Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Noah—He Walked With God—Hoe die video gemaak is

Noah—He Walked With God—Hoe die video gemaak is

Noah—He Walked With God—Hoe die video gemaak is

“HY STAAN soggens op en praat daaroor. Hy kyk drie of vier keer gedurende die dag daarna en weer voordat hy saans gaan slaap.” Waarvan praat hierdie moeder in Kalifornië? Van haar tweejarige seuntjie en sy liefde vir die video Noah—He Walked With God. * Sy voeg by: “Wanneer hy buite speel, het hy sy hamertjie in die hand en vertel hy hoe hy ’n lewensreddende ark gaan bou.”

’n Ander moeder het geskryf: “Ek moet vir julle baie dankie sê vir al die moeite, tyd en liefde wat aan die Noah-video bestee is. Ek het ’n driejarige wat feitlik die hele video gememoriseer het, selfs die byklanke! Dit is sy geliefkoosde video, en hy vra elke dag om daarna te kyk, twee of drie keer per dag.”

’n Dogtertjie, Danielle, het geskryf: “Ek hou daarvan, en ek wil ook die dinge doen wat Noag gedoen het. Ek hoop julle maak nog video’s vir kinders.”

Dit neem natuurlik tyd om Bybelvideo’s te maak. Waarom is dit die geval?

Hoe is die Noah-video gemaak?

Lank voordat enige toneel verfilm of enige prente geteken is, het ’n teksskrywer ’n storielyn geskryf wat op die Bybelverslag gebaseer is. Dit het uiteindelik ’n strokiesprent en daarna ’n geskrewe teks geword. ’n Strokiesprent is ’n reeks klein, ruwe sketse wat kunstenaars help om die opeenvolging en ontwerp van ’n verhaal vas te stel. Verskeie mense, insluitende die kunstenaars, het bespreek hoe die geskiedenis van Noag geïllustreer kon word—in watter gedeeltes akteurs gebruik sou word en watter dele beter deur kunswerk voorgestel sou word. Opgevoerde tonele help om die werklikheid van ’n verslag in ’n kind se verstand in te prent. Dit toon dat die Bybel van werklike mense praat wat Jehovah duisende jare gelede gedien het. Wat sou die volgende stap in die vervaardiging wees?

Spelers is gekies om die rolle van Noag en sy gesin te speel. Hulle kostuums is ontwerp, en daar is op ’n kleurskema vir elke toneel besluit. Dit was alles nodig omdat die kunstenaars nie vir Noag en sy vrou en seuns en skoondogters kon teken en skilder voordat hulle geweet het hoe die akteurs in hulle kostuums lyk nie. Die tekeninge moes met die opgevoerde tonele ooreenstem. Maar waar sou hierdie tonele verfilm word?

Denemarke is gekies, aangesien die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in daardie land bekwame rekwisietebouers het en genoeg fabrieksruimte beskikbaar het vir tonele wat binnenshuis geskiet moes word. ’n Filmspan het van die Wagtoring-onderrigsentrum se Oudio/Video-diensteafdeling in Patterson, New York, gegaan om die verfilming te doen, en Deense personeel het hulle ook daarmee gehelp. Die verhaal word deur ’n verteller vertel. Gevolglik was dit baie makliker om die program in ander tale te vervaardig omdat die moeilike stap van oorklanking, naamlik om ’n gesinchroniseerde vertaling van die dialoog in te voeg, uitgeskakel is. Maar hoe is die moeilike kunswerk voorberei?

Kuns en ’n spesiale kamera

Kunstenaars het honderde waterverftekeninge voorberei wat gebaseer was op die strokiesprente wat die tekenspan gemaak het. Hierdie tekeninge was nie noodwendig vierkantig of reghoekig nie. Soms was dit gerond of ovaalvormig, na gelang van die hoek waaruit dit verfilm sou word. Nie een van die tekeninge was groter as 56 sentimeter by 76 sentimeter nie, en die meeste was maar net 28 sentimeter by 38 sentimeter.

’n Spesiale kamera was nodig om die tekeninge te verfilm. Die kunswerk is in drie vlakke opgestel—voorgrond, middelgrond en agtergrond—sodat ’n driedimensionele indruk geskep kon word. Op hierdie manier kon tonele deur bome, tussen die bene van ’n olifant of deur iets anders geskiet word om diepte te skep. Die kamera is deur ’n rekenaar beheer en kon panoramiese skote van ’n toneel skiet of daarop inzoem om spesiale effekte te verkry. Dit kan die indruk skep dat die toneel beweeg wanneer dit eintlik net die kamera is wat beweeg.

Aangesien die Wagtoringgenootskap nie die vaardighede of die middele het om ware animasie te doen nie, is die benadering om gemengde media te gebruik deur opgevoerde tonele saam met tekeninge in te span ’n goeie alternatief. Kinders in die ouderdomsgroep van 3 tot 12 jaar, vir wie die video ontwerp is, het hierdie metode geniet. En die video wys duidelik op baie lesse wat uit Noag se voorbeeld geleer kan word. Daarbenewens help die vrae op die video-omslag ouers om die hoofpunte van die verhaal met hulle kinders te hersien.

Ander spesiale effekte, soos die reën wat met die Vloed al hoe harder geval het, is deur rekenaartegnologie gedoen. Dit is maklik om te sien dat baie tyd en skeppende werk in die vervaardiging van die Noah-video gegaan het.

Aangesien Bybelverslae nie verander nie, sal die video Noah—He Walked With God altyd aktueel wees en sal dit kan help om elke nuwe geslag kinders te leer. Kinders en ouers het honderde briewe van waardering geskryf en gevra dat meer video’s gemaak word. Een persoon het geskryf: “Ek is 50 jaar oud en het my kinders lank gelede grootgemaak. Maar ek dink dat dit ’n waardevolle middel sal wees as hedendaagse ouers met jong kinders ’n video-biblioteek met Bybelverhale het.”

[Voetnoot]

^ par. 2 Hierdie video is in 1997 vrygestel en is vertaal in Albanees, Chinees, Deens, Fins, Frans, Grieks, Hongaars, Italiaans, Japannees, Koreaans, Kroaties, Letties, Nederlands, Noors, Portugees, Serwies, Slowaaks, Spaans, Sweeds, Thai en Tsjeggies. Meer tale word beplan.

[Diagram/Prente op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die spesiale kamera verfilm terwyl dit beweeg, wat die kunswerk laat lewe

[Prente op bladsy 22, 23]

Die vervaardiging het met die strokiesprent begin

[Prente op bladsy 23]

Die meeste opgevoerde tonele is in Denemarke verfilm

[Prente op bladsy 24, 25]

Kunstenaars het 230 verskillende tonele geteken en geskilder

[Prente op bladsy 25]

Rekenaarredigering, spesiale effekte, vertelling, musiek en klank het die video afgerond