Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Stresvolle lewens

“Byna die helfte van alle Kanadese kla dat hulle matige tot hoë stresvlakke ondervind weens die uitdaging om ’n balans te probeer behou tussen hulle verantwoordelikhede by die werk en by die huis”, berig die koerant Vancouver Sun. “Dit is twee keer soveel as ’n dekade gelede.” Waarom die toename? ’n Opname wat deur die Konferensieraad van Kanada vrygestel is, het getoon dat daar nou ’n hoër persentasie Kanadese werkers is wat gesinslede versorg. Meer mense maak later in hulle lewe kinders groot, en hulle kom dikwels voor die uitdaging te staan “om tegelykertyd vir hulle kinders sowel as hulle ouers te sorg”. Hoewel 84 persent van diegene met wie ’n onderhoud gevoer is, tevrede is met hulle sekulêre werk, sê die verslag dat die “meeste hulle persoonlike tyd, wat slaaptyd insluit, eerste opoffer” wanneer die eise van die huis en sekulêre werk te veel word. Die Konferensieraad sê: “Dit lei tot stres, en mense se gesondheid ly daaronder.”

Leer hulle respek vir gesag

“Hedendaagse ouers verwag so min respek vir gesag dat hulle moontlik selfs hulle kinders se selfbeeld verlaag”, sê ’n berig in The Toronto Star. “Wanneer kinders weet wat hulle beperkings is, voorsien dit in werklikheid in hulle behoefte aan voorspelbaarheid en veiligheid—wat hulle weer help om ’n beter selfbeeld te hê”, sê die gedragspesialis Ronald Morrish. “Kinders wat nie leer om reëls te gehoorsaam en verantwoordelik te wees nie, voel meer onveilig en onseker wanneer hulle grootword.” Hy voeg by: “Ek weet van 6-jariges wat self besluit wanneer hulle bed toe gaan. Ek sien 3-jariges wie se ma’s vir hulle verduidelik hoe dit Mammie laat voel wanneer hulle stout is.” Kinders moet leer om gesinsreëls te gehoorsaam, en die sienswyse dat hulle gewoonlik minder gehoorsaam word namate hulle ouer word, is verkeerd, sê Morrish. “Ons verwag dat kinders elke jaar meer akademiese kennis moet inneem. Waarom verwag ons dan nie ook dat kinders se gedrag elke jaar moet verbeter nie?” vra hy. “As jy nie doen wat nodig is sodat ’n kleuter sy speelgoed optel nie, gaan hy nie as ’n tiener huis toe kom teen die tyd wat jy vir hom gesê het om by die huis te wees nie.”

Opnames wat diere se aptyt wek

Kanadese wetenskaplikes het ontdek dat jong plaasdiere aangemoedig kan word om te eet deur opnames vir hulle te speel, berig New Scientist. “Ons het die kloekgeluide opgeneem wat ’n moederhen maak wanneer sy iets vind wat sy wil hê haar kuikens moet eet”, sê Luis Bate van die Universiteit van Prins Eduard-eiland. Toe die opnames oor luidsprekers gespeel is wat naby kos geplaas is, het die kuikens geëet al was hulle ma nie daar nie. Maar die kloekgeluide moet net reg wees. Bate sê: “Wanneer ons vir hulle die kloekgeluide gespeel het wat ’n moederhen maak nadat kuikens uitbroei, wat vir my presies dieselfde klink soos die etenstydgekloek, beweeg die kuikens hulle nie.” Die wetenskaplikes wil die diere vinniger laat groei, en in aanvanklike eksperimente het kuikens gedurende hulle eerste drie weke tot 20 persent vinniger as gewoonlik gegroei. In soortgelyke eksperimente kon kalkoenkuikens en klein varkies ook aangemoedig word om meer dikwels te eet.

Gevaarlike voorskrifte

“Geneesmiddels het verlede jaar meer lewens in Duitsland geëis as verkeersongelukke”, het die koerant Stuttgarter Nachrichten gesê. Volgens berig het ongeveer 25 000 mense in 1998 van medisyne gesterf wat verkeerd voorgeskryf is. Dit is drie keer meer as die aantal wat gedurende dieselfde tydperk in verkeersongelukke gesterf het. Selfbehandeling speel blykbaar slegs ’n sekondêre rol hierin. Die grootste probleem is blykbaar ’n gebrek aan inligting en opleiding onder dokters oor die geneesmiddels en die uitwerking wat dit kan hê. Die farmakoloog Ingolf Cascorbi het gesê dat daar volgens een skatting “elke jaar in Duitsland 10 000 sterfgevalle en 250 000 gevalle van mense is wat ly weens ernstige newe-effekte wat vermy kan word as navorsing en opleiding ten volle gebruik word”, sê die verslag.

Die Franse tydskrif Sciences et avenir het eweneens berig gelewer oor ’n onlangse studie wat in Frankryk gedoen is. Volgens hierdie studie was ongeveer 10 700 van die 150 000 voorskrifte wat aan persone oor 70 gegee is óf verkeerd óf ondoeltreffend. Byna 1 uit 50 was potensieel gevaarlik weens moontlike reaksies met ander voorskrifmedisyne of ander risiko’s. In Frankryk bring bejaardes elke jaar ongeveer eenmiljoen dae in die hospitaal deur as gevolg van negatiewe reaksies op geneesmiddels.