Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Selfmoord—Die verborge epidemie

Selfmoord—Die verborge epidemie

Selfmoord—Die verborge epidemie

JOHN EN MARY * is in hulle laat vyftigerjare en woon in ’n klein huisie op die Amerikaanse platteland. John is stadig besig om aan emfiseem en kongestiewe hartversaking te sterf. Mary kan haar eenvoudig nie voorstel hoe sy sonder John kan lewe nie, en sy kan die pyn om hom so te sien wegkwyn, die een hygende asemteug ná die ander, nie verduur nie. Mary het haar eie gesondheidsprobleme en ly al jare lank aan depressie. John is in die laaste tyd bekommerd omdat Mary oor selfmoord begin praat het. Sy raak al hoe meer verward weens die depressie en al die medisyne wat sy drink. Sy sê dat die vooruitsig om alleen te wees vir haar ondraaglik is.

Die huis is vol medisyne—hartpille, antidepressante, kalmeermiddels. Eendag gaan Mary in die vroeë oggendure na die kombuis en begin net pille drink. Sy hou nie op voordat John op haar afkom en die pille by haar afneem nie. Wanneer hy die nooddienste bel, verloor sy haar bewussyn. Hy bid dat dit nie te laat is nie.

Wat die statistiek openbaar

Daar is in onlangse jare baie geskryf oor die toename in selfmoord onder jongmense—en heel tereg, want wat is ’n groter tragedie as die ontydige dood van ’n lewenslustige en belowende jongmens? En tog lees ’n mens nie dikwels in die koerant dat die selfmoordsyfer in die meeste lande merkbaar toeneem namate mense ouer word nie. Dit is die geval ongeag of die totale selfmoordsyfer in ’n gegewe land hoog of laag is, soos die venster op hierdie bladsy toon. As ’n mens na hierdie syfers kyk, besef jy ook die wêreldwye omvang van hierdie verborge epidemie.

In 1996 het die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer berig dat die aantal selfmoorde onder Amerikaners van 65 jaar en ouer sedert 1980 met 36 persent toegeneem het. ’n Gedeelte van hierdie toename is te wyte aan die groter aantal bejaarde Amerikaners—maar dit is nie al nie. In 1996 het die aantal selfmoorde onder diegene ouer as 65 vir die eerste keer in 40 jaar ook toegeneem, met 9 persent. Van alle sterfgevalle weens beserings het net valle en motorongelukke meer bejaarde Amerikaners se lewe geëis. In werklikheid is selfs hierdie kommerwekkende syfers miskien te laag. “Daar word vermoed dat die aantal selfmoorde heeltemal te laag opgegee word in die statistiek wat gebaseer is op doodsertifikate”, sê A Handbook for the Study of Suicide. Die boek voeg by dat party die werklike syfer twee keer so hoog as die aangemelde syfer skat.

Die gevolg? Die Verenigde State, soos baie ander lande, word geteister deur die verborge, wêreldwye epidemie van selfmoord onder bejaardes. Dr. Herbert Hendin, ’n deskundige op hierdie gebied, sê: “Ten spyte van die feit dat die selfmoordsyfer in die Verenigde State aanhoudend en merkbaar toeneem namate mense ouer word, skenk die publiek min aandag aan selfmoord onder ouer mense.” Waarom is dit die geval? Na sy mening is ’n deel van die probleem die feit dat die selfmoordsyfer vir ouer mense nog altyd hoog was en dat dit gevolglik “nie tot die skielike verontrusting aanleiding gegee het wat met die dramatiese toename in selfmoord onder jongmense gepaardgegaan het nie”.

’n Dodelike doeltreffendheid

Hoewel hierdie statistiek skokkend is, is dit net onpersoonlike syfers. Dit kan nie die eensaamheid van die lewe sonder ’n geliefde maat, die frustrasie van verlore onafhanklikheid, die wanhoop as gevolg van ’n langdurige siekte, die leegheid van chroniese depressie, die hopeloosheid wanneer ’n mens hoor dat jy ’n dodelike siekte het, weergee nie. Die onaangename waarheid is dat jongmense dalk selfmoord probeer pleeg as ’n ondeurdagte reaksie op tydelike probleme, terwyl ouer mense gewoonlik voor probleme te staan kom wat permanent en onoorkomelik lyk. Gevolglik het ouer mense gewoonlik ’n meer vasbeslote benadering tot selfmoord as jongmense, en hulle voer dit met ’n dodelike doeltreffendheid uit.

“Selfmoord is nie net aansienlik algemener onder ouer mense nie, maar die selfmoorddaad lig belangrike verskille tussen oud en jonk toe”, sê dr. Hendin in sy boek Suicide in America. “Die verskil is veral opvallend in die merkbaar groter verhouding tussen mislukte en geslaagde selfmoordpogings onder ouer mense. Onder die bevolking as ’n geheel is die verhouding van mislukte tot geslaagde selfmoordpogings ongeveer 10 tot 1; onder jongmense (15-24) is dit ongeveer 100 tot 1; en onder diegene ouer as 55 is dit ongeveer 1 tot 1.”

Watter ontstellende statistiek! Hoe neerdrukkend is dit tog om oud te word, fisiese krag te verloor en weens pyn en siektes te ly! Dit is geen wonder dat soveel mense selfmoord pleeg nie. En tog is daar kragtige redes om die lewe as iets kosbaars te beskou—selfs onder baie moeilike omstandighede. Kyk byvoorbeeld na wat met Mary gebeur het, wat aan die begin genoem is.

[Voetnoot]

^ par. 2 Name is verander.

[Tabel op bladsy 3]

Selfmoordsyfers per 100 000 mense, volgens ouderdom en geslag

Mans/Vroue 15 tot 24 jaar

8,0 / 2,5 Argentinië

4,0 / 0,8 Griekeland

19,2 / 3,8 Hongarye

10,1 / 4,4 Japan

7,6 / 2,0 Mexiko

53,7 / 9,8 Rusland

23,4 / 3,7 Verenigde State

Mans/Vroue 75 jaar en ouer

55,4 / 8,3 Argentinië

17,4 / 1,6 Griekeland

168,9 /60,0 Hongarye

51,8 /37,0 Japan

18,8 / 1,0 Mexiko

93,9 /34,8 Rusland

50,7 / 5,6 Verenigde State