Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Russe stel godsdiensvryheid op prys

Russe stel godsdiensvryheid op prys

Russe stel godsdiensvryheid op prys

SEDERT DIE SOWJETUNIE IN 1991 ONTBIND IS, HET DIE MENSE WAT DAAR WOON GROTER GODSDIENSVRYHEID GENIET. SULKE VRYHEID WORD OOK OP PRYS GESTEL DEUR DIEGENE WAT NA ANDER LANDE GEËMIGREER HET.

VIR baie wat in die voormalige Sowjetunie woon, is die vryheid om openlik bymekaar te kom om God te aanbid ’n vreugde wat hulle koester—’n vreugde wat hulle etlike dekades lank ontneem is.

Ná die Bolsjewistiese Revolusie in 1917 het dit gevaarlik geword om die Bybel in Rusland te lees, en min mense het hulle vryheid gewaag om dit te doen. Jehovah se Getuies was ’n uitsondering. Trouens, die tydskrif Newsweek van 16 April 1956—amper 44 jaar gelede—het ’n jeugdige in Oos-Duitsland aangehaal wat gesê het: “Net Jehovah se Getuies lees die Bybel.” Maar die Getuies is in tronke en strafkampe gesit omdat hulle Bybelstudievergaderinge gehou het en omdat hulle die Bybel se boodskap verkondig het. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle nietemin die aandag gevestig op hulle Bybelse hoop, soos die bygaande venster toon.

Toe die Sowjetunie in 1991 begin ontbind het, het die Getuies daar sewe byeenkomste gehou wat uit ’n program van Bybelonderrigting bestaan het. Altesaam 74 252 het dit bygewoon. In 1993, net twee jaar later, het 112 326 bymekaargekom by agt sulke byeenkomste in 4 van die 15 voormalige republieke van die Sowjetunie. * Onder die duisende wat dit bygewoon het, was daar talle wat baie jare in Sowjettronke en -strafkampe deurgebring het. Hierdie getroue Christene was vol waardering vir hulle vryheid om God ongehinderd te aanbid.

Sedert 1993 stel mense van die voormalige Sowjetrepublieke die voorreg op prys om vryelik by Christelike samekomste in hulle vaderland bymekaar te kom. Verlede jaar was altesaam 282 333 Getuies van Jehovah en hulle vriende byvoorbeeld verheug om saam te aanbid by 80 “God se profetiese woord”-streekbyeenkomste wat in die voormalige Sowjetrepublieke gehou is. En 13 452 is altesaam gedoop.

Verlede jaar was daar verbasend genoeg ook Russiese byeenkomste in ander lande. Altesaam 6 336 mense het vier sulke byeenkomste in lande buite die voormalige Sowjetunie bygewoon! Waar is dit gehou? En waarom het soveel Russiese mense so ’n lewendige belangstelling in die Bybel? Kom ons kyk eerstens kortliks na die laaste vraag.

Hulle is bewus van hulle geestelike behoefte

Rusland het ’n ryk godsdiensgeskiedenis. Sy indrukwekkende katedrale, wat eeue gelede gebou is, is van die beroemdstes in die Christendom. Maar die Russies-Ortodokse Kerk het, soos die Rooms-Katolieke Kerk, mense in onkunde omtrent die Bybel gehou.

“Die Bybel”, verduidelik die boek The Russian TragedyThe Burden of History wat onlangs vrygestel is, “was nooit ’n vername deel van die Russies-Ortodokse Kerk nie.” Gevolglik het Ortodokse gelowiges, volgens die Russiese godsdiensgeleerde Sergei Iwanenko, se “gebrek aan Bybelkennis daartoe gelei dat baie gemeentelede van Ortodokse kerke vatbaarder vir die invloed van bygelowe, okkultisme en towery is as ongelowiges”.

Die beroemde Russiese skrywer Tolstoi het ’n soortgelyke opmerking gemaak. Hy het geskryf: “Ek het myself oortuig dat die leer van die [Russies-Ortodokse] kerk in teorie ’n listige en skadelike bedrogspul is, en in die praktyk is dit ’n versameling van die afstootlikste bygelowe en toordery, wat die hele betekenis van die Christelike leer heeltemal verbloem.”

