Atene se beroemde verlede en uitdagende toekoms
Atene se beroemde verlede en uitdagende toekoms
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
DIE vliegtuig maak ’n laaste draai voordat dit op die Ateense Internasionale Lughawe land. Ná ’n afwesigheid van twee jaar keer ek terug na die plek wat ek twee dekades lank as my tuiste beskou het. Uit geskiedenisboeke weet ek dat die stad hieronder deur baie beskou word as die plek waar demokrasie gebore is.
Op die grond vind ek dat Griekeland se beroemde en lewendige hoofstad, buiten die geskiedenis, die kuns en die monumente, ook propvol energieke en optimistiese mense is. Ek besef ook dat die stad se vriendelike en glimlaggende inwoners hard werk om hulle stad aan die gang te hou—en veral omdat hulle gereedmaak om die Olimpiese Spele in 2004 aan te bied.
’n Beroemde verlede
Atene is reeds in die 20ste eeu voor Christus gestig en is na die Griekse godin Atena vernoem. Hier kan jy nog in die strate loop waar Sokrates geloop het, of gaan rondloop in die skool waar Aristoteles geleer het, of jy kan na ’n tragedie of komedie gaan kyk wat jou selfondersoek laat doen en wat op die einste verhoë opgevoer word waar Sofokles en Aristofanes hulle toneelstukke geregisseer het.
Atene was een van die eerste Griekse stadstate, en sy roemrykste dae was gedurende sy goue era, in die vyfde eeu v.G.J. Gedurende daardie tydperk het ’n demokratiese Atene ’n belangrike rol gespeel in die Griekse oorwinnings oor Persië en die literêre en kunssentrum van Griekeland geword. Verskeie van sy beroemde argitektoniese monumente is ook omstreeks daardie tyd opgerig—waarvan die pragtige Partenon die bekendste is.
Hoewel die Ateners die juk van die Perse vrygespring het, het hulle later in die hande geval van ’n ou vyand wat nader aan hulle was—Sparta. In die daaropvolgende eeue was Atene ’n onderworpe stad, wat om die beurt deur Masedonië, Rome, Bisantynse keisers in Konstantinopel, Frankiese hertoë van die Kruistogte en die Turke oorheers is. Toe die Grieke in 1829 hulle onafhanklikheid verkry het, het Atene tot ’n
klein provinsiestad met net ’n paar duisend inwoners verval.Hedendaagse werklikhede
Sedert 1834, toe Atene die hoofstad van Griekeland geword het, het die stad baie vinnig gegroei. Die stad beslaan nou sowat 450 vierkante kilometer en strek oor die Attiese vlakte. Sy “vingers” steek die verte in al langs die hange van die berge Parnes, Pendelikón en Hymettus. Die metropolis is die tuiste van meer as vier en ’n half miljoen mense—byna 45 persent van Griekeland se bevolking. Dit is grotendeels sonder beplanning of regulasie gebou. Volgens een skatting is meer as ’n derde van die huise onwettig gebou, en vandag is net ’n klein deel van Atene nie toegebou onder beton nie.
In die meeste van Atene se moderne woonbuurte is die vierkantige huise van gietbeton gebou. Die geboue in die stad is oor die algemeen laag, met ’n antieke pilaar wat hier en daar uitsteek, vol grys neerslag weens besoedeling deur nywerhede en motors.
Soos baie ander moderne metropole vorm rookmis bo Atene. Die rookmiswolk—wat die plaaslike inwoners nefos noem—vorm ’n paar meter bokant die magdom televisie-antennas. Die rookmis vreet die antieke monumente so vinnig weg dat argeoloë al daaraan gedink het om ’n glaskoepel oor die Akropolis te bou. Besoedelingwaarskuwings is algemeen. Wanneer weerstoestande die rookmis tussen die berge rondom Atene vasvang, kan die nefos dodelik vir mense wees. Op sulke dae word privaat motors in die middestad verbied, fabrieke verminder hulle brandstofverbruik, bejaardes word aangeraai om binne te bly en Ateners word gevra om hulle motors by die huis te los.
