Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke

’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke

’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke

SOOS VERTEL DEUR KONSTANTIN MOROZOF

Toe ek op 20 Julie 1936 gebore is, was daar geen ontwikkelde bene in my liggaam nie, behalwe my skedel en ruggraat. My hele skelet het uit sagte kraakbeen bestaan wat niks sterker was as die kraakbeen in ’n volwassene se oor nie. Ek het minder as ’n halwe kilogram geweeg. ’n Swak hartklop, sagte asemhaling en ’n paar beweginkies was die enigste tekens van lewe.

EK WAS die sewende van nege kinders in ’n gesin wat in die dorp Sara, in Oeljanowsk-oblast, in die hartjie van Rusland gewoon het. Toe ek drie weke oud was, het my ouers my kerk toe geneem om gedoop te word. Die priester het my vinnig met water besprinkel en vir my ouers gesê om my so gou as moontlik huis toe te neem, want ek sou in ’n paar uur sterf, het hy gesê.

In Januarie 1937 het my ouers my na spesialiste in die stad Kazan, die hoofstad van die Russiese republiek Tatarstan, geneem. Teen hierdie tyd kon ek al “Mamma”, “Pappa” en “Baboesjka” (Ouma) sê, en ek het my broers se name geken. Nadat die dokters my ondersoek het, het hulle vir my ouers gesê dat ek in ’n jaar sou sterf. Hulle het voorgestel dat ek doodgemaak en in ’n glasfles gesit word as ’n visuele hulpmiddel vir mediese studente. Hoe dankbaar is ek tog teenoor my ouers dat hulle volstrek geweier het!

Moeilike kinderjare

Ek kan nie ’n tyd onthou dat ek nie verskriklike pyn gehad het nie. En tog het ek selfs as ’n kind ’n positiewe uitkyk probeer behou en probeer om dikwels te lag en die lewe te geniet. Dit is my gesindheid tot vandag toe. My skelet het geleidelik al hoe sterker geword, en ek kon mettertyd regop sit en ’n bietjie kruip. Ek het nie soos ander kinders gegroei nie en was erg misvorm. Maar ek het flink geleer, en toe ek vyf was, kon ek al lees en skryf.

In Mei 1941 het my ma my vir die tweede keer kerk toe geneem. Daar was baie mense daar, en almal het knielend gebid. ’n Vrou wat by die kerk diens gedoen het, het na my ma toe gekom en gevra waarom sy nie kniel nie. Toe my ma my aan haar wys, het sy met die priester gaan praat. Sy het weer na ons toe gekom en ons na die uitgang geneem en gesê dat my ma my buite die deur moet los en alleen moet inkom. Sy het gesê dat ek weens my ouers se sondes deur “die bose” aan hulle gegee is. My ma het met trane in haar oë huis toe gegaan. Ek het lank hieroor nagedink. ‘Wie is hierdie “bose”?’ het ek gewonder.

In 1948, toe ek 12 was, het my ma my na die dorp Merenki in die Tsjoewasj-republiek geneem, wat ongeveer 80 kilometer van ons huis af was. By hierdie plek was daar ’n waterbron wat genesingskrag gehad het, en my ma het gehoop dat die water my sou genees. Een van die voorskrifte wat die priester gegee het sodat ek genees kon word, was dat ek drie dae lank nie moes eet nie. Ek moes ook die Nagmaal in die kerk ontvang. Hoewel ek nie veel vertroue in die kerk gehad het nie, het ek ingestem om dit te doen. Vir my was dit ’n lang en moeilike reis, maar ek het dit verduur deur op die natuurskoon om my te probeer konsentreer.

Die kerk was vol mense. Terwyl my ma my deur die skare gedra het, het ’n ou vrou my ’n lekker gegee. Ek het dit geneem en in my sak gesit. Toe dit my beurt was om die Nagmaal te ontvang, het die ou vrou uitgeroep: “Vader, moenie vir hom die Nagmaal gee nie! Hy het nou net ’n lekker geëet!” Ek het verduidelik dat die lekker in my sak was, maar die priester het geskreeu: “Hoe durf jy! Moet jy boonop ook nog lieg? Vat hom hier uit!” Die volgende dag het ’n ander priester my egter die Nagmaal gegee en my met die “wonderwater” gewas. Maar daar was geen wonderwerk nie. Ek was nog steeds gebreklik.

