Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die witdoodshaai—in gevaar

Die witdoodshaai—in gevaar

Die witdoodshaai—in gevaar

Die grootste vleisetende vis ter wêreld, die witdoodshaai, is moontlik die lewende wese waarvoor mense die heel bangste is. Maar nou is dit ’n beskermde spesie in die gebiedswaters, of gedeeltes daarvan, van Australië, Brasilië, Namibië, Suid-Afrika en die Verenigde State sowel as in die Middellandse See. Ander lande en state oorweeg dit ook om beskerming aan die haai te verleen. Maar waarom ’n dier beskerm wat daarvoor bekend is dat hy ’n mensvreter is? Soos ons sal sien, is dit nie so eenvoudig nie. Hoe die publiek hulle die witdoodshaai voorstel, is ook nie altyd op feite gebaseer nie.

DIE witdoodshaai * is saam met die moordvis en die spermwalvis aan die bopunt van die mariene voedselketting. In die haaifamilie is hy die koning, die superhaai. Hy eet enigiets—visse, dolfyne, selfs ander haaie. Maar namate hy ouer, groter en stadiger word, ontwikkel hy ’n voorkeur vir robbe, pikkewyne en aas—veral dooie walvisse.

Die meeste haaie gebruik al hulle sintuie om hulle voedsel op te spoor, wat ook hulle uitstekende sig insluit. Wat hulle reuksin betref, is dit voldoende om te sê dat hulle heel gepas swemmende neuse genoem word! Maar daar is ook nie veel wat hulle ore nie opvang nie—trouens, haaie kan ook swemmende ore genoem word.

Druksensitiewe selle aan die kante van die haai se liggaam dra by tot sy goeie gehoor. Hierdie afluisterstelsel vang alles op en is veral ingestel op die vibrasies van ’n gespartel—byvoorbeeld ’n vis wat aan die punt van ’n spies spartel. Dit is dus wys vir onderwaterspiesvissers om bloeiende, spartelende visse so gou moontlik uit die water te verwyder.

Haaie het ook ’n sesde sintuig. Danksy die Lorenzini-ampulle—piepklein kanaaltjies wat oral rondom hulle neus voorkom—kan hulle die swak elektriese velde bespeur wat van die kloppende hart, die kieuwerking of die swemspiere van potensiële prooi afkomstig is. Trouens, hierdie sesde sintuig is so skerp dat dit haaie moontlik selfs sensitief maak vir die interaksie van die aarde se magnetiese veld met die oseaan. Gevolglik weet haaie moontlik watter kant noord en watter kant suid is.

Hoe om die witdoodshaai te herken

Hoewel hy die witdoodshaai genoem word, is net sy onderkant wit of bleek. Sy rug is gewoonlik ’n donker skakering van grys. Die twee kleure kom bymekaar aan die kant van die vis in ’n onreëlmatige lyn wat van haai tot haai verskil. Hierdie kenmerk help om die haai te kamoefleer, maar dit help wetenskaplikes ook om individuele haaie uit te ken.

Hoe groot word witdoodshaaie? “Die grootste witdoodshaaie wat al akkuraat gemeet kon word”, sê die boek Great White Shark, “wissel tussen 19 en 21 voet [5,8 en 6,4 m].” Visse van hierdie grootte kan meer as 2 000 kilogram weeg. Maar danksy pylvormige, driehoekige vinne aan ’n torpedovormige lyf, gly hierdie monsters soos missiele deur die water. Hulle byna simmetriese stert, wat baie kragtig is, is nog ’n ongewone verskynsel in die haai-wêreld, aangesien die meeste ander haaisoorte duidelik asimmetriese sterte het.

Die witdoodshaai se kenmerkendste sowel as skrikwekkendste bates is sy enorme, keëlvormige kop, sy koue, swart oë en sy bek vol vlymskerp, geriffelde, driehoekige tande. Namate hierdie tweesnydende “messe” afbreek of uitval, skuif nuwe tande soos op ’n ‘vervoerband’ vorentoe om die plek daarvan in te neem.

Aangedryf deur warmer bloed

Die bloedsomloopstelsel van die Lamnidae-haaifamilie, wat die mako, die haringhaai en die witdoodshaai insluit, verskil aansienlik van dié van die meeste ander haaie. Hulle bloedtemperatuur is ongeveer 3 tot 5 grade Celsius warmer as die watertemperatuur. Hulle warmer bloed versnel vertering en dra by tot hulle krag en uithouvermoë. Die mako, wat van vinnige diepseevisse soos tuna leef, kan kort rukkies teen 100 kilometer per uur deur die water skiet!

Wanneer haaie swem, bied die twee borsvinne aan hulle hefvermoë. As hulle te stadig swem, hou hulle op beweeg en sak hulle af net soos in die geval van ’n vliegtuig waarvan die motore gaan staan as hy te stadig vlieg, en dít ten spyte van ’n voorraad olie wat hulle hulle dryfvermoë gee en in ’n lewer geberg word wat so groot is dat dit ’n kwart van die haai se totale gewig kan uitmaak! Daarbenewens moet baie haaispesies aanhou swem om asem te haal, want sodoende laat hulle suurstofryke water deur hulle bek en kieue spoel. Dit verklaar hulle permanente koue grynslag!

’n Mensvreter?

Van die 368 haaispesies wat tans bekend is, is net ongeveer 20 gevaarlik. En hiervan is net vier verantwoordelik vir die meeste van die sowat 100 aanvalle op mense wat elke jaar regoor die wêreld aangemeld word. Ongeveer 30 van hierdie aanvalle is noodlottig. Die vier spesies wat hiervoor verantwoordelik is, is die zambezihaai, wat moontlik al meer menselewens geëis het as enige ander haai, die tierhaai, die opesee-wittiphaai en die witdoodshaai.