Hierdie situasie was ’n vrugbare broeiplek vir die opkoms van Sowjetkommunisme met sy ateïstiese propaganda en welbekende refrein: “Godsdiens is die opium van die volk.” Maar Kommunisme self het weldra ’n godsdiensvorm geword en is dikwels die Rooi Godsdiens genoem. Maar die Rooi Godsdiens het nie bly staan nie. Toe die Sowjetstaat in 1991 ineengestort het, was miljoene mense verward en het hulle gewonder waarheen hulle hulle moet wend. Met die aanmoediging van Jehovah se Getuies het derduisende Russe antwoorde in die Bybel gesoek.

Danksy ’n goeie onderwysstelsel is die Russe van die mees geletterde mense in die wêreld. Gevolglik het baie Russe nie net Bybellesers geword nie, maar ook lief geword vir die leringe daarin. Terselfdertyd, veral gedurende die dekade van die 1990’s, het honderdduisende mense van die voormalige Sowjetunie na ander lande, soos Duitsland, Griekeland en die Verenigde State, geëmigreer. Wat was die gevolg?

Vryheid om in Duitsland te aanbid

In die 18de en 19de eeu het baie Duitsers na Rusland verhuis. Die beroemdste een was die 15-jarige Sophia, wat haar man in 1762 as heerser van Rusland opgevolg het. Gedurende haar lang bewind het Sophia, wat later as Katharina die Grote bekend geword het, Duitse boere genooi om in Rusland te kom woon. Later, toe Duitsland die Sowjetunie tydens die Tweede Wêreldoorlog aangeval het, is die meeste wat van Duitse afkoms was, weggevoer na Siberië en Sowjetrepublieke soos Kazakstan, Kirgizstan en Oesbekistan. In onlangse tye het baie Russiessprekende Duitsers, asook ander van die voormalige Sowjetunie, na Duitsland verhuis om beter ekonomiese toestande te geniet.

In Desember 1992 is die eerste Russiese gemeente in Duitsland in Berlyn gestig. Teen verlede jaar is 52 gemeentes en 43 kleiner groepe in drie Russiese kringe in Duitsland georganiseer. Daar was ’n opkomshoogtepunt van 4 920 by die Russiese “God se profetiese woord”-streekbyeenkoms in Keulen, wat van 30 Julie tot 1 Augustus gehou is, en waar 164 as simbool van hulle toewyding aan Jehovah gedoop is. Vroeër, op 1 April, het 6 175 die herdenking van Jesus se dood in Duitsland se Russiese gemeentes bygewoon.

Russe in die Verenigde State

Die Verenigde State het ook ’n toevloei van Russiessprekende mense uit die voormalige Sowjetunie gehad. The New York Times het berig: “Tussen 1991 en 1996 was Russe die immigrantegroep in Brooklyn wat die vinnigste toegeneem het. Gedurende dieselfde tyd het die Immigrasie- en Naturalisasiediens meer as 339 000 immigrante van die voormalige Sowjetunie in die Verenigde State toegelaat.”

Later het die Times van Januarie 1999 gesê dat sowat 400 000 Jode gedurende die vorige dekade van die voormalige Sowjetunie na die stad New York en die omliggende gebied geëmigreer het. Daarbenewens het duisende Russe hulle in onlangse jare in ander dele van die Verenigde State gevestig. Noord-Kalifornië het byvoorbeeld ’n toevloei van sowat 35 000 nuwe Russiese immigrante gehad, wat dit, na New York en Los Angeles, die derde grootste sentrum van immigrante van die voormalige Sowjetunie maak. Hierdie Russiessprekende mense het ook gunstig gereageer op die geleentheid om die Bybel te bestudeer, en honderde van hulle het aanbidders van die ware God, Jehovah, geword.

Op 1 April 1994 is die eerste Russiese gemeente van Jehovah se Getuies in onlangse jare in die Verenigde State in Brooklyn, New York, gestig. Uiteindelik is Russiese gemeentes in Pennsilvanië, Kalifornië en Washington gevorm. Studiegroepe is in baie ander dele van die land op die been gebring.

Die eerste keer in die Verenigde State

Van 20 tot 22 Augustus verlede jaar was ’n opkomshoogtepunt van 670 mense van dwarsoor die Verenigde State en Kanada verheug om die eerste Russiese streekbyeenkoms in die stad New York by te woon. Al die toesprake was in Russies, en ’n gekostumeerde drama oor die Bybelverslag van Jakob en Esau is deur lede van die Russiese gemeente van Los Angeles, Kalifornië, aangebied. Dit was waarlik ’n hoogtepunt van die byeenkoms.