Intellektuele prestasies

Hoewel ek liggaamlik erg gestremd was, was ek gedurende my tienerjare akademies en intellektueel baie bedrywig. In 1956 het ek by die Komsomol (Jong Kommunistiese Bond) aangesluit en later Komsomol-geskiedenis aan jonger mense geleer. Ek was ’n lid van die Huishoudelike en Kulturele Kommissie by ’n inrigting vir gestremdes, en ek het ook daar as ’n radioregisseur en -omroeper gewerk.

Daarbenewens was ek die bibliotekaris van ’n mobiele biblioteek van boeke op band vir die blindes, en ek is as ’n lid van die Regterskommissie vir die Stryd Teen Alkoholmisbruik gekies. Ek het ook aan ’n amateurkunstenaarsklub behoort, gesing en verskeie musiekinstrumente bespeel.

By die inrigting vir gestremdes

In 1957, toe ek 21 geword het, het my liggaamsgebreke my gedwing om in ’n inrigting vir gestremdes te gaan woon. Maar ek was vasbeslote dat dit my nie sou onderkry nie. In Oktober 1963 het ek na Moskou se Navorsingsinstituut vir Kunsledemate gegaan. Daar het ek altesaam 18 operasies ondergaan om my bene reguit te maak.

My bene is eers gerek. En toe, ná agt dae, het ek ’n operasie ondergaan. Daarna is my bene in gips gesit om hulle tot die volgende operasie in posisie te hou. Die verpleegster het gehuil wanneer sy gesien het hoeveel pyn ek gehad het.

Gedurende die volgende vier maande het ek geleer om met krukke te loop. Met die krukke kan ek myself orent bring sodat ek byna 1,1 meter lank is. Ek weeg bietjie meer as 25 kilogram. Nadat ek geleer het om met die krukke te loop, het ek in 1964 na die inrigting vir gestremdes teruggekeer. Ongelukkig kon my swak bene nie my liggaamsgewig dra nie, en ek moes weldra weer kruip of in ’n rolstoel rondbeweeg. Ek gebruik tot vandag toe nog meestal ’n rolstoel om rond te beweeg.

Ek het nooit weer kerk toe gegaan nie. Daardie woorde, dat ek uit “die bose” gebore is, het nog steeds my siel gepynig. Ek was baie lief vir my pa en ma, en ek kon net nie aanvaar dat hulle en God vir my toestand verantwoordelik is nie. Ek het positief probeer bly. Ek wou goed doen aan ander, en bowenal aan myself bewys dat selfs ek dit kon doen.

Ons sorg vir onsself

In 1970 het ek met Lidia getrou, wat sedert haar kinderjare gedeeltelik verlam was. Ons het ’n klein huisie gekry, waarin ons 15 jaar lank gewoon het. Gedurende daardie tyd was ons selfonderhoudend. Ek het geleer om horlosies en ander klein toestelle reg te maak.

Ek het ’n tyd lank ’n afgerigte hond gebruik om ’n aantal noodsaaklike takies vir my te doen. Trouens, ek en ’n hondeafrigter het ’n spesiale halsband ontwerp. Ek het twee honde gehad—die een se naam was Vulkan en die ander Palma. Palma was baie jare lank ’n getroue vriend. Wanneer ons inkopies gaan doen het, het sy artikels vir my opgetel. Sy het net nie daarvan gehou om in ’n tou te staan wanneer ons moes betaal nie. Sy het my beursie in haar bek gedra, en sy het ’n klein hakie aan haar halsband gehad vir my inkopiesak.

In 1973 het my ma ernstig siek geword. Aangesien ek altyd by die huis was, het ek en my vrou besluit om haar by ons te laat woon. Teen daardie tyd was my pa en vyf van my broers reeds oorlede, en my ander drie broers het in ander dele van Rusland gewoon. Terwyl my ma by ons gewoon het, het ek alles wat ek kon vir haar probeer doen. Sy het uiteindelik op 85-jarige ouderdom gesterf.

In 1978 het ek besluit om ’n voertuig vir myself te bou. Nadat ek met ’n paar geëksperimenteer het, het ek uiteindelik ’n geskikte een gehad. Die plaaslike Voertuiginspeksie-afdeling het my toegelaat om ’n bestuurstoets te doen en my voertuig te laat registreer. Ek het dit Osa (Perdeby) genoem. Ek en my vrou het ’n klein sleepwa daarvoor gemaak wat ’n vrag van tot 300 kilogram kon dra. Ons twee kon daarmee rondry en bagasie saamneem. Ons het hierdie voertuig tot 1985 gebruik.

