Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Ons wêreld sou anders wees’

‘Ons wêreld sou anders wees’

‘Ons wêreld sou anders wees’

Die pogings om ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies verlede Augustus in Moskou te kanselleer, het baie aandag getrek. (Sien bladsye 27 en 28 vir besonderhede.) Andrei Zolotof jr. het in The Moscow Times van 21 Augustus 1999 berig dat “Wladimir Koziref, onderbestuurder van die sportkompleks, gesê het dat die administrasie nie teen die kongres van Jehovah se Getuies gekant is nie. Hy het gesê hy weet nie van wie die bevel [om dit te kanselleer] gekom het nie.”

In ’n brief wat ’n week later in The Moscow Times verskyn het, het ’n leser die koerant geprys vir die “waarlik onbevooroordeelde” artikel en gesê dat dit “werklik lesers se aandag verdien het”. Hy het gesê: “Julle berig oor die geweldige probleme waarvoor Jehovah se Getuies te staan gekom het ter voorbereiding van hulle jaarlikse byeenkoms het [duidelik getoon] hoe onregverdig hulle behandel is.”

Toe het die skrywer van die brief gesê dat Jehovah se Getuies “baie bekend in die wêreld (en nou ook in Rusland) is . . . Hulle is . . . bekend as baie aangename, vriendelike en sagmoedige mense met wie ’n mens maklik oor die weg kom, wat nooit enige druk op ander mense plaas nie en altyd die vrede probeer bewaar in hulle verhouding met ander ongeag hulle godsdienstige oortuiging, hetsy hulle Ortodokse Christene, Moslems of Boeddhiste is. Daar is geen omkopers, dronkaards of dwelmslawe onder hulle nie, en die rede is baie eenvoudig: Hulle probeer net om in alles wat hulle doen of sê deur hulle Bybelse oortuigings gelei te word. As almal in die wêreld net probeer het om soos Jehovah se Getuies volgens die Bybel te lewe, sou ons wrede wêreld heeltemal anders wees.”

Owerhede wat ondersoek ingestel het na Jehovah se Getuies en regstreeks met hulle te doen het, bevestig die beskrywing hierbo. Sulke owerhede het byvoorbeeld vir die Getuies die permitte toegestaan om hierdie pragtige nuwe Byeenkomssaal in St. Petersburg, Rusland, te bou. Tydens die toewyding daarvan op 18 September verlede jaar was daar ’n vreugdevolle gehoor van 2 257 in die saal aanwesig, en ’n bykomende 2 228 het by Koninkryksale in St. Petersburg en by die takkantoor van Jehovah se Getuies in nabygeleë Solnetsjnoje na die program geluister.