Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Vaste hoop

’n Vaste hoop

’n Vaste hoop

BYNA 2 000 jaar gelede is Jesus, wat dikwels die grootste mens genoem word wat nog geleef het, ten onregte ter dood veroordeel. Terwyl hy aan ’n folterpaal gehang het, het ’n boosdoener wat langs hom gehang het spottend gesê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons.”

Daarop het ’n ander boosdoener wat ook aan ’n paal genael was die man bestraf: “Vrees jy God glad nie, noudat jy in dieselfde oordeel is? En ons inderdaad tereg, want ons ontvang ten volle wat ons verdien vir dinge wat ons gedoen het; maar hierdie man het niks ongewoons gedoen nie.” Toe het hy na Jesus gedraai en gevra: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.”

Jesus het geantwoord: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:39-43.

’n Wonderlike hoop is voor Jesus gestel. Die apostel Paulus het geskryf oor die uitwerking wat dit op Jesus gehad het, en gesê: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het.”—Hebreërs 12:2.

Ingesluit by “die vreugde” wat Jesus voorgehou is, was dat hy weer by sy Vader in die hemel kon woon en dat hy uiteindelik as Heerser van God se Koninkryk sou dien. Daarbenewens sou hy ook die vreugde hê om sy beproefde en vertroude volgelinge in die hemel te verwelkom wat saam met hom as konings oor die aarde sal regeer (Johannes 14:2, 3; Filippense 2:7-11; Openbaring 20:5, 6). Wat het Jesus dus bedoel toe hy die berouvolle boosdoener belowe het dat hy in die Paradys sou wees?

Watter hoop is daar vir die boosdoener?

Daardie man het nie aan die vereistes voldoen om saam met Jesus in die hemel te regeer nie. Diegene vir wie Jesus gesê het: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk”, het hom nie ingesluit nie (Lukas 22:28, 29). Maar Jesus het belowe dat die boosdoener saam met hom in die Paradys sou wees. Hoe sal daardie belofte vervul word?

Jehovah God het die eerste man en vrou, Adam en Eva, in die Paradys geplaas, ’n tuin van genot wat Eden genoem is (Genesis 2:8, 15). Eden was op die aarde, en dit was God se voorneme dat die hele aarde ’n paradys moet wees. Adam en Eva was egter ongehoorsaam aan God en is uit hulle pragtige tuiste gesit (Genesis 3:23, 24). Maar Jesus het geopenbaar dat die Paradys herstel sou word en dat dit uiteindelik die hele aarde sou insluit.

Toe die apostel Petrus vir Jesus gevra het watter beloning hy en sy medeapostels sal ontvang omdat hulle hom volg, het Jesus belowe: “In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het ook self op twaalf trone sit” (Matteus 19:27, 28). Dit is interessant dat Jesus se woorde in Lukas se verslag van hierdie gesprek aangegee word as “in die komende stelsel van dinge” en nie as “in die herskepping” nie.—Lukas 18:28-30.

Wanneer Jesus Christus dus op sy heerlike troon in die hemel gaan sit, saam met diegene wat saam met hom gaan regeer, sal hy ’n regverdige nuwe stelsel van dinge tot stand bring (2 Timoteus 2:11, 12; Openbaring 5:10; 14:1, 3). Deur middel van Christus se hemelse heerskappy sal God se oorspronklike voorneme dat die hele ’n aarde ’n paradys moet wees, vervul word!

Gedurende hierdie Koninkryksheerskappy sal Jesus sy belofte aan die misdadiger wat langs hom gesterf het, nakom. Hy sal hom opwek, en daardie man sal ’n aardse onderdaan van Jesus word. Dan sal die boosdoener ’n geleentheid kry om aan God se vereistes te voldoen en vir ewig onder die heerskappy van die Koninkryk te lewe. Ons kan ons beslis verheug in die Bybelse vooruitsig op ewige lewe in die Paradys op aarde!

Die lewe kan betekenis hê

Stel jou voor watter betekenis so ’n wonderlike hoop aan ons lewe kan gee. Dit kan ons verstand teen die rampspoedige gevolge van negatiewe denke help beskerm. Die apostel Paulus het hierdie hoop as ’n noodsaaklike deel van die geestelike wapenrusting beskryf. Hy het gesê dat ons “die hoop op redding” “as ’n helm” moet aanhê.—1 Tessalonisense 5:8; Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

Hierdie hoop hou ons aan die lewe. In die komende Paradys sal eensaamheid plek maak vir trane van vreugde wanneer ons geliefdes weer lewend gemaak sal word deur “die God wat die dooies opwek” (2 Korintiërs 1:9). Dan sal die frustrasie van fisiese swakheid, pyn en onbeweeglikheid vergete wees, want “die lamme [sal] spring soos ’n takbok”. ’n Mens se ‘vlees sal frisser word as in die jeug’, en hy sal “terugkeer na die dae van sy jeugdige krag”.—Jesaja 35:6; Job 33:25NW.

Dan, wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”, sal die moedeloosheid wat met ’n langdurige siekte gepaardgaan bloot ’n vae herinnering wees (Jesaja 33:24). Die leegheid wat met chroniese depressie gepaardgaan, sal verander word in “ewige vreugde” (Jesaja 35:10). Die wanhoop wat met ’n dodelike siekte gepaardgaan, sal verdwyn saam met die dood self, die mensdom se oeroue vyand.—1 Korintiërs 15:26.

[Prente op bladsy 8, 9]

Hou die wonderlike hoop van God se nuwe wêreld goed in gedagte