Nog ’n byeenkomshoogtepunt was die doopplegtigheid waartydens 14 persone gedoop is. Hulle verskyn almal op die bygaande foto. Baie van hulle het ongeveer 4 000 kilometer van Portland, Oregon, en van Los Angeles en San Francisco, Kalifornië, gereis om by die byeenkoms in die stad New York gedoop te word. Die 14 dopelinge het voorheen in die voormalige Sowjetrepublieke Armenië, Aserbaidjan, Belaroes, Moldowa, die Oekraïne en Rusland gewoon. Hulle ondervindinge toon hoe hoog hulle die kennis van God en die vryheid om hom te aanbid op prys stel.

Swetlana (voorste ry, derde van links) het in Moskou grootgeword. Toe sy 17 was, is sy met ’n beroemde sanger getroud wat baie ouer as sy was, en in 1989 het hulle saam met hulle babaseuntjie na die Verenigde State gekom. Haar man het baie gereis, en vyf jaar later is hulle geskei.

Toe Swetlana ’n kollega ontmoet het wat ’n Getuie is, het haar vriende haar gewaarsku om nie betrokke te raak by wat hulle vir haar gesê het “’n sekte [is] wat [haar] lewe sal beheer en al [haar] geld sal neem nie”. Maar sy wou uitvind wat die Bybel leer. Hulle het vir haar God se naam in die Bybel gewys, en hieroor sê sy: “Ek was diep beïndruk dat die Getuies die enigstes is wat dit bekend maak.”

As ’n jeugdige het Andrei (agterste ry, derde van links) sy huis in Siberië verlaat om gevorderde afrigting as ’n atleet te ontvang in wat vandag St. Petersburg is. Kort daarna het die Sowjetunie ontbind, en in 1993 het Andrei, op 22-jarige ouderdom, na die Verenigde State geëmmigreer. Hy verduidelik: “Ek het oor God begin dink en het na die Russies-Ortodokse Kerk begin gaan. Eenkeer, gedurende die Russiese Paasfeesviering, het ek die hele nag in die kerk gebly om na aan God te probeer kom.”

Dit was in hierdie tyd wat Swetlana en Andrei ontmoet het, en sy het vir hom vertel wat sy in haar Bybelstudie geleer het. Hy het ingestem om saam met haar na ’n vergadering van Jehovah se Getuies te gaan, en daarna het hy ’n Bybelstudie aanvaar. Hulle het in Januarie 1999 getrou. Ná hulle by die byeenkoms gedoop is, het hulle van vreugde gestraal.

Pavel (agterste ry, vierde van links) is naby Qaraghandi, Kazakstan, gebore, maar het later na Naltsjik, Rusland, verhuis. Hierdie groot stad is naby Tsjetsjnja en Dagestan, waar daar soveel gevegte was. Pavel het die Getuies vir die eerste keer in Augustus 1996 daar ontmoet, maar hy het die volgende maand na San Francisco geëmigreer. Hy was betrokke by dwelms en het ’n dogter gehad, wat hy by haar moeder in Rusland agtergelaat het.

Onmiddellik nadat Pavel in die Verenigde State aangekom het, het hy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom en tot ’n Bybelstudie ingestem. Hy het sy lewe in orde gekry en aan die moeder van sy dogter oor sy nuutgevonde geloof geskryf. Sy studeer nou saam met die Getuies, en hulle beplan om haar eersdaags na die Verenigde State te bring sodat sy en Pavel kan trou en Jehovah saam met hulle dogter in Kalifornië kan dien.

George (agterste ry, tweede van links) is in Moskou gebore en grootgemaak. Hy het in 1996 na die Verenigde State gekom, en die volgende jaar is hy met Flora getroud, wat oorspronklik van Aserbaidjan is. George het na die Russies-Ortodokse Kerk gegaan, maar nadat hy ’n Wagtoring gelees het, het hy vrae oor die Drie-eenheidsleer gehad. In antwoord op sy brief aan die Wagtoringgenootskap het hy die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? ontvang. In 1998 het hy en Flora die Bybel begin bestudeer. Nou beplan sy ook om gedoop te word.

Nog ’n hoogtepunt wat hulle by hierdie byeenkoms geniet het, was om groete van Moskou te ontvang, waar 15 108 gedurende dieselfde naweek vir hulle byeenkoms bymekaargekom het. Hoe opgewonde was afgevaardigdes in die stad New York tog toe hulle hoor dat 600 daar gedoop is! Dit was veral gepas in die lig van die ongunstige koerant- en televisieberigte wat in die week voor die byeenkoms in die Verenigde State en elders begin verskyn het.

