Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die swaardlelie—’n besonderse blom met delikate skoonheid

Die swaardlelie—’n besonderse blom met delikate skoonheid

Die swaardlelie—’n besonderse blom met delikate skoonheid

Byna almal bewonder die delikate skoonheid van blomplante, waarvan die swaardlelie ’n uitstekende voorbeeld is. Omdat swaardlelies so gewild is, word hulle in verskeie lande vir die handel gekweek, waaronder Israel en Nederland. Daar is ook swaardlelieplase in die Verenigde State wat hulle produkte na blommekwekers regoor die wêreld verskeep.

Die wonderlike swaardleliefamilie het groter geword en sluit tans meer as 2 000 variëteite in, wat in elke denkbare kleur, skakering en tekstuur voorkom. Hoe is hierdie skynbaar eindelose verskeidenheid van dieselfde blom deur blommekwekers ontwikkel?

Nuwe variëteite word ontwikkel

Die kweker gebruik ’n stuk gereedskap, soos ’n kwassie van kameelhaar, om stuifmeel van die meeldrade, die manlike deel van ’n blom, te verwyder en dit dan na die stempel, die vroulike deel, van ’n ander blom, oor te dra. Die stuifmeel word gewoonlik op die laagste blommetjies van die gasheerplant geplaas. Wanneer dit gedoen is, word die blom toegebind om te keer dat natuurlike bestuiwers, soos bye of vlieë, die resultate beïnvloed. Om ’n spesifieke kleur of voorkoms te verkry, word een soort swaardlelie met ’n ander gekruis wat die verlangde eienskappe het.

Dit beteken nie dat die nuwe variëteit, of hibride, ’n nuwe soort blom is nie. Die potensiaal vir so ’n variëteit was die heeltyd daar, opgesluit in die swaardlelie se ingewikkelde genetiese kode. Omdat swaardlelies selektief gekweek word, kom hulle voor in kleure wat wissel van spierwit tot swartrooi of donkerpers. Daar is ook swaardlelies met kolle, spikkels, gekartelde rantjies en dubbele blommetjies. Party het selfs ’n effense geur.

Delikate skoonheid

Kyk goed na die blomme wat hier uitgebeeld word, en let op hoeveel variëteite van swaardlelies daar is. Wat ’n lus vir die oog is die een wat jy hier sien en Skoonheid genoem word! Namate sy kroonblare oopvou, onthul hulle sagte, gekartelde, ligpers rantjies met donkerder pers op die punte. Op die onderste kroonblare, wat tot by die keel van elke blommetjie strek, is ’n pragtige donkerpienk en pers spatsel.

’n Ander variëteit, wat Orgideekant genoem word en jy ook hier sien, skep die indruk dat dit so broos is dat die geringste aanraking dit sal kneus. Sy blommetjies lê plat teen die stingel, terwyl lang meeldrade uit die middel van elke kleurvolle keel groei. Ander variëteite het treffende name soos Glinsterende Ster, Droomeinde, Rooi Alarm, Weergaloos en Silwer Maan.

Hoe om swaardlelies te kweek

Buiten dat swaardleliekwekers sade van die blomme kry, oes hulle ook die knolle, die onderste verdikte gedeelte van die blom se stingel. Hulle maak ook die sekondêre knolle bymekaar, klein knolle wat op die hoofknolle groei.

Gekweekte swaardlelies is hoofsaaklik uit Afrika-spesies ontwikkel. Hulle het dus as ’t ware in die trope begin wortelskiet en is nogal sensitief vir klimaatsveranderinge. Hulle sal dalk nie die koue winters van sommige lande oorleef nie, maar hulle aard goed in die warm somermaande.

In kouer klimate moet die knolle aan die einde van die groeiseisoen uitgegrawe en versigtig skoongemaak word. ’n Nuwe knol sou dan al gevorm het, en as die ou, dooie knol heel aan die onderpunt van die stingel verwyder word, sal die nuwe knol makliker kan wortelskiet. Daarbenewens moet die ertjiegrootte sekondêre knolle wat in trosse op elke ou knol lê, verwyder word. Gedurende koue weer moet die sekondêre sowel as die volgroeide knolle in ’n droë, koel plek gehou word waar die temperatuur bo vriespunt is.

Wanneer dit geplant is, sal dun blare uit elke sekondêre knol groei, en teen die einde van die groeiseisoen sal die sekondêre knol ’n volwasse knol wees. Wanneer hierdie knolle die volgende seisoen geplant word, sal hulle groei en welige, blomdraende volwasse plante word.

In gematigde klimate kan ’n mens vroeg in die lente begin plant. Planttyd is nie so kritiek in warmer klimate nie. Die sekondêre en volgroeide knolle moet in klam grond geplant word wat effens suur is. Hulle moet geplant word waar hulle helder sonlig sal kry, aangesien swaardlelies nie goed in die skaduwee aard nie.

Sekondêre knolle kan in ’n voortjie gesaai word wat agt sentimeter diep is en dan met grond bedek word. Daarenteen moet volgroeide knolle 13 sentimeter diep geplant word. Om te keer dat die plante mekaar in die tuin verdring, moet knolle van middelmatige grootte ongeveer 8 sentimeter uitmekaar geplant word, en groter knolle 10 tot 13 sentimeter uitmekaar. As jy jou swaardlelieknolle versigtig skoonmaak en plant, behoort jy ná ’n paar maande beloon te word met ’n onbeskryflike vertoning—die kleurvolle, delikate skoonheid van die swaardlelie.

[Prent op bladsy 16]

Orgideekant

[Prente op bladsy 16, 17]

Koraaldroom

Monet

Droomeinde

Sonsport

[Prent op bladsy 17]

Skoonheid