trouens, ’ n opname in ’n Karibiese land het getoon dat net 22 persent van die vaders met agtjarige kinders by hulle kinders woon.

Selfs in Bybeltye was vaderlose kinders iets algemeens (Deuteronomium 27:19, NW; Psalm 94:6). Maar destyds het kinders hoofsaaklik vaderloos geword omdat hulle vader gesterf het. “Vandag”, sê die skrywer David Blankenhorn, “is die hoofoorsaak van vaderloosheid die vader se keuse” om sy gesin te verlaat. Soos ons sal sien, bewys die toenemende aantal vaderlose kinders dat baie mense vandag sonder “natuurlike geneentheid” is. Dit is volgens die Bybel net nog ’n bewys dat ons in “die laaste dae” lewe.—2 Timoteus 3:1-3.

Vir jong kinders is dit egter ’n persoonlike tragedie wanneer hulle vader uit hulle lewe verdwyn. Dit begin ’n kringloop van pyn en emosionele trauma wat blywende gevolge kan hê. Daarom gaan ons hierdie kringloop in hierdie reeks bespreek, nie om lesers te ontmoedig nie, maar om inligting te voorsien wat gesinne kan help om hierdie vernietigende kringloop te verbreek.