Wat in Moskou gebeur het

Op 21 Julie 1999 het die Getuies ’n kontrak geteken vir die gebruik van die Olimpiese stadion in die hartjie van Moskou en reg langs ’n groot Russies-Ortodokse kerk. Maar ’n week voor die byeenkoms moes begin, was dit duidelik dat daar teenkanting sou wees. Teen Woensdag, 18 Augustus, is nog geen toestemming ontvang om die stadion te gebruik nie, al was die huurgeld reeds betaal. Amptenare is daaraan herinner dat Jehovah se Getuies, soos die venster op bladsy 28 toon, ’n wetlik erkende godsdiensorganisasie in Rusland is.

Omdat daar na verwagting ongeveer 15 000 byeenkomsgangers na Vrydagoggend se sessie sou kom, het Getuieverteenwoordigers bekommerd begin word. Party byeenkomsgangers sou na Moskou reis van stede en dorpe wat baie kilometer daarvandaan is. Uiteindelik, ná ure van onderhandeling, omstreeks 8:00 nm., op Donderdag, 19 Augustus, was die stadionbestuur verheug om die Getuieverteenwoordigers te laat weet dat hulle met die byeenkoms kon voortgaan. Die stadsraad het hulle in kennis gestel dat hulle geen beswaar teen die byeenkoms het nie.

Die volgende oggend het duisende by die stadion ingestroom. Getuievrywilligers het regdeur die nag gewerk om die stadion gereed te kry vir hulle koms. Daardie eerste oggend was lede van die pers ook teenwoordig, wat vroeër in kennis gestel is van die teenkanting teen die byeenkoms. “Veels geluk!” het een van hulle gesê. “Ons is bly om te hoor dat julle byeenkoms voortgaan.”

’n Voorbeeld van ordelike gedrag

Die stadionbestuur het gevoel dat dit verstandig sal wees om veiligheidsmaatreëls te tref. Gevolglik is sekuriteitspersoneel met metaalverklikkers, soos wat by lughawens gebruik word om passasiers te ondersoek, by al die ingange geplaas. Daar was ook polisiemanne binne die stadion. Die byeenkoms is op ’n ordelike wyse gehou ondanks ’n ernstige bedreiging.

Saterdagmiddag is ’n dreigement ontvang dat ’n bom in die stadion versteek is. Die dreigement is kort voor die einde van die voorlaaste toespraak van die dag ontvang. Op versoek van die stadionbestuur is ’n kort aankondiging dus gemaak om die stadion onmiddellik te ontruim. Die stadionbeamptes en die polisie was verstom oor die ordelike wyse waarop almal dit gedoen het. Hulle het nog nooit so iets gesien nie! Hulle het gevra of dit geoefen is.

Geen bom is gevind nie, en die volgende dag het die program die dele ingesluit wat nie die Saterdag aangebied is nie. Die stadionbestuur was gelukkig met hoe die byeenkoms verloop het.

In Griekeland en elders

Gedurende die laaste week van Augustus en die eerste een in September is Russiese streekbyeenkomste ook in Griekeland gehou—eers in Atene en toe in Tessalonika. Altesaam 746 het dit bygewoon, en 34 is gedoop. Daar is 8 Russiese gemeentes in Griekeland en 17 kleiner groepe wat bestaan uit immigrante van die voormalige suidelike republieke van die Sowjetunie. Hulle hou hulle vergaderinge in Russies en in ander tale wat deur die immigrante gepraat word.

Een van diegene wat in Atene gedoop is, is Victor. Hy was ’n ateïs, maar in Augustus 1998 het hy die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Atene bygewoon, waar sy vrou gedoop is. Hy het gesê dat hy so beïndruk is deur die liefde wat die byeenkomsgangers betoon het dat dit hom beweeg het om die Bybel te bestudeer.

’n Man met die naam Ighor het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe ontvang, en nadat hy dit gelees het, het hy sy ikone weggegooi. Hy het selfs begin om hom as een van Jehovah se Getuies voor te stel. Nadat hy aan die takkantoor in Atene geskryf het en in November 1998 ’n besoek van die Getuies ontvang het, het hy onmiddellik sy eerste gemeentelike vergadering bygewoon, en hy het sedertdien nog nie van een weggebly nie. Nou, ná sy doop, is Ighor se doelwit om ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies te word.