Oor naweke stroom Ateners uit die stad.
“Spring in jou motor”, sê Vassilis—’n ervare Atener—terwyl hy by een van die kafees stroopsoet, neuterige baklava en ’n koppie bitter koffie geniet. “In net ’n paar uur sal jy in die berge of by die see wees.” Wat hy hiermee bedoel, is dat jy in jou motor kan klim en dan ’n paar uur lank buffer-teen-buffer in die verkeer sit voordat jy uit die stad en in die platteland is.Skoonmaak- en opknappingswerk
Ateners sê egter dat hulle ernstig daaroor is om hulle stad skoon te maak, en hulle het ’n oortuigende rekord om dit te bewys. ’n Groot deel van die stad se handelsentrum is byvoorbeeld vir verkeer gesluit. Voordat hierdie winkelstrate gesluit is, was hulle van die strate met die swaarste verkeer. Motors het teen ’n gemiddelde spoed van vyf kilometer per uur voortbeweeg, die spoed van ’n rustige wandeling. Nou het bome in houers die druk verkeer vervang, en voëlsang het die gewone agtergrondgeluide van krappende ratte en klaende bromponies vervang. Die stad het selfs die tradisionele Mediterreense lewenstyl uitgedaag en werkers gevra om nie meer huis toe te gaan vir ’n siësta nie—’n gewoonte wat prakties gesproke tot nog twee uur spitsverkeer gelei het.
Daar is ’n atmosfeer van versigtige optimisme in die kantoor van Nikos Yatrakos, onderburgemeester van Atene. Toe ek sê dat dit my twee uitputtende ure geneem het om by sy kantoor te kom, het hy met medelye geknik. “Maar moenie vergeet nie”, sê hy gou, “die Olimpiese Spele in 2004 kom binnekort. Ons is daartoe verbind om die stad te verbeter, en ons sal dit doen.” Constantine Bakouris, hooforganiseerder van die spele, sê: “Ons moet die Spele goed [aanbied]. Maar uit ons oogpunt word ons gerig deur die dag daarna. . . . Ons moet dinge doen wat ons weet behoue sal bly.”
Die feit dat Atene die gasheer sal wees vir die Olimpiese Spele in 2004 het tot ongekende bedrywigheid en ontwikkeling aanleiding gegee. Oral is masjiene besig om te grawe sodat die infrastruktuur verbeter en paaie en sportgronde vir die spele gebou kan word. ’n Nuwe 18 kilometer lange verlenging van die moltreinstelsel is byna klaar. As alles volgens plan verloop, sal die eerste vliegtuig in Maart 2001 op Atene se nuwe internasionale lughawe land, ’n lughawe wat al die modernste lughawe in Europa genoem is.
Wat meer is, teen die jaar 2001 sal altesaam 72 kilometer nuwe snelweë gereed wees. Dit
sal verkeer uit die middestad van Atene wegkeer, en dit sal die gebruik van openbare vervoer aanmoedig. Na verwagting sal dit die aantal motors in die middestad met meer as 250 000 per dag verminder en atmosferiese besoedeling met 35 persent laat afneem. Die nuwe program vir die biologiese behandeling van die groter Atene se rioolwater sal ook die kusstreke rondom die hoofstad tot voordeel strek. Die ambisieuse doelwit is om Atene binne ’n paar jaar in ’n nuwe stad te omskep, met ’n verbeterde vervoerstelsel, meer plantegroei en ’n skoner omgewing.’n Buurt van ou Atene
Ten spyte van nuwe kantoorgeboue, gerestoureerde boulevards en fonteine, elegante winkels en woelige strate sal Atene vir baie altyd ’n dorpie bly—spontaan eerder as gedissiplineerd, versplinter eerder as georganiseerd. Die dorpgedeelte van Atene kan in dié dele van die stad gevind word waar huise nog teëldakke en balkonne met ystertraliewerk en potte vol malvas het.
