Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Ongesonde lewenswyses Ek het die afgelope paar maande met my gesondheid gesukkel, en daarom was dit aanmoedigend om te leer dat ons ons gesondheid kan verbeter deur ons lewenswyse te verander. Toe ek die reeks “Gaan jou lewenswyse jou dood beteken” (8 Julie 1999) deurlees, het ek besef dat ek minder van sekere soorte kos moet eet en ’n meer gebalanseerde dieet moet volg wat meer vrugte en groente insluit.

E.P.M., Brasilië

Vertraagde reaksie Ek het die artikel “Saadjies wat baie jare later vrug gedra het” bemoedigend gevind (8 Julie 1999). Dit is my derde jaar as ’n voltydse bedienaar, en wanneer ek nie die resultate sien wat ek gehoop het ek sou kry nie, voel ek teleurgesteld en wil ek tou opgooi. Hierdie artikel het my gehelp om nou my beste te doen, en die resultate aan Jehovah oor te laat.

T. N., Japan

Bespotting Ek het die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek bespotting die hoof bied?” in die Ontwaak! van 22 Junie 1999 geniet. Skoolmaats vra my al van kleuterskooldae af vrae oor my geloof. Soms maak die manier waarop hulle hierdie vrae vra my gevoelens seer. Ek het al baie keer amper my geduld verloor. Ek besef nou dat dit slegs toetse van my geloof is. Daar is buitendien ander by die skool wat al geluister het wanneer ek vir hulle getuig het.

L. C., Verenigde State

Ek is ook al bespot omdat ek geweier het om sekere godsdienstige vakansiedae te vier of aan patriotiese seremonies deel te neem. Ek is ook getreiter omdat ek eerlik is en die Bybel se sedelike standaarde handhaaf. Die feit dat ek juiste kennis ingeneem het, het my gehelp om my oortuigings te verdedig. Dit help my om op te kom vir wat ek glo sonder om daaroor skaam te wees.

H. C., Zambië

Hoewel ek lankal nie meer ’n tiener is nie—ek is oor die 50!—het ek die artikel waardeer. Die teenstand wat ons in die bediening teëkom, ontstel ons soms, en dan wil ons dalk terugkap. Dit is waarom ek die herinnering waardeer het dat ‘’n beledigende antwoord, al is dit ook hoe gevat, net olie op die vuur sal wees en selfs tot verdere bespotting kan lei’. Ek probeer my geloof verdedig sonder om die indruk te skep dat ek terugkap, en hierdie herinnering het my daarvan oortuig dat ek moet voortgaan om dit te doen.

A. F., Verenigde State

Lewe langer Ek móés net vir julle skryf oor julle uitstekende reeks “Hoe om langer te lewe en beter te voel” (22 Julie 1999). Ek weet nou uiteindelik wat die verskil is tussen gemiddelde leeftyd en lewensverwagting. Die goeie raad oor hoe ’n mens die agteruitgang wat met veroudering gepaardgaan, kan vertraag, is herinneringe wat ek taktvol kan gebruik om my 88-jarige oupa te help, wat homself soms bejammer.

T. N., Verenigde State

Hond vir hardhorende Ek wil julle bedank vir die artikel “My hond hoor wanneer ek nie kan nie!” (22 Julie 1999). Die wete dat mense met gehoorprobleme sulke ernstige hindernisse te bowe moet kom, het my gehelp om groter begrip vir hulle te hê. Ek is ook lief vir honde, en ek was bly om te leer hoe hulle ’n hulp en staatmaker vir baie mense kan wees.

L. B., Italië

Ek het ook ’n hond wat my help. Ek bring ’n groot deel van my tyd in ’n rolstoel deur, aangesien ek bamboeswerwels en fibromialgia het. Ek kan nie begin om al die dinge te beskryf wat my hond vir my doen nie. Sy help my wanneer ek inkopies doen of die huis skoonmaak. Sy help my selfs in die Christelike bediening deur my lektuur te dra.

K. W., Verenigde State