Russiessprekende mense het na ’n hele paar ander lande geëmigreer wat ons nie genoem het nie. Baie van hierdie mense verheug hulle ook in hulle vryheid om die Bybel te bestudeer en openlik bymekaar te kom om God te aanbid. Vir hulle is hierdie voorreg ’n vreugde wat hulle baie na aan die hart lê!

[Voetnoot]

^ par. 5 Die 15 republieke, wat nou onafhanklike lande is, is soos volg: Armenië, Aserbaidjan, Belaroes, Estland, Georgië, Kazakstan, Kirgizstan, Letland, Litaue, Moldowa, die Oekraïne, Oesbekistan, Rusland, Tadjikistan en Toerkmenistan.

[Venster op bladsy 22]

Russe wat lief is vir die Bybel

Professor Sergei Iwanenko, ’n gesiene Russiese godsdiensgeleerde, beskryf Jehovah se Getuies as mense wat hulle waarlik op Bybelstudie toelê. In ’n boek wat hy onlangs in Russies geskryf het, O lioediach, nikogda nje rasstajoesjtjichsia s bibliej (Die mense wat nooit sonder hulle Bybel is nie), het hy oor hulle vroeë geskiedenis in die Sowjetunie geskryf: “Selfs wanneer Jehovah se Getuies in die tronk beland het weens hulle getrouheid aan hulle oortuigings, het hulle maniere gevind om die Bybel te gebruik.” Ter toeligting hiervan het hy die volgende ondervinding vertel.

“Gevangenes is verbied om ’n Bybel te besit. Bybels is tydens soektogte van gevangenes afgeneem. In ’n noordelike kamp was een van Jehovah se Getuies ’n elektrisiën, en hy het Bybelboeke in ’n transformatoreenheid gehou waardeur baie kragtige elektriese strome gevloei het. Elke deel van die Bybel is met ’n toutjie aan ’n spesifieke draad vasgemaak, en net hierdie man het geweet watter toutjie getrek moes word om ’n Bybelboek—byvoorbeeld die Evangelie van Matteus—uit te kry sonder om ’n dodelike skok te kry. Die wagte het natuurlik nooit, ongeag hoe hard hulle gesoek het, enigiets gevind nie, met die gevolg dat hierdie unieke Bybel nie ontdek is nie.”

[Venster op bladsy 28]

Jehovah se Getuies is geherregistreer in Rusland

Jehovah se Getuies is al meer as ’n eeu lank aktiewe verkondigers van God se Koninkryk in Rusland. Weens regeringsbeperkings het die Getuies egter eers op 27 Maart 1991 wetlike erkenning ontvang. Destyds was hulle geregistreer onder die naam Administratiewe Sentrum van die Godsdiensorganisasies van Jehovah se Getuies in die USSR.

Op 26 September 1997 is ’n wet getiteld “Oor vryheid van gewete en godsdiensassosiasie” uitgevaardig. Hierdie nuwe wet het wêreldwyd opslae in die nuus gemaak. Waarom? Omdat baie mense die aanneming van hierdie wet as ’n poging beskou het om die godsdiensbedrywighede van minderheidsgodsdienste in Rusland te onderdruk.

Ten spyte van die feit dat Jehovah se Getuies baie struikelblokke moes oorkom om hulle in 1991 te laat registreer, het Rusland se nuwe wet op Vryheid van Gewete van hulle, sowel as ander gods-diensorganisasies, vereis om hulle te laat herregistreer. Dit het ’n hele paar vrae laat ontstaan. Het dit aangedui dat die Russiese owerheid weer ’n beleid van onderdrukking van Jehovah se Getuies aangeneem het? Of sou godsdiensverdraagsaamheid en -vryheid, wat gewaarborg word deur die Konstitusie van die Russiese Federasie, gehandhaaf word?

Die antwoord het uiteindelik gekom. Hoe bly was die Getuies tog om weer wetlike erkenning te ontvang toe Rusland se Departement van Justisie op 29 April 1999 ’n registrasiesertifikaat vir die “Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland” uitgereik het!

[Prent op bladsy 23]

Die eerste Russiese streekbyeenkoms in die Verenigde State

[Prent op bladsy 24]

Bybeldrama wat in New York aangebied is deur die Russiese gemeente van Los Angeles

[Prent op bladsy 25]

Hierdie 14 persone wat in New York gedoop is, is van ses voormalige republieke van die Sowjetunie

[Prent op bladsy 26, 27]

Meer as 15 000 het in Moskou se Olimpiese stadion bymekaargekom