Ek het in hierdie tyd blind geword in my linkeroog, en die visie in my regteroog het begin verswak. Toe het Lidia siek geword met hartprobleme. In Mei 1985 moes ons weens ons beperkings noodgedwonge na ’n inrigting vir gestremdes in die stad Dimitrowgrad gaan.

Waarom ek nou so gelukkig is

In die somer van 1990 het Jehovah se Getuies ons inrigting vir gestremdes besoek. Ek het die dinge wat hulle geleer het baie interessant gevind. Hulle het my die deel in Johannes se Evangelieverslag oor die blindgebore man gewys. Jesus het van hom gesê: “Nóg hierdie man nóg sy ouers het gesondig” (Johannes 9:1-3). Hulle het aan my verduidelik dat ons sonde en siekte van ons voorvader Adam geërf het.—Romeine 5:12.

Ek was bowenal beïndruk deur die feit dat God uiteindelik almal sal genees wat lewe ontvang onder die Koninkryksheerskappy van sy Seun, Jesus Christus, wanneer die aarde in ’n paradys omskep sal word (Psalm 37:11, 29; Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4). Ek het van vreugde gehuil en gefluister: “Dis die waarheid, die waarheid, die waarheid!” Ek het die Bybel ’n jaar lank saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en in 1991 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.

Hoewel ek ’n sterk begeerte ontwikkel het om Jehovah te dien en ander van sy wonderlike voornemens te vertel, moes ek ’n hele paar struikelblokke oorkom. Voorheen was dit nie juis vir my nodig om rond te beweeg nie, maar nou moes ek rondbeweeg om ander van my geloof te vertel. My eerste predikingsgebied was ons inrigting vir gestremdes, waar meer as 300 mense gewoon het. Omdat ek met soveel mense as moontlik in kontak wou kom, het ek gevra om in die vertrek vir huishoudelike aangeleenthede te werk.

Ek het elke oggend by my werksplek gaan sit en my werk gedoen. Terwyl ek my werk gedoen het, het ek talle nuwe vriende gemaak met wie ek interessante besprekings oor Bybelonderwerpe het. ’n Hele paar van hulle het boeke en tydskrifte by my geneem wat hulle gehelp het om die Bybel te verstaan. Besoekers is gewoond daaraan dat ek vir hulle uit die Bybel en Bybelpublikasies lees. Tydens middagete is daar dikwels soveel mense in die kamer waar ek en my vrou woon dat daar soms nie plek vir enigiemand anders is om in te kom nie.

My Christenbroers en -susters in die gemeente van Jehovah se Getuies het my baie in die predikingswerk gehelp. Hulle bring vir my Bybellektuur en bring tyd saam met my en my vrou deur. Hulle help my ook om vir gemeentelike vergaderinge by die Koninkryksaal te kom. Een Getuie het ’n motorfiets met ’n syspan gekoop net sodat hy my kan vervoer. Ander, wat motors het, kom haal my met graagte gedurende die koue wintermaande.

Danksy sulke liefdevolle sorg kon ek al meer as tien byeenkomste, of opvoedkundige vergaderinge, van Jehovah se Getuies bywoon. Die eerste byeenkoms wat ek bygewoon het, was die groot internasionale byeenkoms in Moskou in Julie 1993, waar daar ’n opkomshoogtepunt van 23 743 mense van meer as 30 lande was. Ek moes ongeveer 1 000 kilometer aflê om daardie byeenkoms by te woon. Ek het sedertdien al die byeenkomste van Jehovah se volk bygewoon.

Die bestuur van ons inrigting vir gestremdes het groot respek vir my, waarvoor ek baie dankbaar is. My vrou, Lidia, met wie ek al 30 jaar gelukkig getroud is, ondersteun en help my ook, hoewel sy nie my godsdiensoortuiging deel nie. Maar meer as enigiemand anders ondersteun Jehovah my met sy sterk hand en seën hy my op wonderlike maniere. Nie lank gelede nie, op 1 September 1997, is ek as ’n pionier, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, aangestel.

My hart kon al op verskeie kere in my lewe gaan staan het en ek sou gesterf het. Hoe bly is ek tog nou dat dit nie gebeur het nie en dat ek die Bron van lewe, Jehovah God, leer ken en leer liefkry het! Solank my hart nog klop, wil ek voortgaan om hom saam met my geestelike broers en susters regoor die wêreld te dien.

[Prent op bladsy 20]

Saam met my vrou, Lidia

[Prent op bladsy 21]

Ek leer ’n student in ons inrigting vir gestremdes