Verbasend genoeg het ten minste 55 persent—en in sommige dele van die wêreld ongeveer 80 persent—van diegene wat deur die witdoodshaai aangeval is, dit oorleef. Waarom het so baie ’n aanval deur so ’n gevreesde roofdier oorleef?

Byt en spoeg

Die witdoodshaai is daarvoor bekend dat hy sy gewonde prooi uitspoeg ná ’n eerste, kragtige byt. Dan wag hy vir die slagoffer om dood te gaan voordat hy dit eet. Wanneer mense die slagoffers is, skep hierdie gedrag ’n geleentheid om gered te word. Dit is soms deur dapper metgeselle gedoen, wat toon hoe wys die raad is om nooit alleen te swem nie.

Sulke reddingspogings sou egter so te sê selfmoord gewees het as dit nie was vir ’n ander gedragspatroon van die witdoodshaai nie. Die reuk van bloed dryf hom nie tot ’n vreetwaansin soos dit met ander haaie die geval is nie. Maar waarom gebruik die witdoodshaai ’n byt-en-spoeg-taktiek?

Dit is weens sy oë, reken een wetenskaplike. Anders as ander haaie het die witdoodshaai nie ’n vlies wat as ’n ooglid dien om sy oë te beskerm nie; hy draai hulle eerder in hulle kaste net voor hy sy prooi aanval. Die oomblik wanneer hy byt, is die oog blootgestel, miskien aan die krappende kloue van ’n rob. Daarom is dit algemene gedrag vir die witdoodshaai om ’n vinnige, dodelike byt te gee en sy prooi dan los te laat.

Hou ook in gedagte dat witdoodshaaie hulle baie soos mensebabas gedra—alles gaan reguit mond toe vir ’n aanvanklike ontleding! “Ongelukkig kan dit rampspoedige gevolge hê as ’n groot witdoodshaai [toets]byt”, verduidelik John West, ’n marinebioloog van Sydney, Australië.

Hoewel die witdoodshaai ’n gevaarlike dier is, is dit nie ’n bose dier wat net agter mensvleis aan is nie. Een perlemoenduiker wat al 6 000 uur in die water deurgebring het, het net twee witdoodshaaie gesien en nie een van hulle het hom aangeval nie. Trouens, die witdoodshaai het al dikwels van mense af weggevlug.

Terwyl die oseaanverkenner Jacques-Yves Cousteau en ’n metgesel aan die Kaap-Verdiese Eilande geduik het, het hulle op ’n enorme witdoodshaai afgekom. “[Sy] reaksie was die mees onverwagte”, het Cousteau geskryf. “Uit pure skrik het die monster ’n wolk ontlasting uitgeskei en teen ’n ongelooflike spoed weggeswem.” Hy het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Wanneer ek oor al ons ondervindinge met die witdoodshaai nadink, word ek elke keer getref deur die groot kloof tussen die publiek se siening van die dier en wat ons van hom gesien het.”

Die witdoodshaai as prooi

Die openbare beeld van die witdoodshaai is grootliks beïnvloed deur die roman Jaws van die 1970’s, waarop ’n gewilde rolprent gebaseer is. Oornag het die witdoodshaai die boosheid self geword, en “groot getalle trofeejagters het meegeding om te sien wie eerste die kop of kake van die mensvreter bokant die kaggel sou vertoon”, sê die boek Great White Shark. Mettertyd was ’n gemonteerde tand van ’n witdoodshaai tot $1 000 (R3 800) werd (in Australië); en kake met ’n volledige stel tande meer as $20 000 (R77 000).

Verreweg die meeste witdoodshaaie gaan egter in kommersiële visnette dood. Daarbenewens word daar jaarliks miljoene ander haaie gevang om in die behoeftes van die groeiende mark vir haaiprodukte, veral vinne, te voorsien. In onlangse jare was die feit dat daar al hoe minder haaie gevang is, veral witdoodshaaie, ’n gevaarsein regoor die wêreld.

Begrip in die toekoms

Haaie is daarvoor bekend dat hulle die oseane vir siek, sterwende, gebreklike en dooie diere fynkam. ’n Gesonde haaibevolking beteken gevolglik gesonde, higiëniese oseane.

Die Kommissie vir die Oorlewing van Spesies van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur het ’n Haaispesialistegroep op die been gebring om die hele haaiprobleem te ondersoek, omdat hulle besef dat die oorlewing van haaie bedreig word. Maar dit is nie maklik om die witdoodshaai te bestudeer nie—daar is nie baie van hulle nie, en hulle gaan dood in aanhouding. Hulle moet dus in hulle natuurlike habitat bestudeer word.

Namate die mens haaie beter begin verstaan het, het hulle gesindheid teenoor hierdie fassinerende diere verander. Maar dit verander nie die witdoodshaai nie. Hoewel hy nie ’n bose dier is nie, is hy nietemin ’n gevaarlike dier en moet hy versigtig en met respek behandel word. Met groot respek!

[Voetnoot]

^ par. 3 Die witdoodshaai, of mensvreterhaai, het verskeie gewone name. In Australië word hy byvoorbeeld soms die witvinhaai genoem; in Suid-Afrika, die blouvinhaai.

[Prent op bladsy 11]

Hierdie haaie het groot en vreesaanjaende kake

[Foto-erkennings op bladsy 10]

Foto’s deur Rodney Fox Reflections

South African White Shark Research Institute