Om daardie Atene te vind, besoek ek die Plaka, die oudste buurt in die stad, wat dig teen die noordelike hange van die Akropolis geleë is. Daar vind ek ’n doolhof van nou, steil, kronkelende strate, versakte huise, wynhuise, rondloperkatte en -honde, koffiehuise en stootkarretjies. Die gebied het nog steeds die luidrugtige, karnavalkarakter van die verlede, wat die toeriste aantrek. Tafels waarvan die een poot soms te kort is, staan saam met kleinerige stoele op die sypaadjies. Die kelners, wat oop spyskaarte vashou, probeer klante nader lok.
Die gedreun van motorfietse oorheers die
musiek van die draaiorrelis. Lang rye pas gelooide leerbeursies hang voor aandenkingswinkels. ’n Menigte marmerskaakstukke wat soos Griekse gode lyk, staan in gevegsformasie, marionette doen volksdanse, windmeulens van keramiek draai in die rondte. Dit is duidelik dat hierdie deel van die stad kwaai weerstand bied teen enige pogings om dit te moderniseer.Atene in die nag—hoe dit lyk en klink
’n Besoek aan Atene sou heeltemal onvolledig wees sonder om die stad se kulturele rykdom te beproef. Vanaand, het ek besluit, gaan ek en my vrou na ’n simfoniekonsert by die gerestoureerde Romeinse amfiteater van Herodes, wat op die suidelike hang van die Akropolis geleë is. Die voetpaadjie tot by die teater is ’n stil, sag verligte paadjie onder die donker skadu’s van dennebome. Die verligte voorkant van okerklippe lyk indrukwekkend deur die bome. Aangesien ons kaartjies vir die boonste ry gekoop het, klim ons met die marmertrappies tot bo en gaan die amfiteater dan deur ’n Romeinse poort binne.
Ons staan ’n oomblik stil om alles in te neem—’n swart, fluweelagtige hemel, ’n maan wat byna vol is agter yl veerwolke en spreiligte, wat die binnekant van die steil, halwe keël in ’n skitterende toneel omskep. Honderde mense—wat klein en ver weg lyk in hierdie reuseteater, wat 5 000 sitplekke het—beweeg al met die konsentriese rye van wit marmer langs om hulle sitplekke te vind. Die sitplekke van klip is nog steeds warm van die son, dieselfde klippe wat millenniums lank al drama en musiek en gelag en applous weerkaats.
Iets wat ook nie oorgeslaan moet word nie, is al die museums in die stad. Die vernaamste is die Nasionale Argeologiese Museum, met sy indrukwekkende en deeglike oorsig van Griekse kuns deur die eeue heen. Ander museums wat die moeite werd is om te besoek, is die Museum van Cikladiese Kuns en die Bisantynse Museum. Sedert 1991 is die Megaron- Ateense Konsertsaal—’n majestueuse marmergebou met buitengewone akoestiek—’n plek waar opera, ballet en klassieke musiek regdeur die jaar opgevoer word. En jy kan natuurlik Griekse volksmusiek in baie van die tradisionele koffiehuise geniet.
Jy is welkom!
Die hedendaagse Atene met ’n beroemde verlede moet die druk van ’n uitdagende toekoms die hoof bied. Maar sy mense het met ’n goeie temperament, vindingrykheid en philotimo—letterlik ’n liefde vir selfrespek—geleer om so goed moontlik aan te pas. Vir die meeste toeriste bly Atene ’n fassinerende stad met kulturele rykdom.
[Kaart op bladsy 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Atene
[Prent op bladsy 14]
Die Partenon, ’n antieke heidense tempel, het as ’n kerk en ’n moskee gedien
[Prent op bladsy 15]
Atene is die tuiste van meer as vier en ’n half miljoen mense
[Prent op bladsy 16]
’n Koffiehuis in die Plaka, die oudste buurt in Atene
[Erkenning]
M. Burgess/H. Armstrong Roberts
[Prent op bladsy 17]
Party aandenkingswinkels het balkonne
[Erkenning]
H. Sutton/H. Armstrong Roberts